Namakwaland se blomme in die tuin van die Skepper

Geskryf deur professor Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia

Elke jaar gedurende die lentemaande ontwaak die sluimerende westelike dorsland van Suid-Afrika in ʼn dankbare skouspel van golwende kleure. Selfs onder die plaaslike gemeenskappe bestaan die legende wat lui dat toe God die aarde gemaak het, Hy die beste vir laaste gelos het en sy tyd geneem het om die asemrowende Namakwaland, of “die tuin van die gode”, te skep.

Namakwaland is tradisioneel die woongebied van die Nama-Khoe-gemeenskap (meer algemeen as die Nama bekend), wat ook beskou was as die grootse groepering van Khoi-Khoi in Suid-Afrika. Die gebied strek suidwaarts vanaf die Oranjerivier tot by die Olifantsriviermond, en ooswaarts vanaf die Weskus tot oos van Springbok en langs die westelike voetheuwels van die Bokkeveldberge. Ongeveer 2600 miljoen jaar gelede is hierdie landskap geskep deur vulkaniese bergvorming en erosie, wat aanleiding gegee het tot sandsedimente en die unieke rotskoppe wat die gebied vandag nog kenmerk. Namakwaland word beskryf as ʼn semi-woestyngebied, met ʼn baie lae sporadiese winterreënval wat wissel van 20 tot 290 mm per jaar. Daarbenewens kom temperature van tot 40°C gedurende die somer voor.

As gevolg van hierdie uitdagende klimaatstoestande het ʼn unieke diversiteit van plantegroei in die gebied ontwikkel. Daar bestaan vandag nagenoeg 4 000 verskillende plantspesies in Namakwaland, wat wonderbaarlik goed aangepas is om in die droë en wisselvallige klimaatstoestande te kan oorleef. Hierdie plantdiversiteit is hoogs uitsonderlik as dit vergelyk word met ander woestyngebiede van die wêreld. Daarbenewens is ongeveer die helfte van plantspesies endemies tot Namakwaland, wat beteken dat hulle nêrens anders in die wêreld voorkom nie. Wat ook interessant is, is dat daar byvoorbeeld ongeveer 1 000 vetplantspesies in die gebied voorkom, wat meer as 10% van die wêreld se vetplantbevolking uitmaak.

Namakwaland is veral bekend vir haar blommeverskeidenheid. Meeste van die blomspesies is eenjarig, en ontwyk die droë tye deur vinnige ontkieming, saadskiet, groei en blom nadat die winterreën geval het. Die blomme oorleef die warmer droër somerseisoen in die vorm van saad, om dan weer die volgende jaar te ontkiem. Kenmerkend aan die Namakwalandse blomme is die groot hoeveelhede saad wat geproduseer word. Nie alle sade ontkiem na ʼn goeie reënseisoen nie, en ontkieming kan selfs vir ʼn paar jaar vertraag word. Dit beteken dat daar altyd ʼn oormate saad beskikbaar sal wees vir die volgende jaar indien saailinge as gevolg van ongunstige toestande nie volwassenheid bereik nie.

Daarbenewens het verskillende blomspesies ook unieke ontkiemingsvereistes. So byvoorbeeld sal sekere sade slegs ontkiem wanneer dit koud en nat is, terwyl ander warmer toestande vir ontkieming vereis. Omdat elke blomsoort ʼn voorgeskrewe temperatuurvereiste vir ontkieming het, en ontkieming ook afhang van die aanvangstyd van winterreën, verskil die blomsoorte wat van jaar tot jaar voorkom. Baie van die sade is ook aangepas om deur die wind versprei te word, wat beteken dat daar ook ruimtelik jaarliks verskille in die blomkleurpatrone oor die landskap kan voorkom.

Wonderlike nuus is dat daar voorsien word dat 2020 ʼn uitsonderlike blomjaar gaan wees, omdat die gebied reeds goeie reën ontvang het, en omdat daar voorspel word dat nog goeie reën oor die wintermaande mag volg. Dit volg na ʼn uitmergelende droogte wat oor die afgelope paar jaar voorgekom het. My ma het altyd gesê “die rede waarom ʼn plant so ʼn kleurvolle blom maak is om dankie te sê vir die water wat ontvang is”, en dit mag juis daarom wees dat 2020 ʼn uitsonderlike jaar gaan wees.

Die Namakwalandse blomseisoen is relatief kort. Dit begin gewoonlik in die tweede week van Augustus en duur dan tot die tweede week van September. Die beste tye om die blommeprag te aanskou is in die oggend tussen 10:00 en 11:00, en dan weer in die namiddag vanaf om en by 16:00 tot sonsondergang. Baie van die blomme wys dan ook in die rigting van die son, wat beteken dat dit die beste is om die blomme te aanskou as die son van agter af skyn. Omdat meeste van die blomme “oopmaak” wanneer die son skyn, mag die kleurespel ietwat gedemp word gedurende bewolkte dae.

Gedurende ʼn goeie blommejaar is die skouspel tweërlei, deurdat daar sulke massas blomme voorkom en dat elke soort blom mooier voorkom as die ander. Pak dus jou reistas en gaan beleef hierdie skouspel van golwende kleure in die tuin van die Skepper.

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG