Die universiteitsidee herstel

Piet le Roux, Akademiese Hoof van Akademia, het in sy bydrae tot die NP Van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies se verslag, getiteld ‘Argumente vir ’n eie Afrikaanse universiteit’, oor die universiteit en sy verband met Afrikaans besin.

Soos 100 jaar gelede is die universiteit en sy verband met Afrikaans vandag die onderwerp van indringende besinning. Anders as in daardie gesprek van vier geslagte tevore, ervaar ons vandag nie net ’n universiteitsverwagting nie, maar seer sekerlik ook ’n universiteitsverlies. Hoe kom dit dat ons vandag hierdie vraagstuk opnuut moet hanteer; en wat moet ons antwoord wees?

Die besinning van ’n 100 jaar gelede

’n Eeu gelede was ’n tyd van wording vir die universiteite van Stellenbosch, Pretoria, Vrystaat en Potchefstroom. Dit was geen willekeurige verskynsel nie. Die Gedenkboek van het Victoria Kollege (1918) getuig van ’n gesofistikeerde oorweging van die saak vir ’n universiteit, en dan in die besonder ’n Afrikaanse universiteit. Dit loon om vir ’n oomblik stil te staan by die gesprek wat tot die ontstaan van Stellenbosch, as die eerste van die Afrikaanse universiteite, aanleiding gegee het.

Al was die Victoria Kollege ’n inisiatief uit die Bolandse Hollands-Afrikaanssprekende gemeenskap en grootliks op eie fondse aangewese, was dit, in die gees van die Victoriaanse teenwoordigheid aan die Kaap in die 1800’s, aanvanklik hoofsaaklik in Engels bedryf. Dit was vanuit die staanspoor egter hoegenaamd geen staatsinisiatief nie, maar bewustelik ’n antiimperiale of, in die beste sin van die woord, antikoloniale projek. Die oorgang van kollege na universiteit – en die oorgang van Engels na Afrikaans sowat 50 jaar later – in die eerste dekades van die 20ste eeu is beskou as ’n oomblik van wording: dat daar uiteindelik, op hoogste vlak en gelykwaardig in die internasionale universiteitswese, uiting aan ’n selfstandige kultuur- en wetenskapstrewe in Afrikaans gegee kon word. So ’n geleentheid moes, en daarvan getuig die erns van die tydsdokumentasie, op verantwoordelike wyse aangegryp word.

Hoe sou die verantwoordelike aangryp van so ’n geleentheid van ’n onverantwoordelike benadering verskil? Die antwoord in die gedenkboek, as ’n mens dit met die nodige begrip vir die idioom van die tyd lees, was die vind van ’n middeweg: ’n pad tussen afgestompte internasionalisme enersyds en afgeslote nasionalisme andersyds. Die Afrikaanse universiteit moes tegelyk nasionaal én internasionaal wees.

“Die strewe moet wees,” het prof. Grosskopf aangevoer, “om internasionaal te wees in die beste sin: om in voeling te blij met die algemene intellektuele erfenis van die mensheid”. In Afrikaans, het hy aangevoer, moes Stellenbosch selfs “beter internasionaal” wees as die Universiteit van Kaapstad!

Tegelykertyd is dit ook “aan die een kant die enigste logies denkbare rol [en] regverdiging [en] aan die ander kant grootse, ideale roeping” vir so ’n universiteit om die middelpunt te word “van ’n hoër Afrikaanse geestelike lewe”. Want so veel as wat die verskillende dissiplines, van die natuur- tot die geesteswetenskappe, inderdaad hul inspirasie put uit plaaslike en gemeenskapskontekste, is ’n universiteit ook meer as net ’n plek van ondersoek.

“[O]p die ou end is die hoëskool tog ook nie ’n winkel waar die wetenskap bij die groot en klein maat verkoop word nie,” skryf Grosskopf. “Die rol van die Afrikaanse Hoëskool, wat aan Stellenbosch toevertrouw en amper opgedring word, is veral om kultuurskeppend en tradisieskeppend werksaam te wees.”

Dit is die essensie van Grosskopf en sy medeskrywers se betoë: die idee dat ’n gemeenskapsuniversiteit ’n universiteit in die beste sin van die woord sou wees. Dit was hul ideaal dat ’n universiteit, as ’n “hoëskool” opgerig vanuit ’n gemeenskap, die beste wetenskap, kultuur en tradisie uit daardie gemeenskap sal ontlok en na die wêreld neem; en die beste uit die wêreld na daardie gemeenskap sal bring. Aan die idioom en die klemme en gebreke in hul argumente kan en moet ons aanvul, maar uit die essensie is daar veel te leer.

Van gemeenskapsuniversiteit tot staatsuniversiteit

In teenstelling met die totstandkomings van die oudste van die histories Afrikaanse universiteite honderd en meer jaar gelede, is 2016 gekenmerk aan ’n ongekende ervaring van verlies daarvan. Daar hoef maar net vlugtig na die verlore hofsake oor taal, die omstrede universiteitsrade, die ontwrigte universiteite en sake soos kwotas, verpligte nasiebouvakke en die dikwels misbruikte (en oningeligte) konsep van dekolonisasie verwys te word. Hierdie verskynsels is vergesel van vrome vermanings – so dikwels uit Afrikaanse geledere self – dat universiteitsgemeenskappe se bemoeienis met die spesifieke taal en karakter van hul universiteite as kleinlik, provinsiaal en eksklusief opval.

Waarom is dit dat die histories Afrikaanse universiteite, wat met soveel verbeeldingrykheid sedert die middel 1800’s opgerig is, vandag met soveel verbeeldingloosheid van Afrikaans afstand doen? Die antwoord het te doen met ’n verandering in maatskaplike opvattings en in die begrip van wat ’n universiteit is.

Speur ’n mens die tydsdokumente uit die 1800’s en vroeë 1900’s (soos die Gedenkboek van het Victoria Kollege) na, val dit op dat die histories Afrikaanse universiteite en hul voorgangers aanvanklik as gemeenskapsinstellings beskou is. As kolleges en uiteindelik universiteite is die instellings elk deur sy institusionele gemeenskap opgerig as brug tussen die globale en die plaaslike. Die idee was nie om die gemeenskap na die beeld van ’n karakterlose, oneindige globale te maak nie, maar om aan die globale karakter te gee en aan die gemeenskap nuwe horisonne te bring.

In die moderniteit van ons era, en in die Suid-Afrikaanse staat oor die afgelope honderd jaar, het die universiteitsidee gaandeweg ’n problematiese inkleding verkry. Of liewer, ons kan praat van ’n problematiek wat gaandeweg versterk het, want naas die aantreklike gemeenskapsopvatting kan ’n mens ook die kiem van sy ongedaanmaking reeds in ’n dokument soos die Victoria Kollege-gedenkboek bespeur. Dié problematiek het te make met die gevaarlike vereenselwiging van twee eiesoortige konsepte, naamlik gemeenskap met staat.

Ingevolge die vereenselwiging tussen gemeenskap en staat word daar nie gelet op veranderinge in die karakter van ’n universiteit wat meegebring word wanneer ’n universiteit onder die gesag van ’n staat kom, eerder as onder beheer van ’n gemeenskap bly, nie. ’n Vergelyking tussen die ou en die moderne Afrikaanse universiteite illustreer hierdie verandering in opvatting. Die ou Afrikaanse universiteite was, ten tyde van hul formalisering as universiteite in die eerste dekades van die 1900’s, in wese instellings van gemeenskappe – verlengstukke van hul voorgangers uit die 1800’s. Hul bestaan was te danke aan gemeenskapsinisiatief, aan hoofsaaklik gemeenskapsfondse, en aan ’n tyd toe Afrikaners nog nie in beheer van die staat was nie.

Soos wat Afrikaners egter gaandeweg in beheer van die staat gekom en staatsbouers geword het, het hulle – en ’n mens kan dit met begrip, al is dit ook met kritiek, hanteer – voortgegaan om hulle met universiteite te bemoei asof daar ’n soomlose oorgang tussen hulle inisiatiewe as onderskeidelik gemeenskapsbouers en staatsbouers was. Iewers in die 20ste eeu is Afrikaners in die gees van 1910 se uniewording en die momentum van moderniteit meegesleur en het hulle die fout gemaak om staat en gemeenskap as sinoniem te verwar. Met goeie bedoelings is beheer oor gemeenskapsinfrastruktuur soos skole en universiteite weg van gemeenskappe na die staat oorgedra – en is die institusionele definisie van universiteite radikaal ondermyn. Vandag word daardie einste greep van die staat, hierdie keer onder die ANC, voortgesit.

’n Destydse toespraak deur prof. HB Thom belig hierdie kwessie. Thom was vanaf 1954 vir 16 jaar rektor en later kanselier van die Universiteit van Stellenbosch en het diep en gewaardeerde spore in die openbare Afrikaanse lewe getrap. In ’n toespraak voor die konvokasie van die Universiteit van Stellenbosch in 1978 dra hy egter daadkragtig die gesag oor universiteite vanaf gemeenskappe aan die staat oor.

“Universiteite is nasionale besit; hulle behoort aan die land en sy mense,” hef hy aan. Nieteenstaande sekere mindere verbande tussen universiteite en gemeenskappe, waarna Thom terloops verwys, is dit vir hom “logies en korrek dat universiteite … deur ’n wet van die nasionale wetgewende mag, die Parlement, in die lewe geroep word, en dat hulle, as hulle eenmaal gestig is, onder die nasionale regering opereer”. Daar is geen kwalifikasie van die “fundamentele gedagte” nie, naamlik “dat universiteite onder die nasionale wetgewing en die nasionale uitvoering ressorteer.”

Vir Thom kon Stellenbosch nie sy eie heil vind nie; dit moes ooreenkomstig die staat se plan geskied. Afrikaners is immers, kan ’n mens Thom amper hoor sê, in beheer van die staat en die staat is ’n hoër vorm as gemeenskap. “Universiteitsuitbreiding in Suid-Afrika kan nie maar lukraak – en seer seker ook nie bloot ter wille van die aansien of status van die een of ander universiteit – plaasvind nie; inteendeel, dit moet pas binne die raam van ’n groot nasionale beleid, wat ware landsbelange as eerste prioriteit stel.”

Met alle respek aan Thom: sy toespraak kan, met die nodige kontekstuele veranderinge, vandag ewe maklik deur hedendaagse verstaatlikers (soos die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi) gelewer word.

Dit is noodsaaklik dat ons, wanneer ons aan die verlies van ons universiteite in 2016 dink, dit herken as ’n logiese gevolg van ’n lang proses waarvoor die grondslag in betekenisvolle opsigte deur Afrikaners self, en nie deur die ANC nie, gelê is. Ten minste ten dele is die mag wat die staat vandag oor gemeenskapsinstellings soos universiteite het ons eie skuld. Ons het van die fundamentele onderskeid tussen gemeenskappe en state vergeet – en ons sal dit moet herontdek as ons die Afrikaanse universiteitsidee en universiteitswese in ere wil herstel.

As dit ’n sware oordeel oor onsself is, kan ons ter versagting daarop wys dat hierdie versmelting tussen staat en gemeenskap nie net Afrikaners ten laste gelê kan word nie, maar dat dit ’n algemene, moderne verskynsel is. ’n Omvattende ingang op hierdie laaste punt val buite die bestek van ons oorwegings hier. Ek maak daarom slegs enkele opmerkings oor uitdagings wat universiteite – en bepaald gemeenskapsuniversiteite – in hierdie moderne tydvak in die gesig staar.

Die bykomende uitdagings vir ’n Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit

Vir ’n vernieude Afrikaanse universiteitswese, ’n gemeenskapsuniversiteitswese, is dit noodsaaklik om vir ’n ruim gemeenskapsbenadering eerder as ’n staatlike karakter te kies.

’n Ruim gemeenskapsbenadering hou in dat die universiteit Afrikaans moet wees, maar dit het ook ander implikasies, aangesien die taal nie gans die universiteit is nie. By wyse van ’n voorbeeld: indien al die histories Afrikaanse universiteite vandag skielik weer Afrikaans word, is ons dan tevrede met die stand van die Afrikaanse universiteitswese? Is die karakter, inhoud, staatsverwantskap, lewensbeskoulike oriëntering, rigting en dies meer van hierdie universiteite dan skielik weer klopdisselboom? Sekerlik nie: Afrikaans is nie ’n genoegsame voorwaarde vir ’n universiteit om ’n gemeenskapsuniversiteit te wees nie.

Ons doel kan daarom nie wees om bloot die histories Afrikaanse universiteite, wat nou óf Engels is óf snel daarheen op pad is, in Afrikaans te herhaal nie. In ’n sekere sin gaan dit nie soseer om die taal nie, as wat dit gaan om ’n oop ekonomiese, kultuurpolitieke en geestelike samehang wat in en om ’n gemeenskap – en daarom by implikasie ook om ’n bepaalde taal – bewerkstellig word. In ’n sekere sin is die verlies aan Afrikaans op universiteitsvlak simptomaties van die ontoereikendheid van sake vir ons gemeenskap op al drie hierdie gebiede.

So gesien is die situasie waarop ons reageer dus meer as net die verlies aan Afrikaans op universiteitsvlak. Hoe lyk die ekonomiese, kultuurpolitieke en geestelike uitdagings wat ’n gemeenskapsuniversiteit sy studente in staat moet stel om te bowe te kom?

Lees die volledige verslag.

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP DATUM MET AKADEMIA NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP DATUM MET AKADEMIA NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG