Aansoeke is steeds oop

PERSONEEL

Akademia het uitnemende en roepinggedrewe personeel wat bydra tot ’n leerervaring van wêreldgehalte.

FAKULTEITE

DEPARTEMENTSHOOFDE

Dr. Melanie Roestoff

Departementshoof: Privaat- en Handelsreg

Dr. Melanie Roestoff (voorheen professor aan die Universiteit van Pretoria) is dosent en hoof van die departement Privaat- en Handelsreg aan Akademia. Sy het ʼn BLC (cum laude) en LLB-graad (cum laude) asook ʼn meesters- (cum laude) en doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Roestoff is ʼn toegelate prokureur van die Hoë Hof van Suid-Afrika. Haar navorsingsfokus is Insolvensiereg en Handelsreg. Sy is die skrywer en medeskrywer van ’n groot aantal artikels, aantekeninge en vonnisbesprekings in geakkrediteerde en vakkundige tydskrifte. Sy is ook die medeskrywer van etlike handboeke, onder andere Mars: The Law of Insolvency (2019), en het al verskeie referate by nasionale en internasionale konferensies gelewer. Sy was ook al by verskeie navorsingsprojekte betrokke, onder andere, ʼn ondersoek na die skuldhersieningsproses ingevolge die Nasionale Kredietwet van 2005 wat in opdrag van die Nasionale Kredietreguleerder tot ʼn verslag: The Debt Counselling Process: Challenges to the Consumers and the Credit Industry in General (2009) gelei het.

Dr. Willem Gravett

Departementshoof: Publiek- en Prosesreg

Dr. Willem H Gravett is die departementshoof van Publiek- en Prosesreg aan Akademia. Hy is ʼn voormalige professor aan die Departement Prosesreg, Universiteit van Pretoria. Hy behaal die grade BLC (cum laude) en LLB (cum laude) aan die Universiteit van Pretoria. In 1997 word hy bekroon met die Bradlow International Human Rights Law Scholarship vir 1997/98. In 1998 ontvang hy die LLM-graad summa cum laude aan die Notre Dame Law School in die Verenigde State. Hy is in Augustus 1997 as advokaat van die Hoë Hof van Suid-Afrika toegelaat en in November 1998 as lid van die New York State Bar. Gravett het onder meer die volgende akademiese toekennings ontvang, Schiltz-prys vir die beste student in die laaste jaar van die BLC-graad, die Grotius-medalje en Harold Galasko-prys vir die beste student in die laaste jaar van die LLB-graad, asook die Butterworths-prys vir die LLB-student wat die beste opstel geskryf het. Aan die Notre Dame Law School het hy die Dean’s Awards ontvang vir uitstekende prestasies in internasionale reg en aanspreeklikheid vir growwe skendings van menseregte. In 1998 word Gravett toegelaat om in New York te praktiseer en het hy by ʼn internasionale regsfirma in New York City aangesluit. Tussen 1998 en 2012 het hy ʼn aktiewe litigasiepraktyk in New York gehad en meer as 130 sake tot finaliteit gevoer. Hy voltooi sy formele advokaatopleiding aan die National Institute of Trial Advocacy (1998) in South Bend, Indiana, en aan die American Law Association se Family Law Trial Advocacy Institute aan die Universiteit van Houston (2004).

DOSENTE

Dr. Alexander Politis

Dosent:
Privaat- en Handelsreg

Dr. Alexander Politis is ʼn dosent in Regte by Akademia en het ʼn LLB-graad (cum laude) van die Universiteit van Pretoria, ʼn LLM-graad van die Universiteit van Cambridge, ʼn LLM-graad (cum laude) van die Universiteit van Pretoria en ʼn LLD-graad van die Universiteit van Pretoria. Politis se navorsingsfokus is Geneeskundige Reg. Hy het vir agtien jaar as advokaat gepraktiseer en is ʼn geassosieerde lid van die Pretoria Vereniging van Advokate. Hy doseer tans Sakereg, Erfreg en Regsfilosofie.

Anél Sahd

Dosent:
Regsgeleerdheid

Anél Sahd is ʼn dosent in Regsgeleerdheid aan Akademia. Sy het ʼn LLB-graad, ʼn Regskooldiploma, asook ʼn LLM in Algemene Privaatreg aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Haar LLM proefskrif, getiteld “A critical analysis of the extension of existing common law grounds of unworthiness to inherit”, handel oor die moontlike uitbreiding van die gemeenregtelike reël dat geen persoon mag erf van ʼn ander wie se dood hy veroorsaak het nie. Anél se navorsingsfokus is die moontlike wettiging van genadedood en die grondwetlikheid daarvan binne die Suid-Afrikaanse regstelsel. Akademiese toekennings sluit in Golden Key International Honor Society-lidmaatskap. Sy doseer tans Inleiding tot die Reg, asook Erfreg.

Dr. Birgit Kuschke

Dosent:
Intellektuelegoederereg en Regsvergelyking

Dr. Birgit Kuschke is ʼn dosent in Intellektuelegoederereg en Regsvergelyking by Akademia en het ʼn BLC-graad (cum laude) en ʼn LLB-graad (cum laude) aan die Universiteit van Pretoria verwerf, asook ʼn LLD-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Sy het vir 31 jaar by die Universiteit van Pretoria in beide Privaatreg- en Handelsregvelde gedoseer. Sy is tans as redakteur en mede-outeur besig met die bywerking van die handboek Insurance Law in South Africa, asook as outeur verantwoordelik vir die bywerking van die Versekeringsreg in die International Encyclopedia of Laws. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn hoofstuk oor “Discrimination in the Context of Parametric Insurance” in die internasionale boek Insurance and Human Rights, waarvan sy ook die mederedakteur was. Tans is sy ook lid van die Principal Drafting Committee vir die opstel van universele beginsels van herversekeringsreg in die internasionale UNIDROIT PRICL-projek (Principles of Reinsurance Contract Law). Sy is die visepresident: Akademies van die Internasionale Versekeringsreg Vereniging (AIDA). Sy praktiseer ook as prokureur, notaris en aktevervaardiger by haar firma Kuschke Prozesky Attorneys Inc.

Chrislie Boers

Dosent:
Publiek- en Prosesreg

Chrislie Boers (voorheen dosent in die Regsfakulteit van die Universiteit van Pretoria) is ʼn dosent in Regsgeleerdheid by Akademia en het ʼn BSc-graad in Mensfisiologie en LLB (cum laude) asook ʼn meestersgraad (cum laude) aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy is tans besig met voorbereiding vir ʼn doktorale proefskrif in mediese reg en bio-etiek. Boers se navorsingsfokus is bio-etiese en reguleringsriglyne vir menslikegenoomredigering. Akademiese toekennings sluit in die volgende: dekaansmerietelys en Norton Rose Fulbright-prys vir die beste student in Mediese Reg.

Sy doseer tans die volgende modules: Inleiding tot die Reg en Regsuitleg.

Dr. Jacolien Barnard

Dosent:
Privaat- en Handelsreg

Dr. Jacolien Barnard is ʼn dosent in Regsgeleerdheid by Akademia en het die grade LLB en LLD (cum laude) aan die Universiteit van Pretoria asook ʼn LLM-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) in hierdie dissipline verwerf. Barnard se navorsingsfokus is verbruikersbeskermingsreg; produkte-aanspreeklikheid; koopreg en huurreg. Sy is ʼn toegelate prokureur sedert 2002 en was voorheen verbonde as professor aan UP. Sy is outeur en mede-outeur van verskeie nasionale en internasionale artikels, hoofstukke en boeke. Sy doseer tans Arbeidsreg en Besondere Kontrakte aan die Fakulteit Regsgeleerdheid.

Lichel Helmchen

Dosent:
Regsgeleerdheid

Lichel Helmchen is ʼn dosent in Regsgeleerdheid by Akademia en het die grade LLB (cum laude) en LLM aan die Universiteit van Pretoria, asook ‘n nagraadse onderwyssertifikaat vir die senior- en verdere onderwys en opleidingsfase aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Helmchen se navorsingsfokus is Kinderreg. Sy is die skrywer en medeskrywer van artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte. Sy is ʼn toegelate prokureur en doseer tans die volgende modules: Personereg, Familiereg en Deliktereg.

Natasha Venter

Dosent:
Afrikaanse en Engelse
Taalvaardigheid in die
Regskonteks

Natasha Venter is ’n voltydse dosent in Regsgeleerdheid by Akademia en het ’n LLB-graad asook ʼn Meestersgraad in Strafprosesreg aan die Noordwes-Universiteit verwerf, plus ’n BA-graad in Linguistiek en Sielkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika (cum laude). Sy is tans werksaam by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid wat besig is om die konsep van privaat vervolging in Suid-Afrika te vestig. Natasha is ook ’n toegelate prokureur. Sy doseer tans die volgende module: Afrikaanse en Engelse Taalvaardigheid in die Regskonteks.

Sarita Gerber

Programkoördineerder:
LLB
Dosent:
Regsgeleerdheid

Sarita Gerber is ʼn dosent in Regsgeleerdheid aan Akademia. Sarita het ʼn LLB-graad, ʼn AIPSA-diploma, asook ʼn LLM-graad in Korporatiewereg aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sarita was vanaf 2006 in verskeie hoedanighede aan die Universiteit van Pretoria verbonde. Sy is die skrywer en medeskrywer van artikels in die geakkrediteerde vaktydskrif Tydskrif vir Hendendaagse Romeins-Hollandse Reg (THRHR). Haar navorsingsfokus is Kontraktereg en Ondernemingsreg, en sy het ook ʼn belangstelling in Konstruksiereg. Sarita is tans ook ʼn deeltydse senior dosent by die Universiteit van Pretoria en ʼn toegelate prokureur. Sarita doseer Handelsreg en Kommersiële Reg aan Akademia.

Stephen Nel

Dosent:
Regsgeleerdheid

Stephen Nel is ʼn dosent in Regsgeleerdheid aan Akademia. Hy het ʼn LLB-graad, asook ʼn LLM in Omgewingsreg, aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf. Hy doseer die volgende modules: Konstitusionele Reg, Regspluralisme en Administratiefreg.

DEELTYDSE DOSENTE

Dr. FJ Labuschagne

Dosent:
Ondernemingsreg

Dr FJ Labuschagne is ʼn deeltydse dosent in Regsgeleerdheid aan Akademia. Hy het ʼn LLB-graad verwerf aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en daarna ʼn LLM in Korporatiewe Reg, ʼn LLM in Belastingsreg asook ʼn LLD aan die Universiteit van Pretoria (UP). Sy doktorsgraad se fokus was op korporatiewe finansiering. Hy het vir tien jaar as spesialisprokureur praktiseer by van die land se topregsfirmas en ook by ʼn internasionale regsfirma. Daarna het hy tot die advokatuur toegetree en praktiseer hy tans as lid van die Pretoria en Johannesburg Balies met kamers te Brooklyn Advokatekamers en die Maisels Groep in Sandton. Sy spesialisvelde sluit in korporatiewe reg, korporatiewe finansiering en regulering, korporatiewe insolvensie en besigheidsredding, kompetisiereg, belastingsreg en kommersiële reg. Hy het voorheen aan nagraadse studente in korporatiewe reg doseer aan UP. By Akademia is Labuschagne trots daarop om die module Ondernemingsreg aan te bied vir die derdejaar-LLB-studente en om die dinamiese wêreld waar besigheid en die reg kruis, met hulle te deel.

Dr. Llewelyn Curlewis

Dosent:
Siviele prosesreg

Dr. Llewelyn Curlewis is ʼn deeltydse dosent in Siviele Prosesreg by Akademia en het die volgende kwalifikasies: BLC en LLB van die Universiteit van Pretoria (UP), drie meestersgrade (een daarvan cum laude) by UP en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), en ʼn LLD van UP, asook ʼn Gevorderde Sertifikaat in Forensiese Rekeningkunde en ʼn Diploma in Alternatiewe Dispuutbeslegting van AFSA (cum laude). Curlewis lewer gereeld referate, beide plaaslik en internasionaal. Verskeie akademiese en ander toekennings is aan hom toegeken. Curlewis is steeds in privaat praktyk en praktiseer al as regspraktisyn vir meer as 27 jaar. Hy doseer tans die volgende module: Siviele Prosesreg.

Phyllis Vorster

Dosent:
Strafprosesreg

Phyllis Vorster is ʼn deeltydse dosent by Akademia, en het ʼn BIuris-graad, ʼn LLB-graad, asook ʼn meestersgraad in Strafprosesreg aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Vorster was vir 20 jaar ʼn aanklaer by die Nasionale Vervolgingsgesag, en is tans ʼn aanklaer by die Privaatvervolgingseenheid van AfriForum. Sy doseer tans die volgende modules: Strafprosesreg.

Prof. Reghard Brits

Dosent:
Sakereg

Prof. Reghard Brits is ʼn deeltydse dosent in Regsgeleerdheid by Akademia en het ʼn BCom (Regte)-, LLB- en LLD-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf. Brits se navorsingsfokus is Saaklike Sekerheidsregte asook Sakereg in die algemeen en aspekte van Insolvensiereg en Verbruikerskredietreg. Hy is onlangs toegelaat as prokureur en aktebesorger en is werksaam by Brits Dreyer Ingelyf in Bellville. Hy was voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria as senior lektor en medeprofessor en hy is tans ʼn buitengewone professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland asook ʼn navorsingsgenoot aan US.

Zandri van der Westhuizen

Dosent:
Korporatiewe Beheer, Kommersiële Reg en Etiek

Zandri van der Westhuizen is ʼn deeltydse dosent in Regsgeleerdheid aan Akademia. Sy het ʼn LLB- en ʼn LLM-graad in Handelsreg aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en was vanaf 2001 betrokke by die Universiteit van Pretoria. Zandri is ʼn Regspraktykraadslid en is ʼn praktiserende prokureur met verskyningsbevoegdheid in die Hooggeregshof. Sy is ʼn toegelate aktevervaardiger en notaris, en haar spesialisveld is Eiendomsreg. Zandri bied tans die volgende modules aan: Korporatiewe Beheer, Kommersiële Reg en Etiek.

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE