NGOS-inligtingsessie | 5 Oktober

PERSONEEL

Akademia het uitnemende en roepinggedrewe personeel wat bydra tot ’n leerervaring van wêreldgehalte.

FAKULTEITE

DEPARTEMENTSHOOFDE

Prof. Gawie du Toit

Waarnemende departementshoof: Opvoedkundestudies

Professor Gawie du Toit het sy kwalifikasies, onder andere ʼn hoëronderwysdiploma, MSc-graad in Wiskunde en ʼn doktorsgraad in Didaktiek by die Universiteit van Vrystaat (UV) voltooi. Hy betree die hoër onderwys in 1987 as senior navorser in die destydse Navorsingsinstituut vir Onderwysbeplanning by dieselfde universiteit. In 1997 is hy aangestel as departementshoof van die Departement Didaktiek (later bekend as Kurrikulumstudie) in die Fakulteit Opvoedkunde aan die UV. Hy het ook die pos Programdirekteur: Voorgraadse programme van 2010-2013 beklee.

Op 1 November 2013 is hy vir drie jaar gesekondeer om die BEd (Seniorfase en Verdere Onderwys en Opleiding)-program wat hy aan die UV ontwikkel het aan die nuutgestigte Sol Plaatje Universiteit (SPU) te implementeer. Sedert 2016 is hy voltyds by die SPU aangestel as Hoof: Skool vir Opvoedkunde. Sy navorsingsfokus is op wiskunde-onderwys en kurrikulumontwikkeling gerig. Sedert sy toetrede tot die Fakulteit Opvoedkunde in 1997 het hy tien artikels en vyf hoofstukke in akademiese boeke gelewer. Onder sy leiding het 22 meestergraadstudente en dertien doktorale studente hulle studies suksesvol voltooi.

Du Toit was ook betrokke by verskeie navorsingprojekte saam met die Katolieke Universiteit van Leuven in België en die Universiteit van Alberta in Edmonton, Kanada. Verder was hy ook administrateur van verskeie bestuursopleidingseminare vir onderwysleiers in die Vrystaat.

Dr. Maretha Steyn

Departementshoof:
Professionele Studies Programkoördineerder: BEd (Grondslagfase-onderwys)

Dr. Maretha Steyn is ʼn senior dosent en programkoördineerder van die BEd-program. Sy het ʼn BPrimEd (cum laude) asook BEd-honneursgraad (cum laude) aan onderskeidelik die Universiteit van Pretoria en Universiteit van Suid-Afrika verwerf, en daarna ʼn MEd in Historiese Opvoedkunde (Universiteit van Suid-Afrika) en ʼn doktorsgraad (Universiteit van Pretoria) in Grondslagfase Wiskunde. Haar meestersgraad het gehandel oor “Veranderende opvattinge oor die aanvangsonderrig van lees en skryf” en haar doktorsgraad is getiteld “Teaching the mathematical concept of time in Grade 2”.

Sy was vir 31 jaar as onderwyser en departementshoof by Laerskool Stephanus Roos betrokke. Dr. Steyn is passievol oor die onderwys en het ervaring in die ontwikkeling van kursusmateriaal asook die opleiding van onderwysers en studente in onder andere kurrikulum- implementering en innoverende onderrigstrategieë. Sy is ook betrokke by die beplanning en skryf van onderrig- en leermateriaal. Maretha se navorsingsbelangstellings is gefokus op
onderrigstrategieë in die Grondslagfase met die doel om voordiensonderwysers te bemagtig. Dr. Steyn doseer die volgende NGOS-module: Onderrig en leer in Opvoedkunde-konteks asook die Praktiese Onderwys-module in die B.Ed.-program.

DOSENTE

Dr. Annelise de Vries

Dosent:
Afrikaans Huistaal-onderwys

Annelise de Vries is ʼn dosent in Afrikaans en vakhoof: Tale in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia. Sy het ʼn doktorsgraad in Toegepaste Linguistiek, ʼn meesters- en honneursgraad in Afrikaans-Nederlands, ʼn BA-graad in Kommunikasiestudies en ʼn BA-graad in Pastorale Begeleiding en Psigologie. Sy het haar doktorsgraad aan die Universiteit van Johannesburg verwerf en haar MA-, honneurs- en BA-grade aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. De Vries se navorsingsfokus is toegepaste linguistiek waaronder taalbeplanning en forensiese linguistiek val. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn hoofstuk in die boek, Language and the law in South Africa and beyond – Language and crime: Issues in forensic linguistics.

Sy het vir drie jaar in die onderwysomgewing gewerk en daarna vier jaar grotendeels as ʼn navorser. Sy dien ook tans as voorsitter van die direksie van die Afrikaanse Taalraad en as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie.

Charmain Kruger

Dosent:
Sosiale Wetenskappe-onderwys

Charmain Kruger is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BA Honneurs-graad in Geografie asook ʼn Hoër Onderwys Diploma aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy is tans besig met ʼn M-Ed in Onderwys-leierskap en Bestuur (Meestersgraadverhandeling) aan die Noordwes-Universiteit. Charmain Kruger se navorsingsfokus is Die invloed van ʼn kliënt gesentreerde bestuurs benadering op gehalte onderwys in laerskole. Tydens die suksesvolle beoefening van haar onderwysloopbaan in die vak Sosiale Wetenskappe (Geografie en Geskiedenis), is sy ook aangewys as die beste laerskool onderwyser (Senior Fase) in Gauteng in 2019. Sy het twaalf jaar as onderwyseres gepraktiseer. Sy doseer tans die volgende modules: OSWIF150, OSWIF260 asook OPOGF150.

Dr. Chris-Mari Le Hanie

Dosent:
Opvoedkunde

Chris-Mari Le Hanie is ʼn senior dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn PhD in Opvoedkunde met Kurrikulumstudies asook ʼn honneurs-en meestersgraad in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Chris-Mari se navorsingsfokus is kurrikulumstudies, assessering, navorsing en besigheidsonderwys. In haar loopbaan het sy verskeie posisies beklee: kurrikulumkoördineerder, kurrikulumontwikkelaar, hoof van institusionele kwaliteit en akademiese steun, onderwyser en dosent. Chris-Mari is die skrywer van verskeie joernaalartikels, boekhoofstukke en boeke in die veld van opvoedkunde. Sy doseer tans die volgende modules: Akademiese Vaardighede, Opvoedkunde 2A, Assessering en Onderrig en Leer in Opvoedkunde-konteks.

Daleen Botha

Dosent:
Opvoedkundige Sielkunde

Daleen Botha is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn honneursgraad in Leerderondersteuning (cum laude) asook ʼn meestersgraad (cum laude) in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Sy is tans besig met ʼn doktorale proefskrif in Onderwys vir Spesiale Behoeftes. Daleen se navorsingsfokus is funksionele Skoolgebaseerde Ondersteuningspanne. Sy het vyftien jaar in die onderwysberoep gestaan en op distrikvlak vir nege jaar skole en leerders bedien as Senior Onderwysspesialis: Inklusiewe Onderwys en Spesiale Skole. Tot onlangs het sy Inklusiewe onderwys- en Wiskundemodules aan STADIO (Centurionkampus), ʼn hoëronderwysinstelling, doseer. Sy doseer tans die volgende modules: Akademiese Vaardighede, Praktiese Onderwys en Leerhindernisse.

DJ Cloete

Dosent:
Afrikaans, Afrikaansonderwys en Afrikaans as Taal van Onderrig en Leer

DJ Cloete is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BA-graad in Tale asook ʼn honneurs- en meestersgraad in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Hy het ook sy NGOS-kwalifikasie by Akademia verwerf. DJ het ʼn wye belangstelling in die werkinge van taal en het al meegewerk aan internasionale projekte wat insluit Skryfhulp Afrikaans. Voor die aanvang van sy posisie was hy was ʼn lektor in taalkunde aan die Noordwes-Universiteit en ook nou betrokke by projekte wat deur ICELDA en SADiLaR geloods is. Hierdie projekte se doel is om hulpmiddels daar te stel wat studente kan ondersteun tydens hulle akademiese loopbaan en om meertaligheid binne die hoëronderwyskonteks te bevorder. Hy was ook projekbestuurder van ʼn nuwe boek oor toegepaste taalkunde in Afrikaans, getitel Toegepaste Taalkunde in Afrikaans (2022). DJ se navorsingbelangstellings is Variasietaalkunde en Rekenaargesteunde taalonderrig. Hy doseer tans die volgende modules: OAFGI260 en OPOIF260 as deel van die BEd-program en OATOL150 en OAASN171 as deel van Akademia se NGOS-aanbod.

Elana Kriel

Dosent:
Lewensvaardighede, Opvoedkunde en Akademiese Vaardighede Programkoördineerder: BEd (Intermediêre Fase-onderwys)

Elana Kriel is dosent in Opvoedkunde van die BEd-program. Sy het ʼn BA (cum laude), hoëronderwysdiploma – nagraads (cum laude) aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Daarna verwerf sy die BEd-graad in Opvoedkundige Sielkunde, ook aan die Universiteit van Pretoria. Aan die Universiteit van Suid-Afrika behaal sy die BEd-graad met spesialisering in Skoolvoorligting. Haar MEd-graad met spesialisering in Opvoedkundige Sielkunde en die skripsie getiteld “ʼn Analise van die potensiaal van Narratiewe Terapie as streshantering by ʼn opvoeder in insluitende onderwys” word behaal aan die Universiteit van Pretoria. Tydens haar nagraadse studies doen sy ervaring op by verskeie skole as aflosonderwyser en deeltydse dosent in afstandsonderrig vir onderwysers, gemoeid met opleiding in spesiale behoeftes. Ná registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe (HPCSA) praktiseer Elana as opvoedkundige sielkundige. Sy doen ervaring op in die korporatiewe wêreld met telefoonberading en die bestuur van die inbelsentrum. Verder bestuur sy ook die nasionale netwerk van diensverskaffers in die spesifieke werknemersondersteuningsprogram. Sy was vir tien jaar by Kwaggasrand Tegniese Beroepsgerigte Skool vir Leerders met Spesiale Behoeftes (LSOB) werksaam as terapeut. Sy was behulpsaam in die verwysings- en assesseringsproses van leerders na en van spesiale skole en aan die stuur van ʼn multiprofessionele ondersteuningspan. Haar passie is terapeutiese bemoeienis, opvoeding en opleiding aan onderwysers. Elana doseer die BEd-modules Lewensvaardighede, Opvoedkunde en Akademiese Vaardighede.

Jhani Pottas

Dosent:
Opvoedkunde

Jhani Pottas is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BEd-graad in Lewenswetenskappe- en Wiskunde-onderwys asook ʼn honneurs- en meestersgraad (met onderskeiding) in Lewenswetenskappe-onderwys aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Akademiese toekennings sluit in die toekenning vir beste honneursstudent in Lewenswetenskappe. Sy het agt jaar as Lewens- en Natuurwetenskappe onderwyser gewerk. Sy doseer tans die volgende modules:

  • Natuurwetenskappe en Tegnologie 2 (ONTIF260)
  • Algemene Pedagogiek 2 (OAPIF260)
  • Kurrikulum, Onderrig en Assessering (OKUNG171)

Mariaan Oschman

Dosent:
Besigheidstudies- en
Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-
onderwys

Mariaan Oschman is ʼn dosent in Ondernemingsbestuur by Akademia. Sy het ʼn BCom-graad in Bemarkingsbestuur, asook ʼn honneursgraad in hierdie dissipline aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Sy het ses jaar as ʼn onderwyseres in Ekonomie en Besigheidstudies gepraktiseer. Sy doseer tans die volgende modules: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (SF), Ekonomie (VOO) en Besigheidstudies (VOO) vir NGOS-studente.

Monique Alberts

Dosent:
Engels, Engelsonderwys en Engels as Taal van Onderrig en Leer

Monique Alberts is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn BEd-graad in Verdere Onderwys en Opleiding asook ʼn honneursgraad in Engels Letterkunde en in Opvoedkunde met ʼn fokus op leerderondersteuning (cum laude) aan die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Suid-Afrika onderskeidelik verwerf. Sy is tans besig met ʼn meestersverhandeling in Opvoedkunde. Alberts se navorsingsfokus is Engels as taal van onderrig en leer. Sy het agt jaar as onderwyseres gepraktiseer. Sy doseer tans die volgende modules:

  • Akademiese Vaardighede vir Studenteonderwysers
  • Engels 2
  • Praktiese Onderwys 2
  • Engels Eerste Addisionele Taal-onderwys (SF)
  • Engels as Taal van Onderrig en Leer

Dr. Nic de Jager

Dosent:
BEd: English 1 (Foundation and Intermediate Phase) en NGOS: English First Additional Language Teaching (Senior Phase)

Dr. Nic de Jager doseer in die Fakulteit Opvoedkunde en spesialiseer in Engels vir beide die BEd- en NGOS-programme. Hy het ʼn baccalaureusgraad in Onderwys (Senior Fase- en VOO-onderwys) aan die Noordwes-Universiteit verwerf, en daarna ʼn BA-honneursgraad in Engelsonderwys, ʼn MA in Toegepaste Taal en Geletterdheidsonderwys en ʼn PhD in Onderwys aan die Universiteit van die Witwatersrand. Dr. De Jager se passie vir onderrig en opvoeding lê in die kunste, letterkunde en verskeie digitale platforms, en die geleenthede wat hierdie areas vir kreatiewe uitdrukking en selfverwesenliking bied. Hy praktiseer sedert 2011 as onderwyser, vakhoof en dosent by verskeie sekondêre sowel as tersiêre onderriginstellings, onder meer Universiteit van die Witwatersrand en Tshwane-Universiteit vir Tegnologie. Hy het sodoende grondige praktykervaring as opvoeder in beide die hoërskool- en universiteitskonteks opgedoen. Sy navorsingsfokus is multimodale pedagogiek, spesifiek die toepassing van alternatiewe onderrigstrategieë in die ontsluiting van voorgeskrewe vakkennis. Sy gepubliseerde werk sluit akademiese artikels asook illustrasies vir boeke in. Sy nuutste gepubliseerde artikel is getiteld “Reading Gamefully: Videogamification as Multimodal Pedagogy for High School Setworks”.

Dr. De Jager doseer die volgende modules by Akademia: BEd: English 1 (Foundation and Intermediate Phase), BEd: Lewensvaardighede 2 (Visuele Kuns), NGOS: English Home Language Teaching (Senior Phase) en NGOS: English Home Language Teaching (FET Phase).

Santie Louw

Dosent:
Wiskunde 1 (BEd), Natuurwetenskap en Tegnologie 1 (BEd) en Wiskunde-onderwys (NGOS)

Santie Louw is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ʼn MSc TEd-graad in Wiskunde-onderwys in hierdie dissipline aan die Universiteit van Oxford verwerf, asook ʼn honneursgraad in Wiskunde aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus). Sy is tans besig met nagraadse studies in Teologie. Santie se navorsingsfokus was die opleiding van Wiskunde-onderwysers in ʼn vakleerlingmodel. Sy het vyf-en-dertig jaar as Wiskunde- en Wetenskaponderwyser gepraktiseer. Sy doseer tans die volgende modules: Wiskunde 1 (BEd), Natuurwetenskap en Tegnologie 1 (BEd) en Wiskunde-onderwys (NGOS).

Susan O’Reilly

Programkoördineeder:
NGOS

Dosent:
BEd: Opvoedkunde 1A en Akademiese Vaardighede en NGOS: Leer- en Leerderontwikkeling in Opvoedkunde-konteks

Susan O’Reilly is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia en beskik oor ʼn meestersgraad in Psigologie (cum laude) en ʼn professionele onderwyskwalifikasie. Haar onderwysprofiel sluit skoolonderwys- asook tersiêre ervaring in. Haar meestersgraadverhandeling is verwerk en as artikel opgeneem in die internasionale joernaal, Journal of Intergenerational Relationships.

Susan is die programkoördineerder van die Nagraadse Onderwyssertifikaat vir Senior Fase- en VOO-onderwys by Akademia. Sy doseer ook Opvoedkunde 1A (Sosio-pedagogiek) en Opvoedkunde 1B (Ontwikkeling en leer van die adolessent) in die BEd-program en Werksgeïntegreerde Leer (Leer in Praktyk) in die NGOS-program.

DEELTYDSE DOSENTE

Prof. Arend Carl

Dosent:
Sosiale Wetenskappe en
Geskiedenis-onderwys

Prof. Arend Carl is ʼn deeltydse dosent in Sosiale Wetenskappe-onderwys (SF), sowel as Geskiedenisonderwys (VOO) by Akademia. Hy het ʼn BA, BAHons in Geskiedenis, Hoër Onderwysdiploma, BEdHons, MEd en DEd aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy was 35 jaar verbonde aan die Departement Kurrikulumstudie se Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy onder andere visedekaan van Onderrig en Leer was. Arend se navorsingsfokusse is Kurrikulumstudie en Sosiale Wetenskappe. Hy het wyd op hierdie gebied gepubliseer en etlike referate by beide nasionale en internasionale konferensies gelewer. Hy dien op die redaksie van Tydskrif vir Geesteswetenskappe, sowel as Yesterday&Today. Sy boek, Teacher empowerment through curriculum development: Theory into practice (tans in die 5de uitgawe), word wyd aan Suid-Afrikaanse universiteite in onderwysersopleiding gebruik. Hy doseer tans die volgende modules: Sosiale Wetenskappe- en Geskiedenisonderwys.

Prof. Erna du Toit

Dosent:
Lewenswetenskaponderwys

Prof. Erna du Toit is ʼn deeltydse dosent in Lewenswetenskaponderwys aan die Fakulteit Opvoedkunde. Sy verwerf onder andere die volgende kwalifikasies: ʼn hoëronderwysdiploma, BScHons (Plantkunde); MEd en haar PhD in Didaktiek aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy begin haar hoëronderwysloopbaan aan die destydse Vista Universiteit vanwaar sy gesekondeer word na die Universiteit van die Vrystaat. In 2014-2018 word sy deel van die akademiese span wat die onderwysprogramme aan die nuutgestigte Sol Plaatje-universiteit geïmplementeer het. Tans tree sy as opvoedkundekonsultant op.

Sy het verskeie publikasies, hoofstukke in boeke, en boeke die lig laat sien asook nasionale en internasionale referate gelewer. As studieleier en ook medestudieleier het vier doktorale en tientalle MEd-studente hulle studies suksesvol voltooi.

Esme Leus

Dosent:
Rekenaarvaardighede

Me. Esmé Leus is ʼn deeltydse dosent in Rekenaarvaardighede by Akademia en het ʼn baccalaureusgraad in Tegnologie asook ʼn meestersgraad in Inligtingstegnologie aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Esmé se navorsingsfokus is die evaluering van die IT-komponent in toerisme- en gasvryheidskurrikulums. Sy het tien jaar se ondervinding as dosent in tersiêre onderrig in inligtingstegnologie en spesialiseer ook in bestuursinligtingstelsels.

Esmé doseer tans die Rekenaarvaardigheidsmodule in die NGOS-program in die Fakulteit Opvoedkunde.

Johan Koekemoer

Dosent:
Wiskunde-onderwys

Johan Koekemoer het studeer aan die Noordwes-Universiteit (NWU) asook die Universiteit van Pretoria. In 2012 verwerf hy sy BIng-graad in meganiese ingenieurswese, waarna hy rigting verander het na onderwys om in sy roeping te volhard. Tussen 2013 en 2017 voltooi hy sy nagraadse onderwyssertifikaat (NGOS) asook sy honneurs in Wiskunde-onderrig. In 2017 lewer hy die bevindings van sy navorsingsprojek (Aligning mathematics taught in the intermediate phase, with afterschool enrichment programs, to respond to a changing engineering education landscape) by die tweejaarlikse internasionale kongres van die Suid-Afrikaanse Gemeenskap van Ingenieurs opvoeding (SASEE). In 2017 voltooi hy ook ’n Wiskunde-onderrigkursus by die Freudenthal Instituut aan die Utrecht Universiteit in Nederland. Sedert 2018 is hy werksaam by die Skoleondersteuningsentrum as die hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers. Hy lewer ook vanjaar sy meestersgraadskripsie rakende Wiskunde-onderwys en die integrering van tegnologie.

Karien Brits

Dosent:
Afrika-gesprekstaal

Karien Brits is ʼn dosent in Sepedi as Gesprekstaal by Akademia en het ʼn BBk-graad (Bedryfskommunikasie) asook ʼn honneurs- en meestersgraad (cum laude) in Setswana aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Karien se navorsingsfokus is meertaligheid en taalbeplanning, maar sy stel ook belang in taalverwerwing, morfologie, taaltegnologie en onomastiek. Haar groot liefde vir taalaanleer vind neerslag in die praktyk en sy het die volgende tale op haar kerfstok: Duits, Pools, Spaans, Frans, asook van die Sotho- en Ngunitale. Sy is tans besig om Turks en Russies aan te leer. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn artikel in die South African Journal of African Languages oor taalstereotipering en meertaligheid. Akademiese toekennings sluit in die beste honneursstudent in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Sy is al vir bykans twee dekades in die universiteitswêreld betrokke en was werksaam by die Noordwes-Universiteit, die Adam Mickiewicz-Universiteit in Poznan (Pole) asook die Universiteit van Johannesburg. Sy doseer tans die volgende module: Afrikagesprekstaal (Sepedi) in die NGOS-program, Fakulteit Opvoedkunde.

Michelle van Dyk  

Dosent:
Lewensvaardighede

Michelle van Dyk is ʼn deeltydse dosent in die Fakulteit Opvoedkunde en doseer die Dramakomponent van die Lewensvaardighedemodule vir BEd-tweedejaarstudente by Akademia. Sy het ʼn meestersgraad in Drama- en Filmstudie aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie verwerf. Michelle het uitgebreide ervaring in die onderrig van toneelspel en het by hoëronderwysinstellings onderrig; sy was ook hoof van die dramadepartement by ʼn hoërskool en het op ʼn paneel gedien vir kurrikulumontwikkeling van Dramatiese Kunste vir graad 10 tot 12, namens die Gautengse Departement van Onderwys. Michelle het ook vaardigheidsklasse in Improvisasie vir professionele sowel as amateurakteurs in Amsterdam gelei. Sy het praktiese ervaring in die vermaaklikheidsbedryf, waar sy werksaam was in kinderteater, poppespel en as assistentproduksieontwerper. Akademiese toekennings sluit in die toekenning vir beste ondersteunende hoofrol in ʼn produksie, asook beste akademiese prestasie in die Dramadepartement aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie.

Moreen Coetzee

Dosent: NGOS Natuurwetenskappe-onderwys en Fisiese Wetenskappe-onderwys

Moreen Coetzee is ’n dosent in Opvoedkunde by Akademia en het ’n BSc-graad in Fisiologie en Biochemie, asook ’n professionele onderwyskwalifikasie aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het ’n honneurs- en meestersgraad in Fisiese Wetenskappe-onderwys aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Haar meestersgraadverhandeling lewer twee artikels op getiteld, “First-year university students’ conceptual understanding of electric circuits in relation to school and personal background” asook “Conceptual understanding of electric circuits amongst students entering university physics” gepubliseer in die joernaal Perspectives in Education.  

Sy het vir sewe jaar in die onderwysomgewing gewerk met deeltydse ervaring as navorser. Moreen se navorsingsbelangstelling is navraaggebaseerd t.o.v. onderwys en leer, en die konteks daarvan in Suid-Afrikaanse klaskamers. Moreen doseer Natuurwetenskappe-onderwys (ONOSN 171) asook Fisiese Wetenskappe-onderwys (OFOVN 172) deeltyds in die NGOS-program.

Tina Myburgh

Dosent:
Departement Opvoedkundestudie

Tina Myburgh is ʼn deeltydse dosent in Lewensoriëntering-onderwys by Akademia en het ʼn BA-graad in Psigologie en Tale asook ʼn honneurs in Psigologie aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) verwerf. Sy het ook ʼn professionele onderwyskwalifikasie aan dieselfde universiteit behaal. Sy het twee en dertig jaar as onderwyseres gepraktiseer. Haar passie is Lewensoriëntering en die ontwikkeling van studiemateriaal vir leerders. Die geestesgesondheid van jongmense is vir haar belangrik en sy glo dat Lewensoriënteringonderwysers ʼn uiters belangrike rol het om te speel in die versorging en die optimale ontwikkeling van die jeug se geestesgesondheid. Sy doseer tans die volgende modules in die NGOS-program: OLEVN172.

Dr. Viné Petzer

Dosent:
Rekeningkunde-onderwys

Dr. Viné Petzer is ʼn dosent in Rekeningkunde-onderwys (VOO) by Akademia en het ʼn BCom-graad (cum laude), ʼn nagraadse onderwysdiploma asook ʼn honneurs- en meestersgraad (cum laude) in Onderrig en Leer aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf. Sy het ook haar doktorsgraad ontvang na aanleiding van ʼn verhandeling oor ʼn model om positiewe rekeningkundige klaskameromstandighede te skep wat suksesvolle leer op skool ondersteun. Viné se navorsingsbelangstellings is tans gefokus op die verbetering van onderrig- en leerstrategieë in rekeningkunde, met die doel om kognitiewe ontwikkeling onder leerders sowel as voordiensonderwysers te bevorder. Sy is ook besig om artikels vir publikasiedoeleindes in ʼn internasionale geakkrediteerde tydskrif te finaliseer. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn hoofstuk in ʼn boek oor “Quality education: The nexus of human capital development, economic growth and social justice in a South African context” by die NWU, en het sy ook bygedra tot ʼn hoofstuk in die boek Developing Critical Thinking. Sy het 25 jaar ervaring in onderwys op skool- en hoëronderwysvlak.

ADMINISTRATIEWE BEAMPTES

Nadia Herbst

Administratiewe beampte:
Proefonderwys

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE