Die toekoms van die universiteitwese

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia

“Ons bou ʼn universiteit,” het Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, onlangs by ʼn geleentheid in Pretoria gesê. Maar wat is die wese van so ʼn universiteit? Moet dit met die uitsondering van Afrikaans net soos enigeen van die bestaande universiteite wees? Iets soos ʼn Afrikaanse Wits of Tukkies?

Of is die universiteit wat gebou word, ook ʼn nuwe soort universiteit? Bestaande universiteite word immers wêreldwyd deur enorme probleme gekenmerk. Gaan die nuwe universiteit dit bloot herhaal? Of bied dit die geleentheid om anders oor die universiteitswese te dink?

Bestaande universiteite dwarsoor die Westerse wêreld is dikwels in die greep van polities korrekte ideologieë. Hulle is dikwels vyandig jeens die Westerse geestelike en kulturele erfenis, hulle is onkrities jeens die globale orde en die eensydige klem van laasgenoemde op die sogenaamde opwaartse mobiliteit van die indiwiduele student, en hulle staan eensydig en selfs afkeurig jeens die oerou strewe na die waarheid, terwyl hulle ook kennis en wetenskap dikwels op ʼn siniese wyse tot blote instrumente van mag inperk.

Gaan die universiteit wat gebou word slegs dié uitgediende formules herhaal? Of sal dit ook ʼn antwoord op genoemde krisisse wees? Hieronder word iets meer oor “ons bou ʼn universiteit” vertel, en uitgebrei oor hoe so ʼn universiteit kan wees.

Ironies genoeg sluit so ʼn “nuwe” universiteit by die oudste wortels van die klassieke universiteitswese aan. Ons kan vandag na so ʼn universiteit as die klassieke opvoedingsuniversiteit verwys. Maar wat is die aard van die klassieke opvoedingsuniversiteit? Wat is haar vertrekpunte en oogmerke, haar uitgangspunte en doelwitte? Enkele belangrike eienskappe daarvan word hieronder ter sprake gebring.

  1. Opvoeding en opleiding

Universiteite wat by die klassieke opvoedingsuniversiteitswese aansluit, word deur beide die oogmerke van opleiding én opvoeding gekenmerk.

a). Opleiding

Klassieke opvoedingsuniversiteite strewe daarna om uitnemende opleiding aan studente te bied, met die oog op volle indiensname in die arbeidsmark. Anders geformuleer het opleiding ten doel om aan studente ʼn gespesialiseerde kennis in deelaspekte van die werklikheid te bied. As sodanig stem dit met die bestaande universiteitswese ooreen.

Nogtans lê daarin ook hier ʼn groot verskil opgesluit. Dit hou verband met die klassieke universiteitswese se gelyktydige klem op opvoeding, en die gevolge daarvan vir opleiding. In en deur hulle opvoeding word opleiding selfs beter as aan bestaande universiteite gedoen.

b). Opvoeding

Wat bedoel die klassieke opvoedingsuniversiteite met “opvoeding”? Anders as met opleiding se fokus op die praktiese beroepslewe het opvoeding ʼn teoretiese fokus. Opvoeding strewe daarna om studente nie net as eendimensionele spesialiste in ʼn deelaspek van die werklikheid op te lei nie, maar om hulle ook insig in die geheel van dinge te gee. Dit wil sê insig in die samehang tussen die verskillende deelsaspekte van die werklikheid.

John Henry Newman het reeds in sy bekende The idea of the university (1852) uit die negentiende eeu geskryf dat opvoeding ten doel het om studente te lei sodat hulle ware “gentlemen” kan word. Vandag kan ons sê dat opvoeding oor die vorming van ons menswees handel. In en deur opvoeding word ons menswees gevorm. Dit blyk veral uit die student se vermoë om die geheel raak te sien.

Vir die klassieke opvoedingsuniversiteite is dit belangrik om nie opleiding en opvoeding, die praktiese en die teoretiese, die dele en die geheel, van mekaar te skei nie. Waarom? As ons ʼn moeilike vraag kort kan antwoord: Volgens hulle is die samehang tussen opleiding en opvoeding noodsaaklik, omdat goeie opvoeding studente in staat stel om in die praktyk van die beroepslewe veel beter te presteer.

  1. Vertrekpunt van die klassieke opvoedingsuniversiteite

Wat is die vertrekpunte van universiteite wat na die aard van die geheel vra? Ons begrip van die geheel word immers deur ons vertrekpunte gestuur. ʼn Materialistiese denker kyk anders na die geheel as ʼn gelowige wat glo dat die werklikheid – die geheel – deur ʼn liefdevolle God geskep is.

Universiteite wat vandag by die klassieke opvoedingsideaal aansluit is dikwels in die Christelike geloof geanker. As gevolg daarvan aanvaar hulle nie net dat die werklikheid ʼn geskape werklikheid is nie, maar dat dit – in aansluiting by die tradisie van teologiese en filosofiese denke – deur vier eienskappe gekenmerk word, naamlik deur eenheid, waarheid, skoonheid en goedheid. Tot die wese van die klassieke universiteitswese behoort die gedagte dat die wetenskaplike denke tot hul reg kom wanneer dit gerig is op en ook vra na die eenheid, waarheid, skoonheid en goedheid van die werklikheid.

Ten grondslag van hierdie grondliggende uitgangspunt lê die gedagte dat geloof en rede mekaar nie uitsluit nie. Inteendeel, geloof en rede is op mekaar aangewese. Net soos wat die geloof die rede nodig het om nie in ʼn irrasionele gevoelsgodsdiens te verval nie, net so het die rede ook die geloof nodig om perke aan sigself te stel en so te voorkom dat dit op ʼn opgeblase wyse tot ʼn nuwe afgod uitgeroep word.

As sodanig verteenwoordig hierdie universiteit wat gebou word ʼn alternatief op hedendaagse universiteite. Laasgenoemde skei nie net geloof en rede van mekaar nie, maar doen ook met die klassieke strewe na insig in die eenheid, die waarheid, die skoonheid en goedheid van die skeppingswerklikheid weg. Dit alles tot groot nadeel van die universiteitswese, wetenskaplike denke en in die besonder ʼn florerende studentelewe.

 

  1. Die gemeenskapsuniversiteit

Opvoedingsuniversiteite is meestal gemeenskapsgerigte instellings wat die universitêre ideale van ʼn spesifieke taal- en kultuurgemeenskap dien (sonder om eksklusief te wees of hul deure vir andere te sluit). Waarin is die gemeenskapsidee by opvoedingsuniversiteite gegrond? Veral antropologiese en metafisiese gronde tree hier na vore.

a). Opvoedingsuniversiteite gaan uit van die antropologiese insig dat die mens ʼn gemeenskapswese en nie ʼn losstaande indiwidu is nie. As sodanig verteenwoordig hulle ʼn alternatief op die neoliberale universiteitswese wat slegs die oogmerke van die indiwiduele student (lees: indiwiduele verbruiker) dien.

Opvoedingsuniversiteite ontken daarmee nie die belangrikheid van die verbeeldingryke en denkende indiwidu nie. By sodanige universiteite het indiwidu en gemeenskap mekaar eerder wedersyds nodig. Soos wat die indiwidu ʼn gesonde gemeenskap nodig het om afsonderlik te kan floreer, so het gemeenskappe ook gesonde indiwidue nodig om deel van dinamiese en toekomsgerigte gemeenskappe te wees.

b). Opvoedingsuniversiteite se begrip van hulself as gemeenskapsuniversiteite is tegelyk in die metafisiese insig uit die Christelike en Klassieke denke gegrond, naamlik dat die skeppingswerklikheid self as ʼn dinamiese gemeenskap tussen deelaspekte soos die materiële, die biologiese, die psigiese en die geestelike verstaan kan word.

Dit is ʼn gemeenskap wat verlore gaan wanneer een van genoemde deelaspekte uit die geheel gehaal en verabsoluteer word. Laasgenoemde is nie ʼn teoretiese moontlikheid nie, maar gebeur vandag dikwels aan bestaande universiteite dwarsoor die globale wêreld.

  1. Opwaartse mobiliteit teenoor tuiskoms

Die globalistiese en die klassieke opvoedingsuniversiteite word deur twee verskillende selfdefinisies gekenmerk. Globalistiese universiteite moedig die ideaal van opwaartse mobiliteit by hulle studente aan. Ingevolge dié ideaal word studente opgelei om elke plaaslike verbintenis (soos ʼn eie streek, taal, kultuur en godsdiens) ter wille van ʼn eie beroepslewe in die globale wêreld agterweë te laat. Plaaslike verbintenisse word as ʼn hindernis op die weg na globale mobiliteit ervaar.

Die klassieke opvoedingsuniversiteite daarenteen moedig die ideaal van tuiskoms in en lojaliteit jeens die eie plaaslike verbintenisse aan. Hierdie instansies meen dat ons menswees nie in die ontvlugting van die plaaslike tot reg kom nie, maar juis in die verbintenis daartoe. Daarmee ontken hierdie universiteite egter nie die belangrikheid van die globale wêreld nie.

Hulle moedig studente eerder telkens weer aan om die reis terug na die eie te onderneem. Waarom? Omdat die eie gemeenskap telkens weer verryk word in en deur die wysheid wat met ervaring van ander gemeenskappe verwerf word. As sodanig vind die klassieke opvoedingsuniversiteite aansluiting by eeue-oue motiewe uit die Westerse filosofiese, teologiese en literêre denke waarin die motiewe van vertrek en tuiskoms ʼn sentrale plek in die verbeelding inneem.

Waarskynlik is die mees tipiese voorbeeld hiervan Odysseus, die held uit Homeros se gelyknamige epos, wat na vele omswerwinge weer na sy geliefdes teruggekeer het. Vanweë sy omswerwinge het die slimme Odysseus ʼn wyse mens geword – ʼn wysheid wat sy eie gemeenskap verryk het.

Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG