Akademia-professor deel van baanbrekerstudie oor die Tuisland

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, was lid van ʼn span internasionale wetenskaplikes wat ʼn baanbrekersstudie onderneem het oor die anatomies moderne mens se vroeë migrasiepatrone oor suidelike Afrika. Rautenbach, ook ʼn weerkundige, se bydrae tot die studie was om die veranderende weerpatrone te bestudeer en te bepaal hoe dit migrasie in hierdie area beïnvloed het.

Die navorsing is gelei deur prof. Vanessa Hayes van die Genomika en Epigenetika-afdeling van die Garvan Instituut vir Mediese Navorsing in Sydney, Australië. Die resultate is in Oktober 2019 in die toonaangewende Nature-vaktydskrif gepubliseer. Die studie het spesialiste op verskeie gebiede van verskillende hoëronderwys­instellings regoor die land bymekaar gebring. Akademici van die Universiteit van Pretoria, Universiteit van Limpopo en Rhodes Universiteit het ook aan die studie deelgeneem.

“Dit was ʼn groot voorreg om saam met internasionale en plaaslike spesialiste aan so ʼn merkwaardige projek te kan werk,” meen Rautenbach. “Die navorsing het aangetoon dat die diep gewortelde moederlike L0-mitochondriale DNA-tak van die anatomies moderne mens sy oorsprong in die Makgadikgadi-Okovango-paleovleilande van Botswana gehad het. Daar is ook bevind dat die L0-DNA-tak die duidelikste in die Khoisan-gemeenskap voorkom.”

Volgens die studie het hierdie voorgeslag van die anatomies moderne mens tussen 200 000 en 130 000 jaar gelede in die Makgadikgadi-Okovango tuisland gewoon, voordat klimaatsverandering veroorsaak het dat dele van hierdie gemeenskap na ander gebiede begin migreer het.

Die studie stel verder dat die eerste noordoostelike migrasie na sentraal-Afrika 130 000 jaar gelede begin het, waarna ʼn tweede suidwestelike migrasie 115 duisend jaar gelede begin het. Dit is veral vroeë nedersettings langs die suidelike Suid-Afrikaanse kuslyn wat uit dié tweede suidwestelike migrasie gevolg het.

“Klimaat het ʼn groot rol gespeel in die migrasies oor Afrika, en later ook na Europa,” vertel Rautenbach. “ʼn Ystydperk het gedurende die 70 000 jaar -besetting van die Makgadikgadi-Okovango tuisland voorgekom. Die meer gunstige toestande in die Makgadikgadi-Okovango vleilande het migrasie na die kouer en droër omliggende omgewing beperk.”

Verder het die studie getoon dat ʼn warmer periode 130 000 jaar gelede meer gunstige toestande noordoos van die tuisland ontwikkel het, terwyl ʼn megadroogte suidwes van die tuisland ontstaan het. Dit het aanleiding gegee tot die eerste migrasie. Ongeveer 115 000 jaar gelede het die wêreldklimaat terugbeweeg na ʼn ystydperk, en het die tuisland ook droër begin word, terwyl meet gunstige toestande suidwes van die tuisland ontwikkel het, wat tot die tweede migrasie aanleiding gegee het.

“Hierdie was deel van etlike navorsingspogings oor die jare waar feitlike wetenskaplike bronne en materiaal gebruik word in ons soeke na die groter waarheid, en bied nog glad nie volledige antwoorde nie,” reken Rautenbach. “Wat belangrik is, is dat die bevindinge tog ʼn interessante ‘stukkie’ byvoeg tot die legkaart van die groter geheel.”

In goeie wetenskaplike praktyk word hierdie ‘stukkie’ steeds blootgestel aan besinning, oordeel en verdere wetenskaplike ondersoek om meer te wete te kom – ʼn goeie voorbeeld van hoe kritiese wetenskaplike ondersoek en navorsing funksioneer.

Prof. Vanessa Hayes (Universiteit van Sydney), dr. Andy Moore (Rhodes Universiteit), prof. Riana Bornman (Universiteit van Pretoria) en prof. Hannes Rautenbach (Akademia) – bydraers tot die baanbrekerstudie.

Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG