Verwarming bo Antarktika kan ons somerreënval beïnvloed

Geskryf deur professor Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia

 

Die grootste bolugverwarming wat ooit in die geskiedenis in die Suidelike Halfrond gemeet is, het gedurende die laaste week van Augustus 2019 in die stratosfeer sowat 50 kilometer bo Antarktika voorgekom. Hierdie ongewone gebeurtenis, wat bekend staan as skielike stratosferiese verwarming, het tot gevolg gehad dat lugtemperature bokant die Suidpool oor ʼn periode van slegs drie weke toegeneem van -70°C tot -25°C – ʼn temperatuurtoename van meer as 40°C!

Skielike stratosferiese verwarming word veroorsaak deur ʼn kombinasie van weerpatrone naby die aardoppervlak, en kan tans nie noodwendig aan aardverwarming toegeskryf word nie. Alhoewel hierdie verskynsel algemeen bo die Noordpool voorkom, is dit baie raar in die Suidelike Halfrond. Dit is nog net twee keer in die geskiedenis, gedurende 2002 en 2010, waargeneem. Die 2019-verwarming blyk egter veel sterker te wees as wat gemeet is gedurende dié twee gevalle.

Lugsirkulasie bo Antarktika word oor die algemeen gekenmerk deur ʼn sterk westewindrotasie, wat bekend staan as die Antarktiese polêre vorteks. Hierdie vorteks, wat gedurende wintermaande die sterkste is, verhoed dat koue poollug met die omringende warmer atmosfeer meng. Gedurende skielike stratosferiese verwarming verswak die vorteks aansienlik. Gevolglik word die omringende lugstrome versteur en propageer westewindstelsels, wat in Suid-Afrika gekenmerk word as noordwaartse kouefrontstelsels.

Daar word voorspel dat die noordwaartse uitbreiding van koue westewinde nadelige gevolge kan inhou vir beide Nieu-Seeland en Australië. In Nieu-Seeland is die risiko vir ysige weer gedurende die lentemaande hoog, terwyl die sterker westewinde oor die warm Australiese woestyngebiede die droogtes wat tans in New South Wales en Queensland voorkom kan vererger.

Die skielike stratosferiese verwarming oor Antarktika kan ook gevolge vir Suid-Afrika inhou. Die noordwaartse skuif van westewinde kan daartoe aanleiding gee dat die winterstelsels oor ʼn langer tydperk as normaalweg sal voortduur gedurende die vroeë lente- en somermaande. Alhoewel dit beteken dat ʼn verlengde reënseisoen vir die suidelike kusgebiede kan voorkom, voorspel dit niks goeds vir lentereën in die droë binneland van Suid-Afrika nie. Soortgelyk aan toestande in Australië, kan sterker westewinde oor die Suid-Afrikaanse binneland ook aanleiding gee tot droër wintertoestande in die somerreënvalstreek.

Daarbenewens bestaan daar ook die risiko dat warmer tropiese lug, wat suidwaarts beweeg namate die somer naderkom, kan bots met die ongewone koue polêre lug uit die suide. Dit kan sporadiese stormweer veroorsaak, veral in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Die moontlikheid van laer temperature en selfs koue dae gedurende Oktober is dan natuurlik ook nie uitgesluit nie. Die invloed van die skielike stratosferiese verwarming op Suid-Afrikaanse weerpatrone sal veral gedurende Oktober gevoel word. Dit sal dan ook oor die grootste gedeelte van die vroeë somermaande voortduur voordat dit teen Desember sal begin verswak.

Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG