Search
Close this search box.

Van integrasie tot disintegrasie: Die rol van disinformasie in Wes-Afrika

Gepubliseer op: 29 Julie 2024

Geskryf deur Jean-Jacques Boshoff, dosent in Sosiale Wetenskappe by Akademia.

Die unilaterale besluit van drie Wes-Afrikastate vroeër in 2024 om van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikastate (Ecowas) te onttrek plaas opnuut die fokus op die geopolitieke implikasies van streeksintegrasie in Wes-Afrika. Hierdie onlangse terugslag vir die byna 50 jaar oue streeksorganisasie volg na Burkina Faso, Mali en Niger weggebreek het ná ʼn reeks militêre staatsgrepe – eers in Mali (2020 en 2021), daarna in Burkina Faso (2022) en meer onlangs in Niger (2023).

Volgens Ecowas se manifes is die voorgestelde onttrekkingsproses veronderstel om binne ʼn tydperk van een jaar plaas te vind. Die wegbreekgroep van militêre regimes het egter wel sy bedoeling duidelik gemaak deur vroeër vandeesmaand die nuwe Konfederasie van Sahel-state in die lewe te roep met die uitsluitlike doelstelling om groter integrasie te bewerkstellig. Dit volg nadat Ecowas sanksies teen Mali, Burkina Faso en Niger ingestel en hul lidmaatskap as lidstate opgeskort het.

Die narratief wat deur hierdie groepering gevoer en beklemtoon word, is dat Ecowas onder die invloed van buitelandse Westerse moondhede optree en dat dit daarin misluk het om Islamitiese terreurgroepe in die streek te verslaan. Natuurlik is daar verskeie uitdagende historiese vraagstukke wat dié streek kniehalter soos onder meer koloniale verdeling, antagonisme binne die streek teenoor Nigerië se streekshegemonie en Westerse invloede. Alhoewel daar verwys word na die groter integrasie van Wes-Afrika deur die nuutgestigte konfederasie is dit duidelik dat daar ʼn definitiewe risiko vir disintegrasie bestaan in die komende maande, veral as daar geen politieke oplossing gevind kan word nie.

Die kwessie rakende militêre staatsgrepe is endemies tot Wes-Afrika. Militêre staatsgrepe gaan gewoonlik gepaard met ʼn soort politieke-militêre vooronderstelling, naamlik dat hierdie tipe bewindsverandering uitgevoer word op die grondslag van morele verpligting én soms as gevolg van ʼn morele dilemma. Laasgenoemde word geskep deur die regering in bewind om mag te probeer behou, terwyl nasionale belang dikwels ook deur die militêre regime as regverdiging voorgehou word.

Die implikasies van hierdie geopolitieke verskynsel word duideliker sodra die milieu wat versluier word in die aanloop tot hierdie disintegrasiegeding betwis word, spesifiek die rol van disinformasieveldtogte in Wes-Afrika. Die rol van disinformasieveldtogte in hierdie streek en politieke omgewing is duidelik te bespeur in navorsing wat vroeër die jaar deur die Afrika-sentrum vir strategiese studies gepubliseer is. Hierdie navorsing toon voorts ʼn duidelike korrelasie tussen disinformasieveldtogte en die politieke onstabiliteit in dié streek.

In eenvoudige terme verwys disinformasie na die doelbewuste verspreiding van valse of misleidende inligting met die doel om openbare mening te mislei of te manipuleer. Volgens die bogenoemde vermelde navorsing is dit veral kommerwekkend dat disinformasieveldtogte sedert 2022 byna verviervoudig het in Afrika en dat byna 60% van disinformasieveldtogte in Afrika deur staatsakteurs of bondgenote daarvan gedryf word. Nóg ʼn interessante bevinding is dat Rusland een van dié grootste rolspelers is. ʼn Tendens wat direk van belang is, is dat die Wes-Afrika-streek die meeste deur diesulke veldtogte geteiken word, aangesien byna 40% van disinformasieveldtogte in hierdie streek voorkom en direk gekoppel kan word aan Russiese betrokkenheid.

Die impak van Russiese disinformasieveltogte speel ʼn disintegrerende rol in die streek en het bygedra tot die bevordering en ondersteuning van militêre staatsgrepe in Mali, Burkina Faso en Niger. Die betrokkenheid van Rusland en die Kremlin-geaffilieerde Wagner-huursoldaatgroep beklemtoon die rol wat disinformasieveldtogte speel om anti-Westerse of meer spesifiek in die geval van Wes-Afrika, anti-Franse sentiment te vestig wat gevolglik ʼn politieke omgewing skep waarbinne openbare mening só beïnvloed word dat regimeverandering moontlik is.

Die vraag kan tereg gestel word wat die moontlike lang termyn oorspoeleffek van hierdie anti-Franse sentiment teenoor die Europese Unie (EU), as nabye streeksorganisasie, kan wees. Omrede daar ʼn sterk verband bestaan tussen die verskynsel van disinformasieveldtogte en politieke onstabiliteit kan hierdie moontlike disintegrasie verskeie gevolge in hou. Hierdie gevolge sluit onder meer in die ontstaan van verdere veiligheidsrisiko’s vir buurlande in die streek én die EU. Laasgenoemde moet in die lig gesien word van Ecowas wat as ʼn hefboom probeer optree om migrasie te bestuur, en indien dié streeksorganisasie verswak kan onreëlmatige migrasie steeds verder verhoog. Die migrasievraagstuk in Europa het reeds begin om sy invloed in Europa af te dwing met die opkoms van anti-immigrasie politieke sentiment en regse politieke partye.

Streeksintegrasie in beginsel veronderstel ʼn proses waardeur state van ʼn bepaalde streek ʼn ooreenkoms aangaan om ʼn omgewing van stabiliteit en samewerking te bewerkstellig met die oog op politieke en ekonomiese integrasie. Die waarskynlike disintegrasie van Ecowas as gevolg van gekonsentreerde Russiese disinformasieveltogte hou nie net risiko’s in vir die Wes-Afrikastreek nie, maar ook vir die integrasielandskap van Afrika en die agt ander ekonomiese gemeenskappe wat as boustene van die Afrika-unie erken word.