Goosen se visie vir Akademia

Professor Danie Goosen neem vanaf Februarie sy plek as akademiese hoof by Akademia in. Goosen vertel meer oor sy visie vir die instelling.

1. Jy was al selfs voor jou aanstelling as akademiese hoof betrokke by Akademia. Vertel ons meer hieroor.

Vanweë my betrokkenheid by die Solidariteit Beweging het ek Akademia reeds vanaf haar eerste oomblikke met groot meelewing gevolg. Ek het ook vir etlike jare op Akademia se adviesraad gedien. In dié tyd het ek nader kennis gemaak met die binnewerking van Akademia. Marthinus Visser, ons besturende direkteur, asook andere bestuurslede van Akademia, het my toe reeds beïndruk met die bekwame wyse waarop Akademia bestuur word – dit alles in besonders uitdagende omstandighede vir die universiteitswese.

Nog ʼn belangrike oomblik in my betrokkenheid by Akademia was ʼn konferensie wat Piet le Roux, ons voormalige akademiese hoof, oor die hedendaagse universiteitswese en die toekoms van universitêre Afrikaans gereël het. Tydens hierdie geleentheid het ek ʼn lesing oor die idee van ʼn “gemeenskapsuniversiteit” gehou. Dit het goed aangesluit by hoe Akademia self oor haar wese nagedink het. My verdere betrokkenheid was toe, min wetende, omtrent ʼn voldonge feit.

Ter wille daarvan om sterker inhoud aan die idee van die gemeenskapsuniversiteit te gee, het Piet en ek in 2016 verskeie Amerikaanse universiteite, wat breedweg as klassieke gemeenskapsuniversiteite beskryf kan word, namens Akademia besoek. Ons het baie tydens dié reis geleer. In 2017 is dit met ʼn nog groter span vanuit Akademia herhaal. Ook dit was ʼn buitengewone leersame reis. Ons het veel groter sekerheid gekry oor presies hoe ons eie gemeenskapsuniversiteit van die toekoms kan lyk. Nou ja, wat ʼn enorme voorreg om nou heeltyds by Akademia betrokke te wees.

2. Wat onderskei Akademia volgens jou van ander universiteite?

Ons kan ure en met groot entoesiasme hieroor gesels. Ek sal egter probeer om dit so kort as moontlik te hou.

Universiteite is deurgaans tot die idee van “uitnemendheid” verbind. Akademia is ook daartoe verbind. Nogtans gee ons ʼn ander inhoud aan dié veel gebruikte idee. (Terloops, omdat daar nie altyd oor die betekenis van “uitnemendheid” nagedink word nie, dreig dit dikwels om niks meer as ʼn universitêre cliché te word nie). Wat ons van ander universiteite in die land (maar ook van verskeie hedendaagse universiteite in die Westerse wêreld en in Afrika) onderskei, is dat ons spesifiek die klassieke universitêre idee van uitnemendheid najaag.

Wat beteken dit? As ons in enkele sinne kan antwoord, kan ons sê dat ʼn uitnemende klassieke universiteit deur twee oorkoepelende oogmerke gekenmerk word, naamlik om sowel die beste denkbare opleiding as die beste denkbare opvoeding aan te bied. Indien studente aan Akademia hulle kwalifikasies verwerf het, het hulle dus nie net die beste opleiding in ʼn spesifieke dissipline ontvang nie, maar word hulle ook deur goeie opvoeding in staat gestel is om as gevormde studente die beroepslewe te betree.

Met “gevormde studente” bedoel Akademia studente wat nie net weet waar hulle histories, kultureel en geestelik vandaan kom nie, maar ook dat hierdie studente ʼn helder, roepingsbewuste, beeld op die toekoms het.

Tegelyk moet ons hartsaak, naamlik Afrikaans, ook genoem word. Ons uniekheid word onderstreep deur die feit dat Akademia haar klassieke opleiding en opvoeding in Afrikaans doen. Dit alles sonder om haarself te isoleer of naïef te wees oor die eise wat die veeltalige wêreld vandag aan ons stel.

3.Waarin dink jy kan Akademia se sukses toegeskryf word?

Veral drie faktore kan uitgesonder word. Eerstens word Akademia op ʼn bekwame wyse bestuur. Ons is almal bewus van die enorme eise wat vandag aan universiteite gestel word: vanaf buitengewone finansiële eise tot by die druk op die universiteite om by staatlike voorskrifte in te val. (Ons is geseënd om nie met onverdraagsame ideologieë, wat vandag op kampusse hoogty vier, te doen te hê nie). Te midde hiervan slaag die bestuur van Akademia daarin om met behulp van begronde en vaartbelynde denke, asook met verstandige bestuurstyle, goeie antwoorde op die eise van die tyd te gee.

Tweedens plaas Akademia groot klem op die regte aanstellings. Bekwame en hoogs opgeleide personeel is die sleutel tot ons sukses. Daarom is ons ook so trots op ons personeel. Hulle sorg dat die ideaal van uitnemendheid nie net ʼn ideaal bly nie, maar dat dit ʼn konkrete werklikheid word. Die internasionale erkenning wat Akademia pas vir ons BCom (Bestuursrekeningekunde)-kwalifikasie ontvang het, onderstreep dit dubbel en dwars.

Derdens moet ook die gemeenskap genoem word waaruit Akademia ontstaan het. Orals waar ek kom, word Akademia deur die goeie wense van die Afrikaanse gemeenskap oorval. Akademia kan nie sonder hierdie diepliggende steun ʼn sukses wees nie. Akademia bied kennelik enorme hoop vir ons as taal- en kultuurgemeenskap.

4. Watter verskil wil jy as akademiese hoof by Akademia maak?

Ja, ek sou nie graag die klem wou plaas op die verskil wat “ek” by Akademia wil maak nie, maar eerder op die verskil wat “ons” saam as gemeenskap by Akademia sal maak. Ons is immers ʼn gemeenskapsuniversiteit!

Die verskil wat ons wil maak, hou grootliks verband met wat ek reeds hierbo oor die universiteitswese in die klassieke sin van die woord gesê het. Die groot uitdaging waarvoor ons vandag staan, is om die klassieke universiteitsgedagte verder uit te bou en toe te sien dat dit in die praktyk waargemaak word.

ʼn Belangrike punt moet egter hierby gevoeg word. Onlosmaaklik deel van die klassieke universiteitswese is die strewe om die waarheid te dien, die goeie na te jaag en ʼn sin vir skoonheid te kultiveer. As ons ʼn verskil sal maak, sal dit wees omdat Akademia hierdie drie dinge – waarheid, goedheid en skoonheid – hoog op haar vaandels geskryf en dit ook in die akademiese praktyk uitgelewe het. Ons sal graag wil sien dat Akademia bekend sal word as die draer en vertolker van dié drie kenmerke van die werklikheid, soos wat die tradisie van Westerse denke dit nog altyd genoem het.

Indien ons dit doen, sal dit nie net ons studente op die bes moontlike wyse dien nie, maar ook die gemeenskap waaruit ons kom en waarvan ons ook afhanklik is.

5. Wat is jou droom vir Akademia?

ʼn Ander woord wat ons ook naas die woord “droom” kan gebruik, is die woord “roeping”. In aansluiting by wat hierbo gesê is, is ons geroepe om toe te sien dat Akademia as klassieke opleidings- en opvoedingsinstansie studente oplewer wat toegerus word om as mense in die volwasse lewe te floreer. – en wat as gevolg daarvan ook geluk ervaar.

Ons kan uiteraard verskillende dinge bedoel as ons woorde soos “floreer” en “geluk” gebruik. Vandag heg ons dikwels slegs ʼn ekonomiese betekenis daaraan. Ons dink dat mense floreer (en ook geluk ervaar) as hulle ekonomiese welvaart geniet. As ons egter na die eeue-oue tradisie van nadenke oor hierdie begrippe luister, dui dit op veel meer as slegs die materiële. Volgens ʼn diepgewortelde opvatting uit die Westerse denke kan ons floreer (en ervaar ons as gevolg daarvan ook geluk) wanneer ons volledige menswees tot haar reg kom – dit wil sê wanneer dit nie net materieel gesproke met ons as mense goed gaan nie, maar wanneer dit ook kultureel en geestelik gesproke met ons goed gaan.

Watter groter droom kan ons vir Akademia hê as dat haar studente uiteindelik in bogenoemde sin sal floreer en so ook geluk sal ervaar?

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP DATUM MET AKADEMIA NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP DATUM MET AKADEMIA NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG