Afrikaans en hoër onderwys – stééds ʼn opsie

Afrikaans as onderrigtaal was die afgelope tyd weer gereeld in die spervuur. Die eerste vonkies het gekom van die LUR van onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, met sy reaksie op die Sol-Tech-sooispit. Kort op sy hakke was die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, dr. Blade Nzimande, se versekering dat daar nie toegelaat sal word dat mense deur Afrikaans uitgesluit word nie. Kort daarna kom die Gelyke Kanse-hofuitspraak, wat die laaste hoop op Afrikaans as onderrigtaal by Maties kelder.

Die afgelope week kry ek vir die eerste keer die hersiene taalbeleid van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) onder oë. Waar die vorige beleid die bevordering van Afrikaans as wetenskapstaal by openbare universiteite aangemoedig het, dek die hersiene beleid die tafel vir Engels as die de facto taal van openbare onderwys. Ons moet ons regmaak vir ʼn stamperige rit op die moedertaalonderrigpad.

In dieselfde tyd wat hierdie gebeure afspeel, besoek ʼn afvaardiging van Akademia vir die tweede maal verskeie universiteite in die VSA. Hierdie besoek herbevestig die gedagte dat daar nuut gedink moet word oor wat universiteite behoort te doen – wat die aard en wese van die universiteitwese behoort te wees. Hieroor verskyn ʼn artikel deur prof. Danie Goosen op Maroela Media, waar hierdie ideale van die universiteitswese treffend uiteengesit word. Geoordeel aan die kommentaar op die artikel is dit duidelik dat baie mense besef hoe belangrik so universiteit nou vir ons gemeenskap geword het. Daar is egter dikwels vrae wat betref die spoed waarteen Akademia vorder. Sommiges word afgesit deur die feit dat Akademia nie ʼn groot instelling is met alles wat saam met ons tradisionele universiteitprentjie gaan nie. Hierdie vrae is die moeite werd om oor na te dink en te plaas binne die huidige konteks van Afrikaans as onderrigtaal.

Afrikaans as onderrigtaal

Daar is nou nie meer veel te sê oor Afrikaans as onderrigtaal by openbare universiteite nie. Die enigste universiteit waar Afrikaans nog in die klaskamer gebesig word, is op die NWU se Potchefstroomkampus. Jy hoef nie ʼn regskenner of profeet te wees nie om te besef dat Afrikaans as onderrigtaal ook daar sal sneuwel met die inwerkingstelling van die DHOO se nuwe taalbeleid.

Intussen is daar ʼn Afrikaanse gemeenskap van miljoene mense in Suid-Afrika, waarvan duisende graag onderrig in Afrikaans wil ontvang. Hierdie mense sluit jong- (en nie meer so jong) mense in, wat doodeenvoudig in ʼn vriendelike, verstaanbare en gehalte omgewing wil studeer. Terloops, as dit nie so was nie sou Akademia nie binne agt jaar, met slegs vyf grade, meer as ʼn duisend ingeskrewe studente gehad het nie. Dit sal uiters gemeen teenoor hierdie jongmense wees om niks te doen nie en toe te sien hoe hul geleentheid tot moedertaal­onderrig voor hulle oë vernietig word.

Akademia in konteks

Niks begin groot nie. Afgesien van die voormalige RAU, het elke voormalige Afrikaanse universiteit klein begin – ʼn klompie omgee-mense om ʼn tafel wat besef hoe nodig hul gemeenskap ʼn universiteit het. Met Akademia was dit weer so. In 2008 was Akademia bloot ʼn idee. In 2009 word een persoon getaak om die idee in ʼn werkbare model te ontwikkel. In 2011 word enkele mense aangestel, en in 2012 word Akademia geregistreer en skryf 40 studente in. As klein jou afskrik sal jy niks nuut op die been kan bring nie.

Akademia verwag om volgende jaar 1 300 studente in te skryf. Hierdie studente swot in ʼn tegnologiese gevorderde model wat nuwe betekenis aan afstandsonderrig bied. Studente woon verpligte, interaktiewe kontaksessies by in een van twaalf onderrigleersentra in die land, of ʼn dertiende in Windhoek. Hierdie sentrums is opgerig op plekke waar die Afrikaanse gemeenskap maklike toegang kan verkry. Studente studeer in ʼn “omgekeerde klaskamer”-benadering en word voorberei vir die volgende komende kontaksessie deur middel van ʼn hoogs effektiewe aanlyn leerbestuurstelsel (Akademia se eie pasgemaakte Moodle-platform). Hierdie model is baie aantreklik vir mense wat nie voltyds kan of wil studeer nie en die geleentheid kry om te werk terwyl hulle studeer. So model is byvoorbeeld baie gepas vir studies in velde waar klerkskappe ʼn vereiste is, soos LLB.

Alhoewel die model aanvanklik ontwikkel is met die oog op “werk terwyl jy studeer”, het die verhouding skoolverlaters jaarliks groter en groter geword – wat iets sê van die behoefte wat bestaan vir studies in Afrikaans.

Hoe nou vorentoe?

Die behoefte na ʼn residensiële kampus vir hoofsaaklik skoolverlaters het die afgelope tyd toegeneem. Alhoewel dit altyd die plan was, moet die plan nou versnel word. Hierdie plan gebeur in twee fases. Met fase een word beoog om nege grade (ses is reeds geakkrediteer) vanaf 2021 op ʼn tussentydse kampus in Centurion aan te bied. Hierdie grade is:

  • BCom (Ondernemingsbestuur)
  • BCom (Ekonomie en Regte)
  • BCom (Finansiële Rekeningkunde)
  • BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • BSc (Wiskundige Wetenskappe)
  • BSc Rekenaarwetenskappe
  • BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
  • BA (Kommunikasiekunde en Joernalistiek)
  • BEd (Grondslagfase)
  • BEd (Intermediêre Fase)

Fase twee is om ʼn kampus te open waar ongeveer 5 000 studente voorgraads sal studeer. Hier sal uiteindelik tussen dertig en veertig voorgraadse programme vanuit sewe fakulteite aangebied word. Die eerste dekane hiervoor is reeds in 2019 aangestel, en hulle werk tans voluit om bogenoemde kwalifikasies vir akkreditasie te ontwikkel. Nagraadse kwalifikasies sal infaseer word. Planne vir die fasiliteite wat hiervoor opgerig gaan word vorder baie goed. As alles mooi loop sal die kampus oor vyf jaar in gebruik geneem word.

Vir lank het die Afrikaanse gemeenskap twee opsies gehad. Enersyds moes hard gepoog word om die Afrikaanse aanbod by openbare universiteite te behou, en andersyds moes begin werk word aan ʼn selfdoen-alternatief. Eersgenoemde is nie meer ʼn opsie nie en bly daar nou slegs een opsie oor. Vir mense wat ernstig oor Afrikaans is, het die tyd aangebreek om moue op te rol en medewerkers en -bouers te word. Vir die ander (en ongelukkig vir hul kinders) – die wat glo dat hulle die luuksheid het om kieskeurig te wees of afgeskrik word deur nederige beginne – lê ʼn moeiliker alternatief voor.

Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG