Gepubliseer op: 23 Januarie 2025
Geskryf deur Santie Louw, ʼn dosent in Professionele Studies en kenner in Wiskunde-onderwys by Akademia.
Die 2025-skooljaar is in volle swang en vir duisende matrikulante van dwarsoor die land lê ʼn baie belangrike laaste fase in hul skoolloopbaan voor. Indien jy jouself in dié groep bevind, hoop ek jy het goed uitgerus ná die vakansie, want oor minder as ʼn jaar sal jy in twee wiskundevraestelle moet rekenskap gee van ou én nuwe vaardighede. Om dié rede wil ek jou aanmoedig om planmatig voor te berei vir die jaar wat voorlê en die eindeksamen wat op jou wag.
ʼn Jaar tot en met die wiskunde-eindeksamen
Soos die spreekwoordelike kat in die lawwe liedjie, Die kat kom weer, moet jy besef dat jy tydens die eksamen wéér met graad 11 se inhoud gekonfronteer gaan word. Begin daarom deur ʼn deeglike voorbereidingsplan vir jouself op te stel. Die volgende oorwegings kan in dié verband help:
Enige nutsman sal vir jou kan sê dat ʼn goed toegeruste gereedskapskassie die werk aansienlik vergemaklik. Om die waarheid te sê, as hy iets moet afsaag en daar is nie ʼn saag in sy gereedskapskas nie, is dit onmoontlik om die taak op hande aan te pak. Net só is daar kennis en basiese vaardighede wat jy móét hê om ʼn wiskundeprobleem aan te pak. Jou gereedskapskassie kan die vorm van ʼn notaboek aanneem, ʼn lêer of ʼn liasseerkassie met kaartjies. Die soort inligting wat jy graag wil vaspen is byvoorbeeld die sinus-, kosinus- en oppervlaktereëls in driehoeksmeting: Hoe lees die reël? Waarvoor staan die onbekendes? In watter situasie sal elke reël die beste opsie wees? Hoe lyk ʼn tipiese voorbeeld van die toepassing van dié reël? Elke keer wanneer jy in 2025 vir ʼn assessering voorberei, sal jy jouself gelukwens met sulke deeglike notas.
Die grootste faktor in die ontwikkeling van wiskundevaardighede is gereelde oefening. Wiskunde is ʼn jaloerse metgesel wat verwag dat jy gereeld tyd daarmee spandeer. Indien nie, kan dit jou onverwags in die steek laat. As jy vanuit die staanspoor gereelde studie saam met ʼn maat skeduleer, kan julle mekaar verantwoordbaar hou vir die doen van huiswerk, take en die voorbereiding vir assesserings. Julle kan elektronies ontmoet of ʼn vaste koffie-afspraak in ʼn koffiewinkel reël. Onthou net dat julle elk julle eie werk moet skep en ingee, al dink julle saam daaroor na. Stuur sommer nou vir iemand ʼn boodskap en begin beplan.
Vergeet hierdie jaar van allerhande voornemens en besluit liewer dat jy met toewyding gaan werk aan ʼn sterk jaarpunt. Hierdie punt word tot jou voordeel gebruik om jou finale uitslag te steun – jy werk dus alreeds aan daardie simbool wat jy as doel gestel het. Die ander voordeel is dat jy met hierdie voorneme gereeld jou kennis en vaardighede met erns hersien sodat jy sterker en sterker word vir daardie finale vraestelle.
Kyk wéér na jou werk in 2024 se eindeksamen. Sonder uitsondering word al daardie inhoude weer in graad 12 gebruik, uitgebou en geassesseer. Jy sal vind dat jy heelwat daarvan reeds vergeet het – dis ʼn normale feit van hoe die brein werk. Gaan verfris jou kennis en verbeter op die foute wat jy gemaak het. Maak sommer terselfdertyd ʼn paar stukkies “gereedskap” bymekaar vir jou gereedskapkassie.
ʼn Maand voor die eindeksamen
Die kalf is in die put. Die proefeksamen is verby en jy weet nou waar jy staan met elk van jou vakke. Is jy tevrede met jou wiskundepunt of wens jy dat dit hoër was? Hier is goeie nuus: As jy in hierdie laaste maand voor die eindeksamen tien vorige vraestel 1- en tien vorige vraestel 2-vraestelle kan uitwerk, kan jy jou simbool met een of twee kerfies opskuif. Dit verg egter vasberadenheid en toewyding, en een tot twee ure per dag vir dertig dae. Hiermee ʼn paar riglyne om jou by te staan:
Neem kopieë van vorige vraestelle na jou wiskundeonderwyser en vra dat hy/sy jou sal help om die vlak 3- en 4-vrae te identifiseer. As jy mik vir 50%, laat daardie vrae vir eers uit. Dit gaan jou moedeloos maak as jy daarmee worstel terwyl jou basiese vaardighede werk nodig het. Jy kan altyd later terugkeer na die moeiliker vrae. As jy werk vir ʼn onderskeiding, doen slégs daardie vrae. Jou basiese wiskunde is waarskynlik goed ingeoefen en jy hoef nie kosbare tyd daaraan te spandeer nie. Stel jouself liewer aan soveel hoëvlakvrae bloot as wat jy kan.
Kry ʼn kopie van die inligtingsblad wat jy in die finale eksamen saam met die vraestel gaan kry. Bestudeer elke formule op die blad en vra die volgende vrae: Waarvoor word hierdie formule gebruik? Wat is die beperkinge van die formule? Waarvoor staan elk van die veranderlikes? Vra dan ook: Watter belangrike formules is nie op hierdie blad nie? Maak notas wat jy kort voor die eksamen kan memoriseer.
Dit is dalk ʼn goeie idee om saam met jou onderwyser na jou antwoordstelle te kyk. Jou onderwyser sal dadelik vir jou kan sê of die fout die gevolg was van nalatigheid of ʼn diepliggende konseptuele wanbegrip, of ʼn gebrek aan kennis. ʼn Ervare tutor sal ook hiermee kan help. Maak egter seker dat jy self elke dag oefen: ʼn tutor kan jou begelei, maar talle matrieks maak die fout om ʼn dink dat ʼn tutor op hierdie stadium die wa deur die drif kan trek. In die eksamenlokaal is jy alleen – maak seker dat jy onafhanklik kan dink en werk.
Teen hierdie tyd is jou sakrekenaar dalk al oud. Reël betyds dat jy ʼn identiese model by ʼn jonger maat kan leen om saam te neem vir ingeval dit oppak. Oefen ook om die meer ingewikkelde berekeninge foutloos uit te voer, soos byvoorbeeld die berekening van statistiese waardes in die STAT-modus. Wanneer mens onder druk moet werk, kan mens maklik deurmekaar raak oor wáár die funksies nou weer op die sakrekenaar te vinde is.
Die eindeksamen gaan fisies ook baie van jou verg. Maak seker dat jy gesond eet, baie water drink en gereeld oefen. Dis dalk ook ʼn goeie idee om ʼn vitamienaanvulling te neem om jou gestel sterk te maak – bespreek dit met jou dokter.
ʼn Dag voor jy die eindeksamenvraestel skryf
Hoe gebruik mens die dag voordat jy wiskunde skryf? Voordat ek vir jou raad gee oor wat jy kan doen, is daar één ding wat jy beslis nie moet doen nie: Moet onder geen omstandighede nuwe, ongesiene vrae aanpak nie. Aangesien daar so min tyd oor is, kan dit gebeur dat jy ʼn vraag vind wat jy nie kan oplos nie, en dan niemand op kort kennisgewing kan opspoor om jou te help nie. Jou selfvertroue is dan aan skerwe. Een of twee ekstra vrae gaan nie eintlik bydra tot jou sukses nie. Dit is veel beter om die dag voor jy skryf só te gebruik:
ʼn Histeriese klasmaat kan jou onnodig bang praat, of jou blootstel aan ʼn moeilike vraag wat jy in elk geval nie in die eksamen gaan kry nie. Op hierdie dag moet jy werk aan die verlaging van eksamenspanning. Kyk liewer (vir ʼn blaaskans tussen studie) ʼn komedie wat jou hard en lekker laat lag terwyl jy vars, gesonde versnaperinge eet en water drink.
Gebruik die dag om die bewyse van stellings, formules en strategieë te memoriseer. Die hoeveelheid leerwerk in wiskunde word gereeld onderskat en die dag voor jy skryf, is die ideale tyd om inhoude te memoriseer. Skryf feite en bewyse rustig ʼn paar keer uit sodat jy dit onthou. Maak seker dat jy weet waarvoor die formules op die inligtingblad gebruik word. Leer die formules wat nie op die inligtingblad verskyn nie. Onder eksamendruk is leerders ook byvoorbeeld geneig om die formules vir die omtrek en oppervlakte van sirkels te verwar.
Besluit vooraf hoe jy die vraestel gaan benader. Lees die hele vraestel sorgvuldig deur voordat jy begin. Onthou dat jy ʼn sekere aantal punte kan verloor en nog steeds jou doelwit bereik. As jy byvoorbeeld werk vir 70%, kan jy bekostig om 45 van die 150 punte te verloor. Daar is dus nie rede om angstig te raak as jy vrae teëkom wat jy nie dadelik kan beantwoord nie. Bereken vooraf hoeveel punte jy het om met veiligheid te verloor. Sou jy angstig raak, berei asemhalingsoefeninge voor wat jou kan help om te ontspan. Neem jou voor om al die stappe in berekeninge neer te skryf. Die stappe is nie net punte werd nie, maar dit gaan jou help om jou antwoorde vinnig na te gaan vir onnodige foute.
Dit is uiters belangrik dat jy lekker slaap sodat jy vars en uitgerus is wanneer jy begin skryf. Wanneer jy opstaan, eet ʼn hoëproteïenontbyt wat stadig energie beskikbaar sal stel terwyl jy vir drie ure skryf.
Alles van die beste vir die jaar wat vir jou voorlê! Mag jy waarde put uit bogenoemde voorstelle en mag jy aan die einde van jou matriekjaar terugkyk op ʼn sinvolle afsluiting van jou skoolloopbaan en terselfdertyd die goeie resultate vier waarvoor jy só hard gewerk het.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.