Hoe duur is universiteitstudies?

In die afgelope jaar het die koste om by openbare universiteite te studeer onder die soeklig gekom. Studente het op verskeie kampusse in opstand gekom teen hoë fooie. Einde 2015 het studente geëis dat klasgelde nie verhoog word nie, maar gedurende 2016 het die eise toegeneem en wil die betogendes nou gratis hoër onderwys hê. Gratis hoër onderwys is uiteraard nie haalbaar nie – veral in ‘n land met geweldige hoë werkloosheidskoerse en met ‘n meegaande klein belastingbasis.

Koste

Die vraag ontstaan of hoër onderwys in Suid-Afrika te duur is. Mens sou egter ook kon vra wat ‘n billike prys sou wees om ‘n graad te kon behaal. Die jaarlikse koste om in 2015 ‘n BCom graad aan ‘n openbare universiteit te studeer was as volg:

Dis baie opvallend hoe die kostes tussen universiteite verskil. Die vraag ontstaan natuurlik of die waarde van sekere universiteite se kwalifikasies soveel hoër is as wat daardie universiteite duurder is.

In ‘n onlangse artikel deur Estian Calitz en Johan Fourie, The historically high cost of tertiary education in South Africa, dui die skrywers aan dat die reële koste van studies baie gestyg het. In 2005-rand terme sou ‘n BA graad by Stellenbosch R7 098 in 1911 gekos het. Dieselfde graad sou R9 823 in 1977, R13 753 in 2006 en R17 915 in 2015. Die ander belangrike waarneming uit hul studie is dat die koste van studie as persentasie van per kapita inkomste ook toegeneem het sedert 1961 (van 28.4% tot 45.9% in 2015). Mens sou dus kon sê dat dit, op grond van hierdie studie, in alle opsigte duurder geword het om te studeer.

Staatsubsidie

Klasgelde maak slegs een van drie primêre bronne van finansiering van openbare universiteite uit. Die ander twee is staatsubsidie en donasies (vanaf alumni) waarvan subsidies die grootste deel uitmaak. Volgens die IRR vergelyk staatspandering vir universiteite tussen die periode 2001/02 en 2014/15 as volg:

Alhoewel staatsbefondsing nominaal toegeneem het, het laasgenoemde as persentasie van totale besteding afgeneem – dit terwyl studente deelname met 69.8% oor die periode toegeneem het. Hierdie afname in befondsing het veroorsaak dat baie meer druk op die ander bronne van inkomste verskuif is. Dit verklaar onder andere waarom reële klasgelde so gestyg het.

Werklike koste

Die vraag ontstaan wat die werklike koste van hoër onderwys is. Hierdie vraag is veral belangrik vir voornemende privaat verskaffers van hoër onderwys. Sou mens die staatsubsidie vir universiteite (uitgedruk as ‘n per kapita waarde) by die klasgelde tel , behoort mens breedweg ‘n idee te kry van die totale afleweringskoste. Volgens die IRR was die gemiddelde per kapita subsidie vir openbare universiteite in 2013 (uitgesluit Unisa) R40 030. Tel dit by klasgelde van R30 000 is die totale afleweringskoste ongeveer R70 000 per jaar vir ‘n BCom graad. Dit sluit natuurlik addisionele kostes soos handboeke, verblyf en lewenskoste uit. Mens moet in ag neem dat openbare instellings nie net “winsgewende” kwalifikasies kan aanbied nie, maar ook ‘n verpligting teenoor die belastingbetaler het om ook kwalifikasies aan te bied wat min mense wil studeer en daarom verliesdraend is.

Privaat instellings

Privaat instellings word nie deur die staat befonds nie en is heeltemal aangewese op klasgelde. Studente wat by hierdie instellings studeer het ook nie toegang tot staatsbeursskemas nie. Daar is tans 116 geregistreerde privaat instellings met 258 kampusse in Suid-Afrika. Die meeste van hierdie instellings bied enkele niskwalifikasies aan in velde soos inligtingstegnologie, klank en video redigering, mode ontwerp en teologie. Baie min van hulle aspireer om ‘n omvattende aanbod daar te stel. Enkele uitsonderings is  Akademia, Monash Suid-Afrika en Pearsons (voorheen MGI & CTI).

Mens sou kon argumeteer dat die koste om by privaat instellings te studeer min of meer dieselfde behoort te wees as die totale werklike koste van openbare instellings. Meeste privaat instellings is winsgedrewe en moet nog ‘n winsmarge sowel as die koste van kapitaal verreken in hul pryse. Die volgende is die koste van ‘n BCom graad per jaar vir 2017 by hierdie instellings (die Pearsons prys is vir 2016 en die ander vir 2017).

Beide Monash en Pearson is winsgedrewe en gebruik kampusmodelle. Laasgenoemde se pryse vergelyk goed met die werklike koste van soortgelyke openbare instellings. Akademia is ‘n maatskappy sonder winsoogmerk en gebruik ‘n gedesentraliseerde toegangsmodel met verpligte klasbywoning. Die optimale aanwending van tegnologie dra by tot die hoë mate van bekostigbaarheid in hierdie model.

Ten slotte

Dit is waar dat dit duurder geword om te studeer. Gegewe die ekonomiese vooruitsigte van Suid-Afrika lyk dit onwaarskynlik dat die staat baie meer kan bydrae tot hoër onderwys. Dit  beteken dat klasgelde in die toekoms by openbare universiteite sal moet styg.

Vir baie mense raak toegang tot openbare universiteite buite hul bereik en sal hulle na alternatiewe moontlikhede moet soek. Nuwe privaat rolspelers skep innoverende oplossings en modelle waarbinne studente hoë gehalte onderrig en opleiding kan ontvang teen bekostigbare pryse. Namate openbare universiteite duurder word en boonop blootgestel word aan politieke onstabiliteit, sal meer privaat universiteite en oplossings die lig sien. Hierdie verskuiwing in die hoër onderwys landskap moet verwelkom word.

Goeie kompetisie het niemand nog kwaad gedoen nie.

Hierdie artikel is deur Akademia se besturende direkteur, Marthinus Visser, geskryf en het oorspronlik op Maroela Media se webblad verskyn. 

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP DATUM MET AKADEMIA NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP DATUM MET AKADEMIA NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG