Die seggingskrag van die Afrikaanse boek

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia.

Dit is verrassend dat vandag steeds ’n groot aantal literêre werke in Afrikaans verskyn. Dit is verblydend, aangesien ons moedertaal onder druk verkeer. Enige mens met ʼn Afrikaanse hart is diep dankbaar daaroor. Verskeie van hierdie werke is volgens geleerdes uitstaande.

Anders gestel: Verskeie van die jonger werke getuig steeds van die seggingskrag van Afrikaans. Soos in weinig ander tale maak dit steeds ons wêreld op ʼn  onvergelykbare wyse oop. Te midde van die talle uitdagings waarvoor Afrikaans vandag staan, is dit ’n rede tot hoop.

Met die oog op die viering van Afrikaanse Taaldag op 14 Augustus word hier slegs enkele bondige opmerkings oor die Afrikaanse boek gemaak. Dit hou juis met die  seggingskrag van Afrikaans verband. Wanneer beskik ʼn taal oor ’n eie ‘sê-krag’?

Biblioteke is in die verlede toegegooi met werke wat oor die verskynsel van taal en taalgebeure geskryf is. Ter wille van ruimte beklemtoon ons slegs een saak. Ons kan sê dat die seggingkrag van ʼn taal so diep, oop en onpeilbaar is as die werklikheid self. In die mate waarin die werklikheid in sy volheid deur ʼn taal in woorde omskep word, in daardie mate is ʼn taal kragtig.

Sedert Homeros en Vergilius in die klassieke oudheid tot en met Shakespeare, Dostojefski en N.P. van Wyk Louw in die moderne era word tale deur dié krag gekenmerk. Nie dat enige van hierdie skrywers ooit die volle omvang van die werklikheid tot woorde kan omskep nie. Die werklikheid is immers onpeilbaar. Maar met die lees van ʼn Homeros en die ander groot skrywers uit die ‘Westerse kanon’ ervaar ons steeds hoe hulle ons aan die hand lei na steeds dieper insig in die volle werklikheid self – ʼn werklikheid wat deur hul oë ons steeds verstom laat. Ook vandag nog.

Ons het reeds Louw uit ons eie taalwêreld genoem, maar daar is soveel ander voorbeelde uit die Afrikaanse literêre skatkis.

F.A. Venter, een van talle ‘ou grotes’ uit ons verlede, is so ʼn voorbeeld. Venter het in verskeie van sy boeke die dieptes van ons eie geskiedenis, die kronkelpaaie van menswees, die harnekkigheid en broosheid van Afrikanerkarakters en die verruklike skoonheid en selfs die misterie van ons landskappe oopgemaak. Sy steeds roerende werke oor die Groot Trek, maar ook Werfjoernaal, Kambro-kind en Man van Cirene – hulle is nie noodwendig geskryf in ooreenstemming met hedendaagse style en modes nie, maar dit is diep eerlik, reguit, en esteties uitstaande.

Lees maar net weer die eerste paragraaf uit Man van Cirene en jy besef dadelik dat jy jou op ʼn lewensreis in die dieptes van die ou Antieke Wêreld bevind:

Op ʼn hoogland van Afrika, net bo die see, lê Ciréne, haelwit stad wat die Grieke gebou het toe Rome nog ’n kind was. In die hete somergloed blits die tinne, skitter die koepels, en lok die koel suilegange van tempels.

Geen wonder dat universiteite wat die naam ‘universiteit’ waardig is, vandag steeds dié en talle ander groot skrywers uit die verlede voorskryf nie. Die sogenaamde Groot Boeke uit die verlede verteenwoordig steeds ’n leerskool in die werklikheid self.

Maar die omgekeerde is ook waar: In die mate waarin sekere skrywers ons vandag in hulle eng en benoude ideologiese skemas indwing, gee tale hul seggingkrag prys. Hulle word flou clichés, uitgediende frases, slagspreuke. Karakters word nie in hul veelkantigheid geskets nie, maar in ʼn kartonagtige oppervlakkigheid.

En hoe benoud en skraal het dit nie geword nie? ’n Mens kan vandag skaars ʼn nuwe boek lees of ʼn nuwe film kyk en jy word binne die engtes van ’n ideologiese skema vasgedruk. Vanuit sekere universiteite, sommige media, Hollywood, die groter sakewêreld en globalistiese raadsale word ons dikwels onder ʼn stortvloed woorde toegegooi – woorde wat sonder enige tussenpose vertel hoe boos, skuldig en verderflik alles is wat vanuit die Weste kom. Ironies genoeg is dit dieselfde Weste waaraan hierdie instellings hul gekussingde bestaan te danke het.

Ons menswees vind sy bestaan in die ingewikkelde spel tussen die bose en die goeie. Geeneen van ons is slegs goed of slegs boos nie. Om die ganse geskiedenis as die stryd tussen die bose Weste en die goeie Resvoor te stel beteken om geweld teen die volle werklikheid te pleeg. Dié geweld getuig nie van die krag van ons tale nie. Inteendeel, dit doen afbreuk daaraan.

Wat is ons wens op Taaldag vir die toekoms van die Afrikaanse boek? Dat dit nie net steeds getalsgewys sal presteer nie, maar dat dit ook inhoudelik daarin sal slaag om die verleidelike roepstem van ideologiese modes te weerstaan. Waarom? Sodat dit steeds die ooptes en wydtes van die werklikheid aan die woord kan stel. So sal ons moedertaal steeds ʼn seggingskrag uitstraal.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof by Akademia.

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE