Search
Close this search box.

Ondersteuning vir onderwysers begin by die gemeenskap – Akademia-kundiges

Gepubliseer op: 12 November 2024

Geskryf deur Monique Alberts, Nadia Herbst, Marnelda de Beer en Mariaan Oshman, dosente verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.

Onderwysers bou aktief aan die toekoms en hul sukses is direk afhanklik van die ondersteuning wat hulle van hul gemeenskappe, waaronder opleidingsinstellings en beleidsowerhede ingereken word, ontvang. Wanneer hierdie onderskraging ook hul fisiese en geestelike welstand prioritiseer, word onderwys as ’n roepingstaak met oorgawe en veerkragtigheid vervul.

Dit is egter geen geheim dat dit nié goed gaan met Suid-Afrikaanse onderwysers óf hul geestesgesondheid nie. Hierdie realiteit kan onder meer toegeskryf word aan oorweldigende en onrealistiese verwagtinge, hoë werksladings, oorvol klasse, gebrekkige dissipline, ’n tekort aan hulpbronne en ’n bykomende bekommernis oor professionele ontwikkeling.

’n Onlangse behoeftebepaling deur die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het getoon dat 84% van die deelnemende 1 722 onderwysers om berading en verdere bystand met hul geestesgesondheid vra. ’n Totaal van 55% meen hulle voer ’n daaglikse stryd teen angs en depressie. Die deelnemers het voorts deur die bank gevoel dat hul welstand en vermoë om hul kernverantwoordelikhede effektief uit te voer negatief beïnvloed word as gevolg van hierdie realiteit.

Die omvang van hierdie probleem word ook internasionaal bespeur. ’n Soortgelyke opname in die Verenigde Koninkryk het so vroeg as 2022 bevind dat 78% van deelnemende onderwysers met ’n geestesgesondheidstoestand worstel.

Die hartseer nagevolg is dat dié stand van sake daartoe bydra dat toegewyde onderwysers die beroep op ʼn vroeë ouderdom verlaat. Laasgenoemde raak leerders negatief en só word ’n kringloop van ongelukkigheid in beweging gestel wat die gevaarligte vir die onderwyssektor laat flits.

Onderwys bly ’n roepingstaak, ten spyte van die uitdagings

In die lig hiervan is dit belangrik om ’n tree terug te gee, en bestekopname te neem oor waarom soveel mense hulself steeds tot die onderwys verbind. Dit is juis dié roeping en gepaardgaande passie wat onderwysers motiveer om ’n verskil in die lewens van jongmense te maak. Roepingsgedrewe onderwys is ’n onderwysbenadering wat erken dat élke leerder gebore is met ’n unieke doel en besonderse talente.

Hierdie benadering strek voorts verby die tradisionele siening van onderwys as blote kennisoordrag. Dit omhels die taak om elke leerder te help om hul Godgegewe potensiaal ten volle te ontwikkel deur te fokus op ’n holistiese benadering. Die krag van hierdie denkwyse lê opgesluit in die erkentenis dat onderwysers die rol van mentors aanneem wat leerders help om hul passies en talente te ontdek en te ontwikkel. Deur hierdie begeleiding help hulle nie net om jong lewens te vorm nie, maar bou hulle ook aan ’n beter toekoms vir ons land. Selfs die mees toegewyde en passievolle onderwysers kan egter nie hul roeping in isolasie uitleef nie; hulle het ondersteuning nodig vanuit verskillende oorde. Hierdie ondersteuningsnetwerk sluit onder meer die Departement van Basiese Onderwys, die skoolbestuur, ouers en die breë gemeenskap in.

’n Daadwerklike ingryping is nodig

Behalwe vir morele en emosionele ondersteuning, benodig onderwysers ook ’n daadwerklike verbetering in hul huidige werksomstandighede. Die regering, in samewerking met skoolbestuurstrukture, moet in hierdie opsig onder meer verseker dat:

  • onderwysers billik vergoed word,
  • aanvaarbare werksure toegedeel word,
  • onderwysers met die waardigheid geag word wat hulle as professionele onderwyslui toekom, en
  • beskerming gebied word teen enige vorm van fisiese of emosionele mishandeling en boeliegedrag.

Die Personeel Administratiewe Maatreëls (PAM)-dokument behoort dienooreenkomstig hersien te word om hierdie noodsaaklike veranderinge te reflekteer. Die aangepaste PAM-dokument sal help om te verseker dat onderwysers nie oorweldig word deur onrealistiese skedules wat ’n negatiewe impak op hul geestesgesondheid kan hê nie.

Hierbenewens moet daar ook formele stappe geneem word om onderwysers aan te moedig en te ondersteun veral ten opsigte van hul voortgesette professionele ontwikkeling. Opleidingsgeleenthede en toegang tot hulpbronne behoort geprioritiseer te word om onderwysers toe te rus om uitdagings innoverend en doelgerig die hoof te bied. Hierdie veranderinge en aanpassings moet as ’n belegging in die toekoms van onderwys gesien word, wat tot die algehele verbeterde stand van die jeug, die gemeenskap en uiteindelik die land sal bydra. 

Praktiese oorwegings

Onderwysers wat hulself midde hierdie realiteit van angs en uitbranding bevind, moet ondersteun word in hul reis na verbeterde geestesgesondheid. Behalwe vir bogenoemde voorstelle, kan hulle op ’n meer persoonlike vlak die volgende praktiese oorwegings toepas:

  • Vra vroegtydig om hulp
  • Prioritiseer jou eie geestesgesondheid deur duidelike persoonlike grense te stel
  • Stel werksgrense waarby leerders en hul ouers moet hou ten einde ’n balans te vind tussen werksverpligtinge en jou privaatlewe
  • Vind ’n tydverdryf, soos ’n stokperdjie, wat jou help om te ontspan
  • Bewustheidsoefeninge en gesonde slaappatrone kan help om kalmte te bevorder
  • ’n Gebalanseerde dieet en gereelde fisiese aktiwiteit sal tot jou algemene welstand bydra
  • Benut bewese klaskamerbestuursvaardighede en vroeë beplanning om stres te help verlig

Onderwysers wat versterk word in hul roeping, is beter toegerus om die eise van hul beroep te hanteer en om die ware, die goeie en die skone in hul leerders se lewens te kweek. Hierdie waardes vorm die kern van ware opvoeding en is die pilare waarop diepgaande, positiewe veranderinge in ons samelewing berus. Rentmeesterskap, as een van Akademia se waardes, is in hierdie verband nie net ’n ideaal nie; dit is ’n lewensnoodsaaklike verantwoordelikheid. Om vir onderwysers die nodige gereedskap, ondersteuning en vryheid te bied om hul roeping ten volle uit te lééf, is om by te dra tot ’n toekoms waar jongmense volledig gevorm word. Hierdie volhoubare benadering tot onderwys is die sleutel tot ’n blywende impak op ons gemeenskappe en nasie, en ’n hoopvolle toekoms vir almal.

Personeel verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, Mariaan Oshman, Marnelda de Beer, Monique Alberts en Nadia Herbst meen dat die gemeenskap ’n belangrike rol speel in die welstand van onderwysers. Hierdie ondersteuningsrol dra op die lang termyn by tot die veerkragtigheid van dié beroep.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.