Akademia vier moedertaalonderrig op Moedertaaldag

Op 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag gevier om bewuswording oor kulturele diversiteit en veeltaligheid te bevorder. Die klem val vanjaar op ʼn volhoubare toekoms deur veeltalige onderrig.

Volgens Unesco (die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie) moet leerders eerstens toegang tot onderrig in hul moedertaal en daarna in ander tale hê om volhoubare ontwikkeling te verseker.

Akademia staan vir die idee van moedertaal-universiteitswese: dat die Afrikaanse student in Afrikaans die geleentheid van eersteklas hoër opleiding en opvoeding moet kry, om daardeur ʼn bydrae in sowel die wêreld as in sy gemeenskap te lewer. Ons vier Moedertaaldag daarom met oorgawe en bou voort aan kwaliteit onderrig in Afrikaans vir ʼn volhoubare toekoms in Suid-Afrika.

Woorde en waardes wat vasgesteek het

Ma’s speel ʼn groot rol in die oordrag van taal – dit word nie om dowe neute “moedertaal” genoem nie! ʼn Paar bekende name in Afrikaanse kringe vertel van die belangrikste woorde en waardes wat hulle by hul ma’s geleer het:

“Die woord ‘aitsa’ onthou ek goed! Ons het by Kleuterkasteel ‘n konsert gehad. Ek was ʼn kabouter. Toe ek my pakkie die eerste keer aangetrek het, was ma se reaksie “aitsa”. Ek skat ek was so drie.”

–          Dr Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

“My ma was ʼn Afrikaanse juffrou wat van kleins af klem gelê het op lettergrepe as basis vir spelling. Die een woordjie wat sy ons geleer het, was mu-ni-si-pa-li-teit. Sy sê ek kon dit al sê voor ek twee was. Ek dink my gunsteling woord was ‘tjoklits’.”

–          Dr Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK

“Ek was ʼn ernstige boekwurm, van kleins af. Ons het as gesin aandete aan tafel geëet, en ek onthou dat my ma my oorgesien het as ek met my boek aan tafel gaan sit het omdat ek op ʼn plek in die storie is waar ek nie die boek kan los nie. Dan eet ek so lees-lees. Sy het die streep getrek toe ek een dag in die kerk my storieboek uithaal net toe die dominee begin preek.”

–          Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media

“My ma het die woord ‘luister’ by my ingeskerp. Sy het dit beklemtoon dat elke mens met twee ore en slegs een mond geskape is. Deur goed te luister bekom jy dikwels waardevolle kennis en begrip vir ʼn onderwerp of mense se sienswyses. Luister is ʼn kosbare vaardigheid!”

–          Michael Jonas, direkteur van die Taalmonument en -museum

“My voorkeurwoord is ‘miershoop’. My ma het die storie oor Racheltjie de Beer vertel.

ʼn Miershoop is ʼn indrukwekkende ding, ʼn huis wat uit modder gebou is maar bly staan, maak nie saak hoe hard dit reën of hoe hard die wind waai nie.  Dit het natuurlike lugreëling en ondergrondse landerye. Oeroue hoëtegnologie uit die hartjie van Afrika.”

–          Dr Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad

“’n Gesegde wat egter deel van my lewe geword het is ‘Van tande en tone word nie aan tafel gepraat nie’.

My ma was ‘n ware “dame” in die outydse sin toe dit nog as kompliment gebruik is en ek troos my altyd dat ek van “beter weet, al doen ek dit nie” en so deur my ma aanvaar is.”

–          Dr Dionē Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Ons akademici aan die woord

Akademia se programbestuurders deel hul gunsteling Afrikaanse woorde, ook op hul akademiese gebied:

“My gunsteling Afrikaanse woord is ‘onthou’, omdat dit op mooi herinneringe saam met vriende en familie dui. Ek gebruik die woord ook gereeld om myself en ander te herinner!

My gunsteling Afrikaanse akademiese woord is ‘vraagkromme’ – dis ʼn lekker woord om te verduidelik.”

–          Elize-Marie Coetzer
Programbestuurder: BCom Ondernemingsbestuur

“My gunsteling Afrikaanse woord is ‘klopdisselboom. Ek hou van die woord want dit vir my eg Afrikaans en sommer net lekker om vir iemand te sê iets is klopdisselboom!

My gunsteling akademiese woord is ‘bydrae’. Dit is ʼn term wat baie in rekeningkunde gebruik word en die woord se beskrywing lê in die woord self. Wikipedia se definisie verduidelik dit so mooi: ‘’n Bydrae is jou aandeel in ʼn saak, hetsy positief of negatief. Bydra is die aksie om te gee. Bydrae is ʼn selfstandige naamwoord terwyl bydra ‘n werkwoord is.’”

–          Chané Smit

Programbestuurder: Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde

“My gunsteling Afrikaanse woord is ‘broei’ – daar is soveel maniere waarop dit gebruik kan word en dit gee ʼn warm knus gevoel.

My gunsteling akademiese woord is ‘organisatories’ – hierdie tongknoper kan ek vandag steeds nie uitspreek mits ek dit opbreek in lettergrepe nie.”

–          Jaun Kriel

Programbestuurder: Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie / Gevorderde Diploma in Projekbestuur

Watter woord staan vir jou uit as die woord wat jy by jou ma geleer het?

Gebruik #OnsTaal en deel die woord op een van ons sosialemediaplatforms en jy kan ʼn geskenkbewys ter waarde van R500 van Kraal Uitgewers wen.

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP DATUM MET AKADEMIA NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP DATUM MET AKADEMIA NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG