Search
Close this search box.

Boedeladministrasie is ʼn belangrike deel van finansiële beplanning – Akademia-kenner

Gepubliseer op: 20 September 2024

Met die aanbreek van Nasionale Testamentweek, wat van 16 tot 20 September 2024 plaasvind, val die kollig opnuut op boedelbeplanning as ʼn belangrike deel van effektiewe finansiële beplanning. Volgens Monique Bräsler, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe aan Akademia, loop finansiële en boedelbeplanning hand aan hand en moet individue altyd die implikasie van laasgenoemde in gedagte hou as deel van hul holistiese beplanningsbenadering. Só ʼn ingesteldheid sal voorkom dat finansiële beplanning in silo’s geskied.

“Ons almal beplan op welke manier ook al vir ons aftrede en sien daarna uit om ons sogenaamde goue jare te spandeer. Die realiteit is egter dat boedelbeplanning dikwels oor die hoof gesien word totdat dit te laat is,” verduidelik Bräsler. Die gevolg hiervan is dat testamente nie in ooreenstemming met veranderende lewensdoelwitte aangepas word nie, en dat geliefdes se wense ná hul afsterwe nie deurgevoer kan word nie.

Boedelbeplanning het dit ten doel om voortydig alle moontlike boedelkostes en uitgawes te identifiseer. Hierdie voortydige optrede help volgens Bräsler om te verhoed dat dit nodig is om bates waarvan geliefdes afhanklik is, soos byvoorbeeld ʼn woonhuis, te moet verkoop om skuld of administrasiekostes te delg.

Die waarde van ʼn testament, as deel van goeie boedelbeplanning, is volgens Bräsler tweeledig. In die eerste plek verteenwoordig dit ʼn klinkklare manier om te verseker dat daar genoeg likiditeit (die vermoë van ʼn debiteur om sy/haar korttermynskuld effektief te kan betaal) in die boedel is. Ten tweede help dit om te verseker dat die oorledene se bates op die mees belasting-effektiewe manier bemaak word. Indien die opstel van ʼn geldige testament deel uitmaak van ʼn formele boedelbeplanningsproses, kan toegewings, soos uiteengesit in Artikel 4Q van die Boedelbelastingwet, byvoorbeeld ingereken word. Laasgenoemde stel dit dat bates wat aan die langslewende gade bemaak word byvoorbeeld vrygestel word van belasting op kapitaalwins. 

ʼn Ander scenario wat dalk van toepassing kan wees, is as daar ouers of familielede is wat in die afgestorwene se woning moet aanbly. Deeglike boedeladministrasie sal toesien dat ʼn klousule in die testament ingesluit word wat diesulke persone vruggebruik of verblyfreg gee in die woning vir ʼn spesifieke periode of tot hul eie afsterwe.

Vir die doeleindes van effektiewe boedelbeplanning is dit van kardinale belang dat die verskillende dokumente (jou finansiële plan, jou testament asook enige trust- en maatskappydokumente) met mekaar praat en tot dieselfde doelwit bydra. Al hierdie dokumente kan (en moet verkieslik) jaarliks hersien word om te verseker dat dit steeds ooreenstem met jou persoonlike finansiële beplanningsdoelwitte.

Maak gebruik van die kundigheid van prokureurs, finansiële beplanners, finansiëlediensteverskaffers en trustmaatskappye om te help verseker dat jou boedelbeplanning effektief geskied. “Die verlies van ʼn geliefde is ʼn traumatiese gebeurtenis, en indien daar nie na behore finansiële voorsorg getref word nie, kan dié reeds moeilike proses selfs verder bemoeilik word. Benut Nasionale Testamentweek en maak erns met jou boedelbeplanning,” sluit Bräsler af.

Indien jy daarin belangstel om jouself as ʼn finansiële beplanner te bekwaam, is Akademia se BCom (Finansiële Beplanning)-program óf die BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-program nommerpas vir jou. Aansoeke vir die 2025- akademiese jaar word tans ingewag.

Monique Bräsler, ʼn dosent verbonde aan die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan Akademia, moedig individue aan om tydens Nasionale Testamentweek erns te maak met boedelbeplanning.