Search
Close this search box.

Danksy Akademia kan Nalanie – ma, beroepsvrou en voluit Fontie wees

Gepubliseer op: 11 Julie 2024

Akademia-student, Nalanie Green (41), van Centurion dra verskeie hoede. Sy is getroud met Rory, is ma van Dané en Dian, werk as ʼn gevestigde verkoopskonsultant in die papierbedryf én is tans ʼn BCom (Ondernemingsbestuur)-derdejaarstudent.

Volgens Green lui die bekende gesegde dat wysheid met grysheid kom beslis vir haar waar. “Ek kon nooit sekerheid kry oor wat om te studeer nie, en was in my jongdae veral bang dat – gegewe die groot uitgawes wat met naskoolse opleiding gepaard gaan, ek met studie verveeld sou word,” meen Green. Sy vertel dat die BCom (Ondernemingsbestuur)-program egter dadelik haar aandag getrek het en dat dit dié geleentheid homself op presies die regte tyd in haar lewe voorgedoen het.

Green, wat haar studie via die nauurse afstandsmodel aanpak en van die e-leeropsie gebruik maak, meen die vryheid wat hierdie onderrigleermodel haar bied enig in sy soort is. “Danksy Akademia kan ek my potensiaal voluit uitlééf en hoef ek nie vir ʼn oomblik my studiedroom te laat vaar ter wille van my ander verpligtinge nie,” verduidelik Green.

Sy vertel dat die instelling vir haar soos ʼn ware tuiskoms voel. Nie net baat sy en haar medestudente by die kundigheid van ervare akademici nie, maar word daar ook geen moeite ontsien as dit kom by administratiewe sake nie. Die voortgesette uitbreiding van die programaanbod skep volgens Green voorts nie net ʼn gevoel van afwagting oor wat die toekoms mag inhou nie, maar vul dit ook Fonties, van welke ouderdomsgroep ook al, met ʼn onblusbare hoop.

As ʼn ouer student is Green opgewonde oor die diepte van Akademia se studentegemeenskap en is dit vir haar lekker om oor die verskillende generasies heen by haar mede-Fonties te leer. “Groepswerk is altyd interessant en dit is baie verfrissend om die wêreld vanuit die oogpunt van die verskillende groepslede te aanskou. Ek het oor die verloop van my studie reeds soveel nuwe vriende gemaak, sommige ouer as ek en ander tot vyftien jaar jonger – dit wys jou net weer dat ouderdom net ʼn nommer is en nie jou lewenspas hoef te bepaal nie,” sê Green.

Haar gunstelingmodules is Kwantitatiewe Metodes en Bemarking wat onderskeidelik deur Johann Smith en Salomien Boshoff, beide dosente in Bestuurswetenskappe, aangebied word. Volgens Green is dit vir haar lekker om dit wat sy in die lesinglokaal leer, prakties in haar beroep toe te pas. Hierbenewens word haar probleemoplossingsvaardighede voortdurend geslyp en geniet sy dit om uitdagings in die werksplek op nuwe en innoverende wyses op te los. “Ek kan ook heelhartig getuig dat studentwees méér as net jou studie is. Wanneer jy studeer, en veral soos ek op ʼn latere stadium in my lewe, kom jy gou agter dat vaardighede soos uithouvermoë, deursettingsvermoë, vasberadenheid en toewyding ook ontwikkel word. Hierdie vaardighede dra by tot jou volronde menswees en verleen diepte aan jou mondering,” verduidelik Green.

Om nauurs oor afstand te studeer kan by tye uitdagend wees en Green meen dat goeie tydsbestuur van kardinale belang is. Sy voeg by dat omdat sy voltyds in haar gekose veld werksaam is, die leerproses egter baie vergemaklik word omdat sy voortdurend haar nuwe kennis en vaardighede in haar bestaande posisie kan toepas. Haar goue reël is effektiewe voorbereiding en sy maan ander nauurse afstandstudente aan om in die gewoonte te kom om eerder vroeër as later met opdragte te begin. “In tye waar ek oorweldig voel, verdeel ek my studielading in kleiner en meer hanteerbare take, en maak ek ʼn punt daarvan om trots te wees op elke mylpaal wat ek bereik,” sê Green.

En waar sien sy haarself in die toekoms? “Ek sal nooit ophou leer nie, en wil graag ʼn impak maak op veral die lewens van tieners en jongmense,” vertel Green. Dit is haar droom om met die hulp van tegnologie, soos kunsmatige intelligensie (KI), met innoverende maniere vorendag te kom om wiskunde-angs te bowe te kom. “Die vrees wat dikwels met wiskunde gepaard gaan kan verlammend wees, en ʼn persoon se selfvertroue ʼn enorme knou gee. Dit sal vir my lekker wees om op ʼn manier hierdie angs te kon verlig,” sê Green. Sy sluit af deur te sê dat verskilmaker verseker nóg ʼn hoed is wat sy met graagte sal dra.

Indien jy, soos Green, ook voltyds werk en daarvan droom om in 2025 nauurs te studeer, doen vandag nog aansoek.

Nalanie Green is by uitstek ʼn doener én ʼn dromer, eienskappe wat sy ook aan haar kinders Dian en Dané wil oordra. Van links is Dian, Nalanie, Rory en Dané.