Aansoeke is steeds oop

PERSONEEL

Akademia het uitnemende en roepinggedrewe personeel wat bydra tot ’n leerervaring van wêreldgehalte.

Marthinus Visser

Besturende direkteur

Marthinus Visser is besturende direkteur van Akademia en het ʼn MBA-graad aan die Universiteit van Potchefstroom voltooi. Marthinus het ook BCom- en Bed-grade voltooi, en ʼn Hoër Onderwysdiploma by dieselfde universiteit verwerf. Marthinus is vir die afgelope dekade betrokke by die oprigting en ontwikkeling van die hoëronderwysinstellings Sol-Tech en Akademia. Marthinus is tans die voorsitter van die Sol-Tech-direksie. Marthinus dien ook op die direksies van Solidariteit Finansiële Dienste en Solidariteit Eiendomme, asook op die raad van trustees van Medihelp.

Prof. Danie Goosen

Akademiese hoof

Goosen studeer ekonomie, klassieke tale, teologie en filosofie aan die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Hy voltooi die grade BCom, BA, BAHons (Wysbegeerte), BD en DTh.

Tydens sy studies is Goosen onder meer ʼn navorsingsassistent in die Departement Grieks aan die Universiteit van Pretoria. Hy voltooi sy proefskrif getiteld “Nietzsche en die verwondering” in die Departement Godsdienswetenskap aan Unisa. In dié tyd word hy ook as dosent in dieselfde departement aangestel, waar hy in 2008 tot volle professor bevorder word. In hierdie departement is hy veral verantwoordelik vir kursusse in die filosofie van die godsdiens. Goosen bied ook vir etlike jare lesings oor die filosofie van die argitektuur in UP se Departement Argitektuur aan, sowel as ʼn kursus oor die moderne ervaring van skaarste in die Departement Filosofie aan dieselfde universiteit.

Goosen is lid van verskeie akademiese verenigings, waaronder die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy navorsing fokus op die Westerse metafisiese denke, die teologies-politieke probleem, die modernisme en postmodernisme as idee-historiese verskynsels, asook die godsdiens- en politiekfilosofiese vrae van ons tyd.

Goosen hou ʼn verskeidenheid lesings in die binne- en die buiteland. Tegelyk publiseer hy ook ʼn wye verskeidenheid van wetenskaplike en populêre artikels in ʼn veelheid van media, waaronder die omvangryke Die Nihilisme (2007), oor die geestelik-kulturele problematiek van ons tyd. In 2015 publiseer hy ʼn politiek-filosofiese werk, Oor gemeenskap en plek: Anderkant die onbehae (2015). Hy skryf tans aan ʼn werk oor die moderne konserwatiewe gedagte.

Goosen is vanaf 2004 die voorsitter van die direksie van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Hy is ʼn direksielid van AfriForum, die burgerregte-organisasie van die Solidariteit Beweging, asook ʼn lid van die direksie van Akademia.

Prof. Gawie du Toit

Dekaan:
Opvoedkunde

Professor Gawie du Toit het sy kwalifikasies, onder andere ʼn hoëronderwysdiploma, MSc-graad in Wiskunde en ʼn doktorsgraad in Didaktiek by die Universiteit van Vrystaat (UV) voltooi. Hy betree die hoër onderwys in 1987 as senior navorser in die destydse Navorsingsinstituut vir Onderwysbeplanning by dieselfde universiteit. In 1997 is hy aangestel as departementshoof van die Departement Didaktiek (later bekend as Kurrikulumstudie) in die Fakulteit Opvoedkunde aan die UV. Hy het ook die pos Programdirekteur: Voorgraadse programme van 2010-2013 beklee.

Op 1 November 2013 is hy vir drie jaar gesekondeer om die BEd (Seniorfase en Verdere Onderwys en Opleiding)-program wat hy aan die UV ontwikkel het aan die nuutgestigte Sol Plaatje Universiteit (SPU) te implementeer. Sedert 2016 is hy voltyds by die SPU aangestel as Hoof: Skool vir Opvoedkunde. Sy navorsingsfokus is op wiskunde-onderwys en kurrikulumontwikkeling gerig. Sedert sy toetrede tot die Fakulteit Opvoedkunde in 1997 het hy tien artikels en vyf hoofstukke in akademiese boeke gelewer. Onder sy leiding het 22 meestergraadstudente en dertien doktorale studente hulle studies suksesvol voltooi.

Du Toit was ook betrokke by verskeie navorsingprojekte saam met die Katolieke Universiteit van Leuven in België en die Universiteit van Alberta in Edmonton, Kanada. Verder was hy ook administrateur van verskeie bestuursopleidingseminare vir onderwysleiers in die Vrystaat.

Prof. Hannes Rautenbach

Dekaan:
Natuurwetenskappe

Nadat professor Hannes Rautenbach in 1987 ʼn BSc-graad in Weerkunde behaal, sluit hy die volgende jaar by die Suid-Afrikaanse Weerburo as ʼn weerkundige, en later in 1991 as ʼn senior weerkundige, aan. In 1991 word hy ook tydelik aangestel as navorsingsassistent by die nuutgestigte CORDATA Leerstoel in Weerkunde by die Departement Siviele Ingenieurswese van die Universiteit van Pretoria (UP). Hy word in 1995 voltyds as lektor aangestel, en word in 2000 bevorder tot senior lektor. In 2006 word hy medeprofessor. Gedurende hierdie periode dien hy ook as koördineerder van die Weerkunde Eenheid by UP – die enigste eenheid in die suidelike Afrika wat voorgraadse en nagraadse kwalifikasies in weerkunde aanbied. In 1999 ontvang hy ʼn doktorsgraad in Weerkunde vanaf dieselfde universiteit. In 2006 word hy as hoof van die Departement Geografie, Geoïnformatika en Meteorologie aangestel, ʼn posisie wat hy vir agt jaar beklee. Tussen 2010 en 2014 dien hy ook as direkteur van die UP Waterinstituut. Prof. Rautenbach het op verskeie rade wat navorsing evalueer gedien, en was ook leier van etlike navorsingsprojekte vir onder meer die Waternavorsingskommissie en die Nasionale Navorsingstigting. Hy het reeds meer as 50 artikels in vaktydskrifte gepubliseer, en oor die 100 referate by nasionale en internasionale konferensies aangebied. In 2017 word hy aangestel as buitengewone professor in die Skool vir Gesondheidstelsels en Publieke Gesondheid van die UP.

Prof. Hermie Coetzee

Dekaan:
Fakulteit Regsgeleerdheid

Professor Hermie Coetzee is die dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan Akademia. Sy behou ʼn BCom-graad in Regte (cum laude), ʼn LLB (cum laude), ʼn LLM deur navorsing (cum laude), asook ʼn LLD. Prof. Coetzee was vanaf 2006 tot Junie 2020 in verskeie hoedanighede aan die Universiteit van Pretoria verbonde. Sy is die skrywer en medeskrywer van vele geakkrediteerde artikels, in beide nasionale en internasionale vaktydskrifte. Sy dra ook by as skrywer van handboeke. Hermie spesialiseer in verbruikerskredietreg en verbruikersinsolvensiereg. Sy het ook ʼn belangstelling in ondernemingsreg. Hermie was by verskeie navorsingsprojekte van onder andere die Wêreldbank en die Nasionale Kredietreguleerder betrokke. Sy is sedert 2018 ʼn C1-gegradeerde navorser soos deur die Nasionale Navorsingstigting (NRF) geakkrediteer. Vanaf 2020 dien sy op die redaksie van die Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg (THRHR) en is tans ook as buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit verbonde. Hermie is ʼn toegelate prokureur en lid van die Advieskomitee aangaande Projek 127 van die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie.

Prof. Pieter Duvenhage

Dekaan:
Geesteswetenskappe

Professor Pieter Duvenage het aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite studeer (Stellenbosch, Pretoria en Port-Elizabeth) en het in 1994 sy doktorsgraad behaal. Hy het vanaf 1995 aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite, en twee Australiese universiteite met kampusse in Suid-Afrika, filosofie doseer. Vanaf 2011 tot 2018 was hy professor en hoof van die Departement Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Hy is die skrywer en medeskrywer van verskeie boeke en 40 geakkrediteerde artikels in vaktydskrifte. Sy jongste boek is Afrikaanse filosofie: Perspektiewe en dialoë (2016). Pieter spesialiseer in politieke en sosiale filosofie binne die velde kritiese teorie, fenomenologie en hermeneutiek, en Suid-Afrikaanse intellektuele geskiedenis. Hy is sedert 2003 ʼn geakkrediteerde navorser by die Nasionale Navorsingstigting (NRF), sedert 2004 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn voormalige president van die Wysgerige Vereniging van Suider-Afrika (PSSA). Vanaf 2015 is hy redakteur van die Joernaal vir Eietydse Geskiedenis (UV), en ʼn ereprofessor in politieke filosofie aan die Universiteit van Cardiff in die Verenigde Koninkryk.

Dr. Rachel Maritz

Dekaan:
Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Dr. Rachel Maritz het in 2008 haar doktorsgraad in Ondernemingsbestuur (met spesialisasie in Strategiese Bestuur) aan die Universiteit van Pretoria (UP) behaal. Sy behaal ʼn meestersgraad in bedryfsleiding (MBL) aan Unisa (2002) en ʼn meestersgraad in Afrikaans (Mediakommunikasie) (met lof) by UP, asook BA (Tale) en honneursgraad in Afrikaans (met lof) by dieselfde instansie. Sy ontvang toekennings vir die beste doktorale proefskrif, meestersverhandeling en beste honneursstudent.

Rachel was vroeër vir sestien jaar voltyds verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Departement Ondernemingsbestuur (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe). Sy dien as Hoof: Onderrig en Leer in hierdie departement, dien op die Fakulteitskomitee vir Onderrig en Leer, asook op die fakulteitstaakspan vir die fakulteit se internasionale akkreditasie. Tussen 1997 en 2001 was sy werksaam by Telkom as senior konsultant vir interne oudit en Bestuurder: Mededingende Intelligensie.

Rachel het wye ervaring as ʼn strategiekonsultant vir PWC, asook Enterprises UP, en was betrokke by strategieprojekte (onder andere die ontwikkeling, oudit en implementering van strategie) vir uiteenlopende maatskappye. Sy ontwikkel kursusse in strategie vir UP, die plaaslike bedryf, asook vir die internasionale MBA van die Guglielmo Marconi Universiteit in Rome. Sy tree op as studieleier vir meesters- en doktorale studies, asook as eksterne moderator en eksaminator vir programme, verhandelinge en proefskrifte aan ander universiteite. Sy is betrokke by die skryf van handboeke in strategiese bestuur en publiseer verskeie navorsingsartikels in internasionale vaktydskrifte. Haar navorsing fokus op ontplooiende en kreatiewe strategie, strategie in die praktyk, en korporatiewe bestuur.

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE