Aansoeke is steeds oop

PERSONEEL

Akademia het uitnemende en roepinggedrewe personeel wat bydra tot ’n leerervaring van wêreldgehalte.

FAKULTEITE

DEPARTEMENTSHOOFDE

Alida Kok

Departementshoof:
Sosiale Wetenskappe

Alida Kok het tien jaar ervaring in die dosering van politieke wetenskappe, en was vantevore werksaam as dosent by die Universiteit van Pretoria (UP) en Unisa. Sy het ook voorheen as navorser en analis in die universiteits-, nieregerings- en privaatsektor, en as ʼn adjunk- en waarnemende direkteur vir die internasionale samewerkingprogram by die Departement van Wetenskap en Tegnologie gewerk. Alida is ʼn rubriekskrywer vir Beeld en Die Burger en lewer gereeld kommentaar in die media oor Suid-Afrikaanse politiek. Sy het haar voorgraadse en honneursstudies (cum laude) in Politieke Wetenskap, met spesialisering in Internasionale Verhoudinge, by UP voltooi. Haar meestersgraad handel oor “liefde” en “die politieke” in die politieke teorie van Hannah Arendt. Hierdie studie het veral betrekking tot die manier waarop ons vandag ʼn openbare sfeer – wat ʼn spasie bied waarin diverse mense kan floreer – in ons Suid-Afrikaanse samelewing vorm. Alida doseer Politiek en Politieke Teorie by Akademia.

Dr. Alé Steyn

Departementshoof:
Tale en Kultuurwetenskappe Programkoördineerder: BA (Kommunikasie en Joernalistiek)

Dr. Alé Steyn is die departementshoof vir Tale en Kultuurwetenskappe. Sy het haar meesters- en doktorsgraad in Kommunikasiestudies (met spesialisering in Joernalistiek) aan die Noordwes-Universiteit verwerf en honneurs- en meestersgrade in Engelse Letterkunde aan onderskeidelik die Universiteit van die Vrystaat en Kaapstad voltooi. Sy verwerf ook ʼn sertifikaat in teksredigering van die Universiteit van Kaapstad. Alé het meer as tien jaar se ervaring as onder meer subredakteur, bladuitlegkunstenaar, joernalis, nuus- en inhoudsredakteur, manuskripontwikkelaar, teksredigeerder en media- en reklamepraktisyn. Sy was voorheen senior dosent in Joernalistiek en Korporatiewe Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, waar sy erkenning ontvang het vir haar uitnemende en innoverende onderrig. Haar navorsing is by plaaslike en internasionale kongresse voorgelê en sy het al etlike gaslesings by universiteite in die buiteland aangebied.

DOSENTE

Andre Gouws

Dosent:
Visuele en Digitale Kommunikasie

André Gouws – dosent: Visuele en Digitale Kommunikasie, Fakulteit Geesteswetenskappe, Departement Tale en Kultuurwetenskappe

André Gouws is ’n ervare joernalis en akademikus. Gouws is sedert 2017 in die akademie. Hy het van 2017 tot 2018 joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) gedoseer, en van 2019 tot 2022 joernalistiek en kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Gouws het in 2018 ’n MA-graad in Joernalistiek en Mediastudies (met lof) aan die Rhodes-Universiteit verwerf, en in 1993 ’n BA-graad in Politieke Wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg.

Gouws het in 2022 die uitnemende onderrigtoekenning van Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Geesteswetenskappe vir onderrig in die Skool vir Kommunikasie ontvang, en in 2021 die uitnemende onderrigtoekenning van NWU vir die gebruik van inligtingstegnologie in onderrig. Hy was in 2021 en 2022 NWU-genoot vir oop onderrig.

Gouws doen navorsing oor digitale media en visuele kommunikasie, asook joernalistiekonderrig. Hy is tans besig met sy PhD aan US. Sy PhD-navorsing handel oor die digitale openbare sfeer en sosiale media. Hy het in 2022 ’n referaat gelewer by die NWU se eerste konferensie oor Digitale Tegnologie in Moeilike Tye in die Geesteswetenskappe oor die gebruik van tegnologie in onderrig, en het ook in 2022 ’n akademiese boekhoofstuk gepubliseer in die boek Contextualised open educational practices, oor selfgeleide studie in hoër onderrig.

Gouws was meer as twee dekades lank verbonde aan verskillende media-instellings, waaronder Beeld, Die Burger en Grafika24, Media24 se infografika-afdeling. Hy was die stigtersredakteur van Grafika24, en het ook verskeie ander redakteursposisies gevul, waaronder nagredakteur en hoofsubredakteur van Die Burger. Hy is sedert 2023 die publieke verteenwoordiger vir die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) op die Persraad van Suid-Afrika.

Dr. Annerie Geyer

Dosent:
Kommunikasie

Dr. Annerie Geyer is ʼn Kommunikasie-dosent by Akademia en het ʼn BA-graad, ʼn honneurs-, meesters- en doktorsgraad (met spesialisasie in Kommunikasiebestuur) in hierdie dissipline aan die Noordwes-Universiteit en Universiteit van Pretoria verwerf. Annerie se navorsingsfokus is organisasiekommunikasie, met spesifieke fokus op verhoudingsbestuur en werknemerbetrokkenheid. Haar mees onlangse werk is ʼn referaat wat handel oor werknemerbetrokkenheid by die Internasionale Navorsingsimposium vir Openbare Betrekkinge (BledCom). Sy het vier jaar as kommunikasiekonsultant gepraktiseer en doseer reeds agt jaar in kommunikasie. Sy doseer tans die volgende modules: Kommunikasiebestuur 1, Korporatiewe Media 1, Akademiese Geletterdheid 1 en Bedryfskommunikasie.

Dr. Hélanie Jonker

Dosent:
Kommunikasiebestuur

Dr. Hélanie Jonker is ’n dosent in Kommunikasiebestuur by Akademia en het ’n B-graad in Bedryfskommunikasie asook ’n meesters- en doktorsgraad (met spesialisasie in Ontwikkelingskommunikasie) aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sy het reeds meer as twee dekades gelede haar loopbaan begin en het werkservaring as kommunikasiepraktisyn en projekbestuurder in die hoër onderwys en organisasies sonder winsoogmerk. Die afgelope sewe jaar het sy gewerk as vryskut- akademiese kursusinhoudskrywer en dosent by verskeie private hoëronderwysinstellings. Hélanie se navorsingsfokus is ontwikkelingskommunikasie, asook organisasiekommunikasie. Sy is ’n bydraende skrywer van die handboek, getiteld: Developing Soft Skills for Success: A guide for modern professionals (Uitgewer: Van Schaik) waarin sy die hoofstuk oor professionele kommunikasievaardighede geskryf het. Hélanie doseer tans die volgende modules: Kommunikasiebestuur, Korporatiewe Media en Akademiese Geletterdheid.

Dr. Hercules Boshoff

Dosent:
Filosofie

Dr. Hercules Boshoff is die vakhoof in Filosofie. Hy het sy doktorsgraad by die Universiteit van die Vrystaat verwerf, en sy meestersgraad by die Universiteit van Pretoria. Tydens sy navorsing het hy onder van Nederland se mees vooraanstaande filosowe gewerk. Sy publikasies dek die filosofie van taal, ekonomie, tegniek, Duitse idealisme en die geskiedenis van filosofie.

Jean-Jacques Boshoff

Programkoördineerder:
BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
Dosent:
Politiek

Jean-Jacques Boshoff is ʼn dosent in Politiek by Akademia en het ʼn honneursgraad in hierdie dissipline aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Hy is tans besig met die voltooiing van ʼn meestersverhandeling in politieke wetenskappe. Jean-Jacques het agt jaar se ervaring in die dosering van politieke wetenskappe, en was voorheen verbonde aan UP en Unisa. Jean-Jacques se navorsingsfokus is politieke bemarking en Afrika-politiek. Sy mees onlangse gepubliseerde werk is ʼn artikel oor die verskynsel van negatiewe verkiesingsveldtogte gedurende die Suid-Afrikaanse nasionale verkiesing van 2014. Hy het ook as politieke konsultant by verskeie nieregeringsorganisasies gewerk.

Landi Slatter

Dosent:
Joernalistiek en Mediastudies

Landi Slatter is ’n dosent in Joernalistiek by Akademia en het ’n BA-graad in Kommunikasiestudies aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus verwerf, asook haar BA Honneurs (met spesialisering in Joernalistiek) en meestersgraad (in kommunikasiestudies met spesialisering in Joernalistiek) cum laude aan dieselfde universiteit. Slatter het haar loopbaan by Maroela Media begin en later by Rapport se nuuskantoor in Pretoria aangesluit as algemene joernalis; sy het ook die onderwysbeat gedek en in hierdie hoedanigheid as gas opgetree by radiostasies en Facebook Live-paneelgesprekke. Sy is steeds ’n vryskutjoernalis en tree weekliks as radiogas op om plaaslike nuusaangeleenthede te bespreek. Slatter doseer die volgende modules, Joernalistiek 1, Skryf en Redigeer vir die Media 1 asook Skryf en Redigeer vir die Media 2.

Pierre Muller

Dosent:
Etiek, en die Kuns van
Argumentering

Pierre Muller is dosent in Etiek en die Kuns van Argumentering. Hy het ʼn BTh in Bybelse Tale en ʼn honneursgraad in Filosofie. Hy is tans besig met sy meestersgraad in laasgenoemde dissipline aan die Noordwes-Universiteit, waarin hy fokus op die verhouding tussen ons verstaan van vrye wil en wetenskapsfilosofie. Pierre lewer akademiese aanbiedings op beide nasionale en internasionale vlak. Hy was betrokke gewees by universiteitedebat as afrigter, beoordelaar en spreker, en het die Noordwes-Universiteit, en later Suid-Afrika, verteenwoordig by die 2019-wêreldkampioenskappe van die Universiteitewêrelddebat. Hy was voorheen verbonde aan die Noordwes-Universiteit as deeltydse dosent by die Skool vir Filosofie, en as deeltydse dosent en nagraadse assessor in die Fakulteit Teologie.

Rentia Pretorius

Dosent:
Politiek, Internasionale
Verhouding, en Kernintegrasie

Rentia Pretorius is ʼn dosent in Politiek by Akademia en het ʼn BA-graad, ʼn honneursgraad in Politieke Wetenskappe, ʼn Nagraadse Hoër Diploma in Biblioteekkunde en ʼn meestersgraad in Politiek aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Rentia se navorsingsfokus is Afrika-politiek, demokratisering en internasionale verhoudinge. Haar mees onlangse gepubliseerde werke is ʼn artikel in die vaktydskrif Studia Universitatis Babes-Boloyai: Studia Europaea se spesiale uitgawe oor internasionale betrekking in Afrika (2019). Sy was vir meer as 30 jaar ʼn dosent in Politiek en Internasionale Verhoudinge aan die Universiteit van Pretoria. Sy doseer tans die volgende modules: Politiek 1, Politiek en Internasionale Verhoudinge, asook Kernintegrasie.

Thinus Malan

Dosent:
Filosofie

Thinus Malan is dosent in Filosofie 3 en Kernintegrasie. Hy het ʼn BTh in Bybelse Tale en ʼn honneursgraad in Filosofie. Hy is tans besig met sy meestersgraad in laasgenoemde dissipline aan die Noordwes-Universiteit, waarin hy fokus op Alvin Plantinga se epistemologie. Hy het ʼn belangstelling in apologetiek en formele logika en het verskeie kursusse in logika opgestel en aangebied.

Yolandi Groenewald

Dosent:
Joernalistiek

Yolandi Groenewald is ʼn gesoute en bekroonde omgewings- en sakejoernalis met twintig jaar se ervaring in die mediabedryf. Sy het haar loopbaan by die Mail & Guardian begin en later by Rapport en City Press aangesluit. Yolandi was ook die burohoof by Fin24 en het vir onder meer Vrye Weekblad en talle internasionale publikasies geskryf. Yolandi het kommunikasie en joernalistiek aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys studeer en doseer tans joernalistiekmodules in die program BA Kommunikasie en Joernalistiek.

DEELTYDSE DOSENTE

Daan Goosen

Dosent:
Bedryfsetiek

Daan Goosen is ʼn dosent in die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia en het ʼn BA-graad en honneurs (cum laude) in Visuele Kultuurstudies aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hy is tans besig met ʼn meestersverhandeling in filosofie. Daan se navorsingsfokus is die etiek van Thomas Aquinas. Hy doseer tans die volgende modules: Bedryfsetiek.

Dr. Morne Malan

Dosent:
Inleiding tot Regslatyn

Dr. Morné Malan het sy doktorsgraad in Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Hy het verder ʼn meestersgraad in Teologie, ʼn honneursgraad in Antieke Tale en Kultuur, asook ʼn BTh-graad, by dié universiteit voltooi. Malan is ook ʼn trotse alumnus van Akademia en het sy BCom-graad in Ekonomie en Regte aan dié instelling verwerf, waarna hy ʼn honneursgraad in Ekonomie by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) voltooi het. Hy is tans besig met ʼn MCom-graad in Ekonomie by die Noordwes-Universiteit (NWU). Malan is ʼn ervare dosent wat al ʼn wye verskeidenheid modules aangebied het. Hy doseer tans die module Inleiding tot Regslatyn.

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE