Statutêre voldoening in Suid-Afrikaanse hoër onderwys

Geskryf deur prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde

Daar word onderskei tussen ʼn kwalifikasie en ʼn program. ʼn Kwalifikasie is ʼn beplande kombinasie van leeruitkomste met ʼn definitiewe doelstelling, wat aan kwalifiserende studente toegepaste bevoegdhede verskaf wat as basis dien vir verdere leer. In die Suid-Afrikaanse konteks word kwalifikasies in hoër onderwys op ses vlakke op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) aangedui. Die laagste en hoogste kwalifikasies wat in hoër onderwys verwerf kan word, is onderskeidelik ʼn hoëronderwyssertifikaat (NKR-vlak 5) en ʼn doktorsgraad (NKR-vlak 10).

ʼn Program bestaan uit ʼn versameling verwante vakke wat lei tot ʼn kwalifikasie. In wese verskil ʼn kwalifikasie en ʼn leerprogram in die sin dat ʼn kwalifikasie ʼn leeruitkoms is, en ʼn program die proses is wat deurloop moet word deur ʼn student in nastrewing van leeruitkomste.

Gehalte programme is van kernbelang vir die bestaan van ʼn hoëronderwysinstelling. Sonder programme is daar nie studente nie, en as ʼn instelling nie gehalte programme aanbied nie sal studente nie inskryf vir sodanige programme nie. Die uitdaging waarmee hoëronderwysinstellings gekonfronteer word, is dus om gehalte programme aan te bied. Verskeie eksterne prosesse word toegepas ter ondersteuning van die ontwikkeling van betekenisvolle programme aan hoëronderwysinstellings.

Die proses van programontwikkeling is egter ʼn tydsame proses. Programontwikkeling is nie ʼn tegniese proses wat bestaan uit die sameflansing van vakke wat strek oor ʼn aantal jare en ʼn sekere aantal krediete nie. Dié benadering tot programontwikkeling is tiperend van waar reëls en regulasies slaafs en onkrities nagevolg word, en spreek dus nie van gehalte nie. Programontwikkeling is eerder ʼn holistiese proses wat deeglike besinning verg onder leiding van kundiges in die ter sake dissipline(s). Van kardinale belang is die konseptualisering van die program wat deeglik teoreties begrond is. Vandat die idee van ʼn program by ʼn hoëronderwysinstelling ontstaan, die interne prosesse deurloop is om onder andere gehalte te verseker, totdat dit voorberei is om in te dien by die verskillende statutêre liggame, kan ongeveer twaalf maande duur.

Private hoëronderwysinstellings soos Akademia moet by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) geregistreer wees. Slegs dan kan formele programme aan die DHOO (in die geval van onderwysgrade) of professionele rade voorgelê word vir goedkeuring soos van toepassing. Die goed­keurings­proses duur ongeveer twee maande. Daarna word die program aan die Raad op Hoër Onderwys (RHO), wat vier keer per jaar vergader, vir akkreditasie voorgelê. Hierdie proses duur ongeveer vyf maande indien die program geakkrediteer of voorlopig geakkrediteer word. In die geval waar programme se akkreditasie afgewys word, word die proses herhaal.

Programme wat deur die RHO geakkrediteer of voorlopig geakkrediteer is, word dan vir registrasie aan die Suid-Afrikaanse Gehalteversekeringsliggaam (SAGV) voorgelê – ʼn proses wat ʼn verdere vyf maande kan duur. Indien suksesvol word die skrywes van die RHO en SAGV aan die DHOO voorgelê ten einde ʼn sertifikaat uit te reik dat die program aangebied mag word, wat nog ʼn maand in beslag kan neem. Die eksterne proses van goedkeuring, akkreditasie en registrasie van ʼn program kan dus tot dertien maande duur indien alles glad verloop. Waar prosesse versteur word kan dit veel langer duur om uitsluitsel te kry.

Hierdie uitgerekte proses ten einde statutêre toestemming te verkry om ʼn program aan te bied stel besonderse strategiese uitdagings aan veral private hoëronderwysinstellings ten opsigte van finansies, personeel en infrastruktuur – uitdagings wat Akademia egter met groot sorg en entoesiasme aanpak.

Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG