Lesse uit die lewe van ons volksmoeders

Geskryf deur dr. Annelise de Vries, dosent in Opvoedkunde by Akademia

“Voor my is daar slegs een beeld van ware liefde, trou en moed, naamlik die Afrikaanse vrou.” Met hierdie woorde het oudpresident M.T. Steyn, die Vrouemonument – enig in sy soort in die wêreld – in Bloemfontein in 1913 onthul. Volgens Steyn moet die liefde wat deur die Monument versinnebeeld word, rigtinggewend in die toekoms van elke deel van die Suid-Afrikaanse bevolking wees. Alle vroue van alle nasies ter wêreld is sterk en waardig. Hier is egter die storie van my volk se moeders.

Die rol wat die vrou in die Afrikaanse geskiedenis gespeel het, is soos ʼn goue draad wat die gebeure bind vanaf die VOC-tydperk in die 1600’s, dwarsdeur die Anglo-Boereoorlog-tydperk in die 1900’s, die heropbou- en hervestigingstydperk ná dié oorlog, die tydperk van die Tweede Wêreldoorlog en ook vandag, in moderne tye.

Tydens my navorsing vir hierdie artikel het ek diep onder die indruk gekom dat die vrou, veral ʼn Boerevrou, oor veel meer dimensies beskik as die sagte, moederlike figuur wat na haar familie omsien en vrede saai. Ja, sy maak wol en vlas bymekaar, staan op as dit nog nag is en maak kos vir haar gesin, het ʼn oop hand vir armes en is vrygewig teenoor behoeftiges, soos Salomo tereg in Spreuke 31 sê. Máár hy sê ook dat sy die werk aanpak met krag en dat haar hande vir niks verkeerd staan nie. “As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde … haar kinders prys haar, haar man bewonder haar …” (Spreuke 31).

Ons volksmoeders was die vergestalting van hiérdie eienskappe. Hulle was nie katjies om sonder handskoene aan te pak nie, ʼn fors wat menige teenstander vinnig besef het, iets was om mee te reken.

Hoewel daar talle vergete heldinne onder hulle was, is daar tog ʼn paar vroue wat die geskiedenisboeke gehaal het.

Die 12-jarige Johanna van der Merwe, is een so voorbeeld. In die oggendure van 17 Februarie 1838 het die Zoeloes niksvermoedende Trekkers by Bloukrans aangeval en min oorlewendes oorgelaat. Een kind wat egter die aanval oorleef het, was Johanna van der Merwe. Met 24 assegaaisteke het sy oorleef deur onder die liggame van kinders wat reeds vermoor is te skuil. Haar ongekende dapperheid was die inspirasie agter die naam van die gedenkwaens van die 1937-trek en ʼn duikboot van die Suid-Afrikaanse vloot, die SAS Johanna van der Merwe.

Nóg ʼn voorbeeld van ʼn ystervrou tydens die Groot Trek is Susanna Smit. Sy het vir die Britse kommissaris, ene meneer Cloete, in 1842 gesê het, “Meneer Cloete … al moet ons ook kaalvoet oor die Drakensberge loop, sal ons nie onder die Britse vlag berus nie.” Haar woorde was die inspirasie van die bronsbeeld wat in 1977 deur die Vrystaatse Voortrekkerbeweging opgerig is om die moed en daadkrag van die Voortrekkers en veral die onverskrokkenheid en deursettingsvermoë van die vroue uit te beeld.

Een van die vroue wat tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) uitgestaan het, was Johanna van Warmelo wat tydens die ABO as aktiewe spioen opgetree het en waardevolle inligting na onder andere Paul Kruger gesmokkel het. Haar netwerk het bestaan uit vroue en nuus is versamel en aan die kommando’s deurgegee. Van haar briewe is op ʼn fabelagtige wyse in suurlemoensap geskryf sodat die inhoud onsigbaar is (veral in ʼn tyd toe briewe vir intelligensiedoeleindes deur die Britte onderskep is) totdat dit aan hitte soos dié van ʼn strykyster blootgestel is.

Nonnie de la Rey, ʼn tydgenoot van Johanna van Warmelo, is internasionaal bekend daarvoor dat sy tydens die ABO nooit gevang is en in ʼn konsentrasiekamp gestop is nie. Vanaf Desember 1900 tot Mei 1902, het Nonnie met haar voortvlugtende gesin in die veld gewoon en konstant van die Kakies gevlug.

Sy skryf van ʼn tyd toe sy en haar man, generaal Koos de la Rey, mekaar in die veld ontmoet het, maar hy kort daarna weer na ʼn veldslag moes terugkeer. Die feit dat sy nie seker was of sy hom ooit weer sou sien nie, het die afskeid hartverskeurend gemaak. Tog het sy ten spyte van moontlike persoonlike verlies, soos vele ander vroue, die mans in haar lewe aangespoor om te gaan veg. Besorgd het sy hulle gemaan om godvresend te wandel en vertroos word met die woorde dat indien sy hulle nie weer op aarde sou sien nie, sy hoop om hulle in die hemel te sien.

Maria Koopmans-De Wet is deur Cecil John Rhodes as die “gevaarlikste vrou in die Kaapkolonie” gedoop. Volgens die historikus, Ilze Nieuwoudt, het Rhodes in ʼn stadium planne gehad om ʼn gedeelte van die Kasteel van Goeie Hoop plat te slaan aangesien dit in die pad van sy planne vir ʼn spoorlyn vanaf Seepunt gestaan het. Die bastion wat in die pad gestaan het, was volgens Rhodes net ʼn klein gedeelte van die kasteel waarop Maria hewig gereageer het met die woorde “sy neus is ook net ʼn klein deel van sy gesig, laat hy dit afsny en in die spieël kyk om te sien hoe hy lyk”. Nodeloos om te sê het Rhodes ʼn alternatiewe roete vir die spoorlyn gevind.

Tog was dit nie net hierdie drie vroue wat tydens die ABO heldedade verrig het nie. Dit was die talle vroue agter die skerms wat hul mans aangemoedig het om nie wapens neer te lê nie, want die saak waarvoor hulle geveg het, was groter as die lewe self.

Ene Anna Sophia du Toit skryf, “Ek was uitgeput, maar tog het my hart warmer en warmer geklop vir ons land en ons regverdige saak.”

Bettie Pretorius skryf: “Maar wat dit ook al kos, ek kon daar tog nie aan dink om in die hande van die vyand te val nie! Ons vrouens, wou liewers ons lewens, ja ons laaste druppel bloed, gee as om in hulle mag te wees. Hoe dikwels het ek gedink en gewens: ‘O, kon ek tog maar met die wapen in die hand vir my Vaderland veg’. En hoeveel burgers het hulle wapens gehad en het dit so min gewaardeer dat hulle dit aan die vyand oorgegee het. En nog erger – hulle het die vroue vervolg wat hulle geboortereg so innig liefgehad het.”

Volgens J. Kriegler was die vroue baie teleurgesteld indien haar man gaan wapens neerlê het – liewers die tyding van sy dood as die tyding dat hy ontrou aan land en volk was.

Die adel en geloofsmoed van die Boerevroue en -kinders in die diepte van hulle lydings, het die respek en bewondering van sowel vriend as vyand aangegryp. In hulle verhewe ideaal om ook hul deel tot die behoud van die vryheid van die vaderland by te dra het hulle onuitspreeklike offers gebring.

Emily Hobhouse, die bekende figuur van die ABO, het by die Afrikaner gepleit om die Britse imperialiste te vergewe “because you can afford it”. Anders gestel omdat “julle” geestelik sterk genoeg is, kan “julle” “hulle” sonder haat en bitterheid vergewe.

Ná die ABO was daar nog talle voorbeelde van die onverskrokkenheid van die Boerevroue:

Op 4 Augustus 1915 het ongeveer 65 000 vroue oor die hele land na Pretoria opgeruk om ʼn petisie vir die vrylating van alle aangehoue Rebelle en teen die opheffing van hul vonnisse aan Lord Sydney Buxton, goewerneur-generaal van die Unie, te oorhandig. Die goewerneur-generaal was woedend dat vroue, wat geen stemreg of regstatus in die gemeenskap gehad het nie, dit durf waag het om eise aan die regering te stel.

Hoekom vergeet ons so vinnig waarvan ons gemaak is en wie ons voormoeders was? Het jy al ooit daaraan gedink dat tesame met veggees daar ʼn ongekende vergewingsgesindheid in jou bloed is?

Jy is nooit te jonk om groot dinge te doen nie, vra maar vir Johanna van der Merwe.

Jou moed kán, soos dié van Susanna Smit, letterlik die rigting van die geskiedenis bepaal.

Jóú intellek en vroulike intuïsie kan, soos dié van Johanna van Warmelo, as baken vir talle dien.

Jou vasberadenheid, kan soos dié van Maria Koopmans-De Wet, ons erfenis red.

En jou strewe na wat reg is, al het dit betreurenswaardige gevolge, kan ʼn hele nasie, selfs ʼn hele wêreld tot geloof roep, vra maar vir Nonnie de la Rey, Anna Sophia du Toit en Bettie Pretorius.

Die wyse Salomo het nie verniet geskryf nie: “Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen, laat haar werk roem wees in die stadspoorte.”

Dr. Annelise de Vries is ʼn dosent in Opvoedkunde en ʼn kenner op die gebied van die Afrikaanse taal.

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE