Search
Close this search box.

Matriekresultate spreek tot méér as net akademiese prestasie – Akademia-kundige

Gepubliseer op: 14 Januarie 2025

Geskryf deur dr. Chris-Mari Le Hanie, ʼn dosent in Opvoedkundestudies aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.

Die bekendmaking van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamenuitslae verteenwoordig ʼn gróót en belangrike mylpaal in enige matrikulant se skoolloopbaan. Hierdie uitslae dien egter nie nét as ʼn maatstaf van individuele skolastiese sukses nie, maar óók as ʼn wipmat na lewenslange leer, aktiewe burgerskap en karakterontwikkeling. In die lig hiervan, is dit nodig om juis op die samehang wat daar tussen akademiese prestasie, persoonlike groei en gemeenskapsbetrokkenheid bestaan te fokus.

Onderwys, in sy kern, gaan immers oor méér as net die oordrag van kennis. As ʼn vormingsinstrument word die beginsel van respek vir ander, ʼn sin vir regverdigheid, oop en onafhanklike denke én ʼn waardering vir die skone, die goeie en die ware bevorder.

ʼn Skoolverlater se perspektief op sy/haar eindresultate

Die NNS-uitslae spreek, soos vroeër vermeld, nie net tot akademiese vermoë nie, maar ook tot ʼn skoolverlater se karakter en lewenshouding.

Die eksamenervaring ontsluit waardevolle lesse vir beide matrikulante wat hul akademiese prestasiedoelwitte behaal het én diegene wat nie hul verwagte resultate behaal het nie. Leerders kan daarvan getuig dat hul hantering van uitdagings van welke aard ook al, tot hul karaktervorming bygedra het. Gevolglik gaan dit vir hulle noodsaaklik wees om voort te gaan om praktiese stappe te prioritiseer (soos wat hul tydens hul skoolloopbaan gedoen het) met die oog op hul nuwe toekomsreis. Dit sluit onder meer in die ontwikkeling van nuwe strategieë en doelwitte, mentorskap, en verdere studie- of loopbaanopsies. Deur hierdie lesse te omarm, word dit duidelik dat akademiese uitslae nie die einddoel is nie, maar eerder ʼn geleentheid vir nuwe en groter moontlikhede.

Die toekoms bly elke skoolverlater se kosbaarste en waardevolste bate en dit is belangrik om pro-aktief positiewe aksies te onderneem om hierdie bate te koester.

Karakterontwikkeling en die rol van ʼn skoolverlater se ondersteuningsnetwerk

Karakterontwikkeling, net soos akademiese vorming, geskied nie in isolasie nie. Die rol en ondersteuning van ouers, onderwysers én die breë gemeenskap moet ten alle tye voor oë gehou word.

Ouerleiding en ondersteuning

Ouers speel ʼn onmisbare rol in hul kinders se sukses veral deur oop en betekenisvolle gesprekke oor die waarde van onderwys in die karakterontwikkelingsproses te voer. Hierdie gesprekke beklemtoon aspekte soos respek, regverdigheid en onafhanklike denke asook die noodsaaklikheid van ʼn holistiese lewensbenadering en lê die grondslag vir balans en groei.

By wyse van deurlopende ondersteuning, belangstelling en leiding rus ouers hul skoolgaande kinders toe om met selfvertroue en veerkragtigheid hul volwaardige plek in die wêreld te vind. Laasgenoemde is kardinaal vir ʼn skoolverlater wat sy/haar toekoms tegemoet stap.

Daar is verskeie maniere waarop ouers gestalte aan hierdie ondersteuningstaak kan gee:

  • Vestig gesonde roetines wat onder meer effektiewe tydsbestuur en die strewe na balans insluit.
  • Moedig doelwitstelling aan en help jou kinders om realisties vir hul toekoms te beplan.
  • Bied emosionele ondersteuning deur erkenning te gee aan prestasies, maar ook om gerusstelling en leiding te bied wanneer uitdagings ervaar word.
  • Fasiliteer toegang tot hulpbronne soos mentorskap, loopbaanvoorligting, en inligting rakende verdere opleiding- of studiegeleenthede.
  • Stel ʼn goeie voorbeeld wat spreek tot die waarde van lewenslange leer en selfverbetering.

Onderwysers as vormingsagente

Onderwysers, as fasiliteerders van leer, speel ʼn sleutelrol in die holistiese ontwikkeling van leerders.

As vormingsagente behoort kritiese selfrefleksie oor individuele onderrigpraktyke tesame met die aktiewe aanmoediging van ʼn gees van leergierigheid by leerders onontbeerlik te wees. ʼn Geïntegreerde benadering wat interdissiplinêre leer bevorder rus leerders vroeg reeds toe om die veranderende wêreld met insig, nuuskierigheid en ʼn dieper begrip te benader – vaardighede wat van kritiese belang is vir ʼn skoolverlater.

Leerervarings binne die breër gemeenskap

Die breër gemeenskap het die verantwoordelikheid om ruimtes en geleenthede te skep vir praktiese leerervarings wat leerders in staat stel om hul unieke vermoëns te ontwikkel en as aktiewe burgers by te dra. Deur mentorskap en ondersteuning te bied, help die gemeenskap om ʼn gevoel van samehang en geloof in die potensiaal van jongmense te bevorder.

In praktyk lê die waarde van die NSS-uitslae daarin dat dit binne die gemeenskapsmilieu die tafel dek vir steeds verdere groei en ontwikkeling. Hierdie vorming sal uiteindelik gedy in en betekenisvolle deelname aan die gemeenskap en groter samelewing.

Akademia, as ʼn hoëronderwysinstelling vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe, wens die 2024-matrikulante hartlik geluk met hul prestasies en die vorming wat hulle reeds ervaar het. Mag hierdie mylpaal die begin wees van ʼn reis na uitnemendheid en die bereiking van elkeen se volle potensiaal.

Dr. Chris-Mari Le Hanie, ʼn dosent in Opvoedkundestudies aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, meen die matriekeindeksamenresultate spreek tot méér as net akademiese prestasie. Volgens haar dui dit ook op karakterontwikkeling en ʼn toekomsingesteldheid.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.