Oor Akademia, ons eie Afrikaanse hoëronderwysinstelling

Geskryf deur: Professor Danie Goosen

Een van die belangrikste kenmerke van hedendaagse universiteite is die negatiewe wyse waarop die Westerse kultuurerfenis hanteer word. In plaas daarvan dat universiteite soos in die verlede hulself as verantwoordelik beskou om dié erfenis op ʼn kritiese wyse aan volgende geslagte oor te dra, is hulle vandag eerder daartoe geneig om ons kulturele erfenis verdag te maak – en selfs as die bose te identifiseer.

Nogtans is daar steeds talle universiteite in die Westerse wêreld wat hulle nie deur heersende ideologiese tendense laat voorskryf nie, en wat steeds poog om die goeie uit die verlede aan toekomstige geslagte oor te dra.

Een van die grootse ondernemings uit die geledere van die Solidariteit Beweging is Akademia, ons eie Afrikaanse hoëronderwysinstelling. In aansluiting by verskeie sodanige universiteite elders in die VSA en in Europa is dit ook een van Akademia se belangrikste opvoedingstake om ons kulturele erfenis met die grootste mate van verantwoordelikheid, selfkritiek en sorg te hanteer, en aan volgende geslagte oor te dra.

Om die lesers van die FAK se Flink aan hierdie grootse onderneming uit eie geledere voor te stel, kan dit die moeite loon om kort by die nuwe leuse en embleem van Akademia stil te staan. Akademia se leuse is ad futurum per fontes, wat ons vry as “op weg na die toekoms deur die bronne” kan vertaal. In dié leuse lê ʼn heel andersoortige verhouding met die verlede opgesluit as wat vandag uit talle ideologies gedrewe universiteite straal.

Kom ons staan nader daarby stil. ʼn Eerste en vanselfsprekende punt wat uit die leuse van Akademia straal is dat die instelling toekomsgerig is. Trouens, deur haar visuele identiteit wys Akademia dat se eietyds en modern is. Dit is ook nie net vertoon nie. Akademia is inderdaad ʼn hedendaagse hoëronderwysinstelling vir ʼn nuwe en buitengewoon uitdagende beroepslewe. Deur middel van uitnemende opleiding sorg Akademia daarvoor dat studente hul plek in dié beroepslewe op ʼn volwaardige wyse sal kan volstaan.

Nêrens blyk dit so as uit die feit dat Akademia juis pas internasionale erkenning vir een van haar grade verwerf het nie. Akademia se aanspraak om toekomsgerig te wees rus dus nie op leë woorde nie. Daarby eindig dit egter nie. Uit haar leuse en visuele identiteit lê egter ook talle verwysings na die oue opgesluit: die olyfkrans, die skild, en die leuse in die ou taal van geleerdheid, naamlik Latyn.

Ook dit is nie net vertoon nie. Te midde van haar toekomsgerigtheid sluit Akademia ook baie bewustelik by die oudste bronne vanuit ons Christelike en Klassieke erfenis aan. Met behulp van wat Akademia beskryf as ʼn opvoeding in dié ou bronne, stel sy studente in staat om op ʼn goed begronde en tegelyk wyd denkende wyse hul plek in ons eie wêreld vol te staan.

Met haar leuse plaas Akademia haarself – om dit effens anders te verwoord – in wat ons die spanningsveld kan noem tussen die verre verlede en ʼn toekoms wat nog wink; tussen dit wat was en dit wat eendag sal wees; tussen die groot boeke uit die verlede en die groot boeke wat nog deur toekomstige geslagte geskryf moet word. As gevolg hiervan beklee Akademia, in aansluiting by enkele suksesvolle voorbeelde elders in die Westerse wêreld, ʼn unieke plek in die plaaslike universiteitswese.

Talle universiteite kies natuurlik vandag om liefs hierdie spanningsveld te vermy, meestal ten koste van hulself, hulle studente en ook die gemeenskappe waaruit hulle ontstaan het. Universiteite doen dit deur die bronne wat hulle oor duisende jare gevoed en van hulle sulke glansende instellings gemaak het, te vergeet, te verdring en selfs te kriminaliseer.

Die enkele vraag wat gevra kan word, is waarom Akademia nie ook hierdie ou bronne vergeet nie. Waarom plaas Akademia haarself bewustelik in die spanningsveld tussen die verlede en die toekoms? Die antwoord daarop hou nie verband met ʼn poging van ʼn hoëronderwysinstelling soos Akademia om na die verlede terug te keer nie. Inteendeel, dit hou ironies genoeg juis met die toekoms verband. Universiteite wat vandag by die waarhede uit die ou bronne aansluit en daaruit put, is tegelyk universiteite wat ʼn duidelike beeld op die toekoms het.

Universiteite wat daarenteen hul rûe op die ou bronne draai, het ondanks al hul vertoon oor die toekoms inderwaarheid geen toekomsvisie nie. Inteendeel, hulle is eerder in die hede vasgevang. Dit blyk nêrens so duidelik as uit die feit dat hulle dikwels slagoffers is van die jongste bemarkingsclichés, die nuutste ideologiese modes, die eise van globale korporasies, en die eng voorskrifte van state.

Die universitêre belang van die tussenspel tussen verlede en toekoms blyk onder meer uit wat tydens kulturele hergeboortes gebeur. Kulturele hergeboortes word dikwels gekenmerk deur wat ons die paradoks van “een tree terug en drie treë vorentoe” kan noem. Die Europese Renaissance van die 15de en 16de eeue is ʼn tipiese voorbeeld van so ʼn kulturele hergeboorte. Tydens die Renaissance het die Europese kultuur as’t ware ʼn tree terug in die verlede gegee (deur die ou bronne vanuit die Klassieke oudheid te herontdek), en juis daarom – paradoksaal genoeg – tegelyk groot treë vorentoe gegee.

Dieselfde is waar van die universiteitswese. Ook die universiteite is oor eeue heen deur die paradoks van een tree terug en drie treë vorentoe gekenmerk. In en deur die herontdekking van en kritiese luister na die bronne uit die Christelike en Klassieke oudheid het hulle telkens weer nuwe wetenskaplike, kulturele en geestelike horisonne oopgebreek. Akademia sluit ten nouste by hierdie ou wysheid aan.

Volgende
Vorige

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP DATUM MET AKADEMIA NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP DATUM MET AKADEMIA NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG