Gepubliseer op: 15 November 2024
Geskryf deur dr. Sandra Adendorff, dosent in Ekonomie en Finansiële Wetenskappe by Akademia.
Dit is Novembermaand en heerlike somer in Suid-Afrika … of is dit? Plek-plek styg die kwik wel tot in die rooi, maar elders word sneeuval verwag! Op ’n soortgelyke wyse blyk die plaaslike ekonomie óók deur wisselende seisoene gekenmerk wat, simbolies gesproke, óf ʼn blomtyd óf algehele stagnasie tot gevolg het. Enige tuinboukundige sal vir jou kan sê dat jy jou hele grasperk deeglik moet ondersoek as daar dooie kolle voorkom, en daar waar die gras dood is, moet dit uitgehaal word en met nuwe gras beplant word. Hierdie logika is ook waar as dit by die ekonomie kom.
Wat die Suid-Afrikaanse ekonomie betref, verkeer die land tans in ’n Regering van Nasionale Eenheid (RNE)-forie, net soos die geval destyds was met die aanstelling van president Cyril Ramaphosa. Dié wittebroodfase en gepaardgaande euforie is egter verby, en daar moet nou hard aan die RNE gewerk word. Iets wat ook nie uit die oog verloor moet word nie, is die feit dat bestaande beleide eers deeglik hersien en besin moet word alvorens daar met nuwe en alternatiewe voorstelle na die tafel gekom kan word. Onthou, ’n verdorde grasperk kan ná die winter en met goeie sorg weer ’n lus vir die oog word.
Die stand van die ekonomie
Die land verkeer tans aan die onderste punt van die besigheidsiklus, oftewel die konjunktuur. Laasgenoemde verteenwoordig wêreldwyd ’n uitdaging, omdat dit baie moeilik is om ’ ekonomie by hierdie onderste draaipunt te stimuleer.
Die plaaslike ekonomie het egter, gedagtig aan ’n nuwe seisoen, ’n oplewing beleef en het gedurende die eerste kwartaal vanaf ’n inkrimping van 0,1% effens gegroei teen 0,4%. Daar word voorts voorsien dat die ekonomie teen 1,1% sal groei in 2024 en teen 1,8% in 2025. Indien ons egter na die groei in die Suid-Afrikaanse bevolking van 63 miljoen mense kyk, wat met 1,3% toegeneem het, is dié voorspelde ekonomiese groei heeltemal te min om aan almal se behoeftes te kan voorsien.
Nóg ʼn spreekwoordelike botsel in die ekonomietuin is dié van die langtermyngroeikoers wat tans op 2% gereken word. Hierdie koers is egter onderhewig aan die optimale bestuur van al die land se strukturele hindernisse en ’n gepaardgaande algehele verbetering in investering. Aan die aanbodkant van die ekonomie word strukturele probleme soos kragvoorsiening opgelos deur investering in hernubare energie en gevolglik is ons alreeds vir meer as 200 dae vrygeskeld van beurtkrag. ’n Merkwaardige prestasie wat ongelukkig geneutraliseer word belaglike hoë elektrisiteitstariewe wat inflasionisties van aard is. ’n Bykomende uitdaging is die huidige besproeiingsprobleem en gepaardgaande waterkrisis wat direk tot die land se voedselsekerheid spreek.
Die hoop beskaam egter nie en danksy Operasie Vulindlela, wat dit ten doel het om strukturele bottelnekke uit die weg te ruim, kan dié blomtyd vir die ekonomie voortduur. Om te soek na oplossings vir logistieke uitdagings, soos vervoer en die hawebedryf, asook die toenemende betrokkenheid van die privaat sektor kan verder tot hierdie bloeitydperk bydra.
Begroting en beleidsake
Vanweë swak ekonomiese groei word die bogenoemde ekonomietuin egter ál kleiner en dreig onkruid, soos hoë staatskuld, om oor te neem. Fiskale beleid veronderstel die behoorlike aanwending van belastinginkomste om sekere belangrike funksies en dienste aan die publiek te bied. Hierdie beleide rig ons land én ekonomie, maar die effektiwiteit daarvan in praktyk is allermins optimaal.
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het onlangs sy mediumtermynbegrotingsraamwerk of minibegroting gelewer wat die regering van nasionale eenheid (RNE) se inkomste en bestedingsplanne vir die volgende drie jaar uiteensit. Hierdie begroting gee ’n aanduiding van wat ons vir die nabye toekoms te wagte kan wees.
Dit is belangrik om te besef dat Suid-Afrika se staatsuitgawes kronies meer is as die inkomste wat gegenereer word en daarom is ’n (wesenlike) tekort op die kaarte. Alhoewel dit verkondig word dat die tesourie oor ’n primêre surplus beskik, word die skulddienskoste – die grootste uitgawe in die begroting – weggelaat in hul ontleding. Die gevolg is dat hierdie tegniese surplus nie veel vir Jan Publiek beteken nie, aangesien dit ’n vermorsing van belangrike ekonomiese bronne is wat elders meer effektief aangewend behoort te word. Hierdie tekort val in die poel van al groter wordende staatskuld.
Staatskuld as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) is tans 74% en die verwagting onder sekere ekonome is dat dit soveel as 75,5% van die BBP kan beloop in 2025/26. Anders gestel: dit word geïmpliseer dat daar vir elke rand se inkomste wat die regering vanjaar insamel, 22 sent aan skulddienskoste betaal sal word.
Hiermee ’n berekening van hoe hierdie skulddienskoste die ekonomie in die volgende finansiële termyne gaan beïnvloed:
R (miljard) | 2024/25 | 2025/26-2027/28 |
Inkomste | 1,797.4 | 6,205 |
Besteding: Totaal | 2,153.0 | 7,182.9 |
Besteding: Skulddienskoste | 388.9 | 1,340.5 |
Besteding: Nie-rentedraend nie | 1,764.0 | 5,842.4 |
Begrotingstekort | -355.6 | -977.9 |
Primêre tekort | 33.2 | 362.0 |
Hoe kan ons die Suid-Afrikaanse ekonomie bou?
Die antwoord is eenvoudig: verminder uitgawes en vermeerder inkomste en verlig só die druk op die groeiende staatskuldlas.
Om inkomste te vermeerder moet al die oneffektiewe staatsondernemings verkoop word. Wanneer laas het jy by ’n poskantoor aangedoen? Die feit van die saak is dat dié staatsonderneming nie meer benodig word nie. In die tweede plek moet die privaat sektor se betrokkenheid oor alle fronte verhoog. In die derde plek moet oplossings vir die verkrummeldende infrastruktuur gesoek word terwyl monopolistiese en mafiapraktyke indringend aandag moet geniet.
Weens swak ekonomiese groei is die vordering van belastinginkomste onder druk en private inkomstebelasting op ’n maksimum. Dit is kommerwekkend, want laasgenoemde is steeds die staatskas se hoofbron van inkomste (35%) en belastingvermydingspraktyke is aan die orde van die dag. Hierbenewens is daar ook ’n sterk uittog van belastingbetalers te bespeur.
Suid-Afrika is steeds op die internasionale gryslys. Die sentiment jeens ons land het wel verbeter en die risikopremie het ietwat verlaag, maar ongelukkig word baie beleggers weerhou om in ’n land te investeer wat op die gryslys is.
Dit bly belangrik dat die RNE werk maak van die sukkelende ekonomie. Alhoewel die minister melding maak van investering en inisiatiewe om die bestaande strukturele probleme op te los bly besteding slegs sosiaal-maatskaplik van aard terwyl rentekoste en salarisse aan staatsamptenare die grootste deel van die begroting in beslag neem.
Uiteindelik pleit elke Suid-Afrikaner vir ekonomiese groei, die daadwerklike oplos van armoede en werkloosheid, en die verwydering van strukturele hindernisse wat investering, uitvoere en ekonomiese groei na behore sal stimuleer. Indien hierdie groei gepaard gaan met die bekamping van misdaad kan ons na ’n heerlike ekonomiese somer uitsien en ’n toekoms betree waar daar optimaal vir die nageslag gebou en voorsien kan word.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.