Akademia vier Wêreldomgewingsdag

 Ter viering van Wêreldomgewingsdag op 5 Junie (vanjaar met die tema #kloplugbesoedeling)  gaan Akademia vier spekbome, Suid-Afrika se beste natuurlike boereraat teen lugbesoedeling, by die Akademia-hoofkantoor plant.

Wêreldomgewingsdag word jaarliks op 5 Junie gevier. Vanjaar se tema, #kloplugbesoedeling, maak ʼn wêreldwye oproep tot die bekamping van lugbesoedeling. Na beraming asem nege uit tien mense in die wêreld daagliks besoedelde lug in, en is lugbesoedeling verantwoordelik vir een uit elke nege sterftes, waaronder 7 miljoen jaarliks voortydige sterftes is.[1]

Buiten dat lugbesoedeling tot sterftes lei, is dit ook nadelig vir die natuurlike omgewing, omdat dit die suurstoftoevoer na die oseane beperk, plantgroei negatief beïnvloed en bydra tot klimaatsverandering. Die goeie nuus is egter dat lugbesoedeling bekamp kan word, maar daarvoor is bewusmaking en ingrypende aksie nodig.

Akademia beplan om Wêreldomgewingsdag by twee geleenthede te vier. Eerstens is ʼn bewusmakingsgesprek oor lugbesoedeling op 31 Mei deur dr. Hanlie Liebenberg-Enslin, besturende direkteur van Airshed Planning Professionals, gelewer. Tweedens word ʼn geleentheid op 5 Junie gehou waar vier spekbome, Suid-Afrika se beste natuurlike boereraat teen lugbesoedeling, by die Akademia-hoofkantoor geplant gaan word.

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van Natuurwetenskappe by Akademia, deel interessante feite oor die spekboom:

  • Die trots Suid-Afrikaanse spekboom (Portulacaria afra) word beskou as ʼn wonderplant met die uitsonderlike vermoë om kweekhuisgasse uit die atmosfeer te absorbeer.
  • Die spekboom is inheems tot Suid-Afrika, en kom veral in die Oos-Kaap en Karoo voor.
  • Een hektaar spekbome kan tussen vier en tien ton koolstofdioksied per jaar uit die atmosfeer opneem, en kan dus ʼn groot rol speel in die bekamping van lugbesoedeling en aardverwarming.
  • Die spekboom kan tot vyf meter hoog groei en tot 200 jaar oud word. Die plant groei deur al die seisoene, en kan maklik gekweek word, selfs deur ʼn steggie of takke in die grond te druk.
  • Die spekboom is uiters aanpasbaar en bestand teen swak grond, droogte en ryp. Hierdie boom is ook veral watervriendelik.
  • Die spekboom se blare is sappig en eetbaar, met ʼn lemoensmaak, en kan ook gebruik word om dehidrasie en uitputting te behandel.

Akademia daag jou uit om ter viering van Wêreldomgewingsdag deel van die veldtog teen lugbesoedeling te word en ook ʼn spekboom te plant vir gesonder, veiliger en skoner lug.

[1] https://www.worldenvironmentday.global/

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG