Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

BESTAANSREDE

Akademia is ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling
vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.

VISIE

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms.

Akademia se waardes

Die strewe na kennis en wysheid
Akademia strewe na die uitbou van kennis en wysheid. Die strewe na kennis en wysheid word nie afgesluit nie, maar dui in aansluiting by die klassieke universiteitswese op ʼn eindelose avontuur en opgawe.
Geloof, hoop en liefde

Akademia is ʼn universitêre ruimte wat in die Christelike geloof geanker is, en wat prakties uitgeleef word deur liefde vir God en medemens, asook die hoop op ʼn beter lewe nou en tot in ewigheid.

Rentmeesterskap

Akademia bou voort op die goeie en die skone wat ons vanuit die verlede ontvang het met die doel om dit aan toekomstige geslagte oor te gee.

Pionierskap

Akademia word gekenmerk deur die deurlopende pionierswerk wat deur die studente en personeel van die instelling gelewer word.

Verbondenheid

Akademia is as gemeenskapsinstelling in die hoër onderwys verbonde aan die eie gemeenskappe. Tegelyk strewe dit goeie verhoudinge met ander gemeenskappe na. Sowel die “verbondenheid aan die eie” as die “goeie verhoudinge met ander” word deur vriendskap, geregtigheid en ʼn oop gesprek gekenmerk.

Terwyl Akademia ’n moderne, toekomsgerigte hoëronderwysinstelling is

sluit ons tegelyk by die klassieke universiteitswese en die opvoedingsideale ten grondslag daarvan aan.

’n Christelike hoëronderwysinstelling

Akademia speel op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese.

Vanuit Christelike vertrekpunte aanvaar Akademia dat daar nie ’n onoorbrugbare kloof tussen geloof en rede bestaan nie. Sonder geloof verskraal die rede tot ’n blote instrument van kontrole en magsuitoefening (terwyl die geloof sonder die denke tot ’n irrasionele saak verskraal word).

In positiewe terme geformuleer: Met sy ankers in die geloof word die rede in staat gestel om na die aard van die ganse skeppingswerklikheid in sy onpeilbare goedheid, waarheid en skoonheid te vra.

Klassieke universiteitswese

Akademia is tot die ideale van die klassieke universiteitswese verbind soos wat dit vanuit ou Griekeland en die Middeleeue gevorm en binne die moderne Europese universiteitswese gestalte gekry het.

Tot die wese van die klassieke universiteitswese staan die gedagte dat die denke tot sy reg kom wanneer dit a) oopstaan vir die wonder van die werklikheid as geheel en dit b) op ’n krities-dialogiese wyse na die aard en wese daarvan vra.

Afrikaans

Akademia is ’n Afrikaanse instelling. Dit beteken dat Akademia uitnemende opleiding en uitstaande opvoeding in Afrikaans – een van die mees ontwikkelde universitêre tale van die moderne era – aanbied.

Gemeenskapsinstelling

Akademia is ’n gemeenskapsinstelling wat, in aansluiting by die voorbeeld van vooraanstaande gemeenskapsuniversiteite elders in die wêreld, daarop gerig is om die universitêre ideale van ’n spesifieke taal- en kultuurgemeenskap te dien.

As gemeenskapsinstelling strewe Akademia tegelyk goeie verhoudinge en wedersydse samewerking met universiteite in Suid-Afrika en elders in die universitêre wêreld na. Die terme “gemeenskap” en “globaal” staan nie by Akademia in spanning met mekaar nie. Inteendeel, die spesifieke gemeenskap en die globale wêreld word by Akademia eerder in onderlinge samehang raakgesien.

Privaat hoëronderwysinstelling

Akademia is ’n privaat en selfstandige instelling. As sodanig is dit nie van die staat, sy veelheid van semi-staatlike filiale en heersende politieke neigings afhanklik nie. Ingevolge ekonomiese filosofie word Akademia met behulp van die beste moontlike praktyke binne die konteks van die vrye mark bestuur.

Uitnemende professionele en beroepsgerigte opleiding

Akademia is daartoe verbind om op ’n uitnemende wyse aan die behoefte van professionele opleiding te voorsien. Akademia sien toe dat Afrikaanse studente die arbeidsmark in sy veelheid van segmente suksesvol betree.

Ten grondslag van Akademia se verbintenis tot uitnemende opleiding staan sy roepingsbesef – en in die besonder die ideaal dat studente ook in en deur die beroepslewe geroepe sal wees om ’n Bybelse “lig vir die wêreld” te wees.

Die klassieke ideaal van opvoeding

Akademia is eweneens verbind tot die klassieke ideaal van opvoeding soos wat dit in tradisionele universiteitswese na vore getree het.

In die hart van die klassieke opvoedingsideaal staan die gedagte dat studente nie net spesialiste binne ’n bepaalde dissipline sal wees nie, maar dat hulle tegelyk insig in die geheel van dinge sal hê. Ingevolge die klassieke opvoedingsideaal word dié insig met die strewe na wysheid geïdentifiseer.

Akademia stel ondersoek in na wyses waarop die sogenaamde “groot boeke-tradisie” uit die Westerse kultuurgeskiedenis (onder meer die groot boeke in die letterkunde, die geskiedenis, die teologie, die filosofie, die ekonomie, die wiskunde, die fisika en chemie) ’n integrale plek in sy taak as opvoedingsuniversiteit sal inneem.

Laasgenoemde vooruitsig word onderlê deur die verwagting dat opleiding en opvoeding vanaf die grondfase gelyktydig en met toenemende klem op spesialisering en beroepsgerigtheid sal geskied.

Net soos met sy verbintenis tot opleiding word Akademia se verbintenis tot uitstaande opvoeding gemotiveer deur die roeping om ’n “lig vir die wêreld” te wees.

Navorsing en dosering

Universiteite wêreldwyd word deur ’n spanning tussen navorsing (die teoretiese werk van universiteite) en dosering (die praktiese werk van universiteite) gekenmerk. Navorsing word toenemend ’n selfstandige rol toegeken, met die gevolg dat dosering ten koste van die studente ’n mindere waarde toegeken word. So kom teorie en praktyk op ’n ekstrinsieke grondslag los van mekaar te staan.

Akademia is nie net tot uitnemende navorsing en dosering verbind nie, maar ook tot die noodsaak om beide in hul intrinsieke samehang uit te bou en te ontwikkel. By Akademia ondersteun die belangrike werk van navorsing die ewe belangrike werk van dosering.

Kultuur van openheid en die rol van die vraag

Ondanks die aansprake van bestaande universiteite dat hulle forums van openheid, verdraagsaamheid en kritiese gesprek is, word hulle ironies genoeg toenemend deur politiek-korrekte voorskrifte en ideologies gedrewe programme gekenmerk.

Akademia verstaan homself as ’n forum wat ’n onbevange en kritiese gesprek bemiddel en moontlik maak. In die hart van dié oogmerk staan die sentrale rol wat Akademia en die dosente aan die ‘vraag’ in hul dosering toeken. In aansluiting by gemeenskapsuniversiteite in die VSA soos Baylor Universiteit en Hillsdale Kollege gaan Akademia uit van die gedagte dat die sentrale plek wat die vraag in die dosering beklee ’n belangrike rede is waarom laasgenoemde deur ’n jeugdige lewenskragtigheid, ’n sin vir die eksperiment en die avontuurlike soeke na die waarheid gekenmerk word.

Kortom, in en deur die sentrale plek wat die vraag beklee en die gesprek wat dit uitlok, oefen die dosering aan Akademia ’n magnetiese krag op die studente uit.

Universiteitsargitektuur

Akademia gaan uit van die standpunt dat die wyse waarop sy in die universiteitsargitektuur beliggaam word, nie maar net ’n sekondêre verskynsel is wat as ’n blote aanhangsel tot die wese van die universiteit self gesien kan word nie.

Inteendeel, net soos wat daar tussen teorie (navorsing) en praktyk (dosering) ’n onbreekbare band bestaan, net so is daar ook ’n onbreekbare band tussen die innerlike (die wese van die universiteit) en die uiterlike (onder meer versinnebeeld deur die argitektuur van die universiteitswese).

Akademia strewe daarna om in die toekoms sy Christelike en klassieke aard in die beste moontlike praktyke van die universiteitsargitektuur te beliggaam.

Akademia-tydlyn

Sorry,You have not added any story yet

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE