Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Amerikaanse professor besoek Akademia

Gepubliseer op: 30 Oktober 2018

Die Amerikaanse professor, Ross Perkins, van die Departement Opvoedkundige Tegnologie by Boise State-Universiteit, het onlangs ʼn aanbieding aan Akademia se dosente en bestuur voorgelê. Hierdie aanbieding was van groot waarde vir Akademia, omdat dit deel van die instelling se strategie vorm om met buitelandse akademici bande te smee en deurlopend in voeling te bly met die maatstawwe van internasionale universiteitswese.

Perkins se aanbieding het die ontluikende tegnologie in hoër onderwys, met spesifieke fokus op die omgekeerde klaskameronderrigstrategie, ingesluit. Hierdie onderwerpe is uiters gepas, aangesien Akademia reeds hiervan gebruik maak om ʼn ingrypende leerervaring aan studente te bied. Die omgekeerde klaskameronderrigstrategie behels ʼn omkeer van die tipiese verloop van kennisoordrag. Waar onderrig en inhoudslewering gewoonlik as die eerste stap in die leerproses gesien word, word dit in hierdie benadering die tweede stap. Die onderriginhoud word voor kontaksessies aan die student beskikbaar gestel deur ʼn aanlyn leerplatform. Die kontaksessies word dan eksklusief gebruik vir die verdieping in konsepte wat reeds gevorm is. Dié benadering dra by tot aktiewe én interaktiewe leer, wat uiteindelik kennisbehoud en akademiese prestasie bevorder.

Deur nou saam met internasionale akademici te werk verseker dit dat Akademia se onderrigmodel deurlopend aangevul word met die beste en nuutste onderrigmetodes. Die internasionale bande wat Akademia bou verseker dat studente se onderrig internasionaal relevant is en dat hulle blootgestel word aan ʼn wêreldklas leerervaring. Akademia sien uit om die nuwe insigte wat uit hierdie akademiese besoek geleer is in die volgende akademiese jaar verder te implementeer.

Prof. Ross Perkins van die Boise State-Universiteit in die VSA en dr. Saretha Brüssow, dekaan van Akademia, tydens ʼn aanbieding oor die omgekeerde klaskamertegniek.