Afri-tegnies – die moeite werd?

Geskryf deur Riana Crafford, dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia en Trots Afrikaans.

 

In ʼn vorige artikel het ek tot dié slotsom gekom: Suid-Afrikaners is vindingryk en kom met interessante nuwe idees vorendag. Dis nog meer waar as dit kom by spitsvondige Afrikaanse nuutskeppings vir eietydse dinge, van koronavirus- en grendelsake tot nuwe tegnologiese uitvindings. Afrikaanssprekendes kook! Dink maar aan die “bekjassie” (masker) en “pespistool” (waarmee ons temperatuur nou oraloor gemeet word voor ons iewers mag binnegaan).

Nou is die vraag: Is dit die moeite werd om stroomop te swem en oor rekenaarsake in Afrikaans te probeer praat? Hoekom gee ons nie maar boedel oor en gebruik sommer die Engelse terme nie? Almal weet tog waarna mens verwys as jy van die scanner praat? Meeste van die tyd weet ons nie eers wat die ooreenstemmende Afrikaanse term is nie.

Hier kan ek jou nou op een van twee maniere antwoord: Uit die hart of met goeie denke daaragter. Uit my hart kom die antwoord dadelik op: Natuurlik is dit die moeite werd om my taal te beskerm – op alle fronte. Wie gaan nou willoos voor ʼn indringer swig? Die taal van indringing (in hierdie geval Engels) is nuttig om te gebruik in vele situasies, maar daar is nog steeds ruimte vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe om in keurige Afrikaans met mekaar te kommunikeer en ons verbondenheid aan mekaar so te bevestig.

My vraag aan jou is: hoeveel moeite gaan jy doen vir jou hartstaal?

Met my beredenerende denke het ek ook by baie sterk redes uitgekom: dit ís die moeite werd om telkens na die woordeboek te gryp wanneer jy wil praat oor tegnologie. Kom ons pak die idee dat Afrikaans ook ʼn plek in ons tegnologiese verkeer het ʼn bietjie uit:

Ek verwys na die artikel “Op reis met Afrikaans – van hart tot hart” deur prof. Anne-Marie Beukes waarin sy die volgende uitwys:

  • Afrikaans is die derde grootste taal in Suid-Afrika, met sowat 6,8 miljoen sprekers.
  • Afrikaans is een van slegs vyf tale in die wêreld wat in die 20ste eeu tot ʼn volwaardige akademiese en wetenskapstaal ontwikkel het.

Ons kan tog nie toelaat dat die veld wat ons voorsate gewen het, nou verlore gaan nie. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns werk die afgelope eeu toegewyd daaraan om juis dit te verhoed. Die Akademie is op 2 Julie 1909 gestig en het, volgens sy tuisblad bekendheid verwerf vir veral sy gereelde toekenning van pryse aan skrywers.

As ons taal dan as ʼn nederige “kombuistaal” begin het, is dit mos nou ons verantwoordelikheid om te sorg dat dit nie spoedig weer daar eindig nie – net goed genoeg om in te skinder, maar nie om in te studeer nie!

ʼn Volwaardige akademiese taal dui daarop dat hoëvlakdenke akkuraat en treffend in ons mooi taal uitgedruk kan word. So bied die Akademie steeds nagraadse beurse aan verdienslike M- en D-studente wat hul studie in enige vakdissipline in Afrikaans wil doen. Dus is daar nog hoop vir die toekoms van Afrikaans as ʼn universiteitstaal. Akademia Hoër Onderwysinstelling het juis in die afgelope jaar al drie intellektuele Afrikaanse publikasies uitgegee.

Terloops, die vyfde uitgawe van Sasol Voëls van Suider-Afrika het pas die lig gesien. Wetenskaplikes wat die natuur bestudeer, doen nog moeite om voëls Afrikaanse name te gee. Sal rekenaarwetenskaplikes – en eindgebruikers – dan nou in hierdie verband terugstaan?

Bogenoemde oortuig my dat kunstenaars nie beter as wetenskaplikes geplaas is om Afrikaans steeds te laat blom nie. Die feit dat daar na IT-praktisyns in die volksmond verwys word as nerds en geeks beteken nie diegene wat handig met rekenaars is, moet geek speak bedryf nie. Kom ons verras met verbeeldingryke Afrikaanse rekenaarterme!

Gelukkig is daar vele opsies beskikbaar aan enigeen wat graag in Afrikaans digitaal wil verkeer. Hiervan is die Akademie se publikasies ʼn goeie voorbeeld: onder andere twee gereelde tydskrifte, asook die talle vakwoordeboeke en terminologielyste wat deur lede van die Akademie opgestel en gepubliseer word.

Daar is nog aanlynwoordeboeke beskikbaar, soos Roekeloos Afrikaans se Engels/Afrikaanse Rekenaarwoordeboek. Hierdie woordeboek stel byvoorbeeld voor dat password met “kenwoord” vertaal word. Ek hou daarvan: dit dui op die woord wat jy moet ken om toegang tot die stelsel te verkry. Oulik, nè?

Hier is nog ʼn (humoristiese?) vertaling uit die volksmond. Jou selfoon het ʼn touch screen, in amptelike Afrikaans ʼn raakskerm, oftewel ʼn streelpaneel. Lekker! (Die manier waarop party mense aan hul selfone verknog is, verhoog die gepastheid van hierdie informele Afrikaanse beskrywing.)

Nog ʼn voorbeeld is die vertaling van die Engelse check box of tick box wat rekenaargebruikers gedurigdeur moet merk. Die formele Afrikaans sou ‘keuseblokkie’ wees, maar vrolike Afrikaans verwys na ʼn klikblik(kie) of ʼn kieskis(sie). Kan jy nou meer?

Afrikaanssprekendes gebruik gewoonlik die term “stempos” vir die Engelse voice note, maar kom ons hê ʼn bietjie pret en verklaar “bekbriefie” eerder as die gekose term?

Hoe lyk dit, het jy ook al sulke spitsvondighede raakgeloop of uitgedink? Deel dit gerus as kommentaar onderaan hierdie artikel. (Dis nie net ʼn appel ʼn dag wat die dokter laat wag nie, ʼn lag ʼn dag hou ons ook gesond.)

Hierdie is ook die ideale geleentheid om die Virtuele Instituut vir Afrikaans, oftewel VivA, se spannetjie van harte te bedank. Ek dink nie ek sou Bedryfsinligtingstelsels I as ʼn Afrikaanse  universiteitsvak kon aanbied sonder Sophia Kapp en die res van die span se geduldige ondersteuning nie. Hoeveel “Help, wat-noem-mens-dit-of-dat-in-Afrikaans”-hulpkrete het hulle nie flink en verbeeldingryk beantwoord nie! Baie dankie daarvoor. Ek glo hulle antwoord alle belangstellendes se vrae so. Gelukkig het ons ook binne Akademia toegang tot ʼn taalversorger (wat seker maak dat die taalgebruik in my artikels darem op standaard is), waarvoor ek dankbaar is.

Desnieteenstaande die feit dat ek seker al ʼn stewige maand bestee het aan die vertaling van terme uit ons Engelse handboek, kla ek glad nie daaroor nie. Ek beskou dit as my bydrae tot ons raakvatmoedertaal. (Bygesê, my studente maak die opoffering saam met my. Dankie dat julle saamwerk.)

Ek kan maar net hoop dat ek hiermee ʼn paar lesers geïnspireer het om meer moeite te doen met Afri-tegnies.

Ek sê maar net.

Riana Crafford is ʼn dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG