Waarom is die studentelewe belangrik?

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia

Volgens globale tendense bevind ons onsself toenemend in kunsmatige borrels. Binne dié borrels word ons van ons gemeenskapsgenote geïsoleer. Ons lewe draai toenemend rondom ons eie individuele self en ons ‘kleiner belange’.

Tydens die Covid-pandemie is dit op dramatiese wyses bevestig: Miljoene mense is dwarsoor die globale wêreld by wyse van burokratiese maatreëls (ondersteun deur eksperts, tegnokrate en politici) in borrels geplaas en so van mekaar afgegrens. ‘Handhaaf jou afstand, vermy enige vorm van gemeenskap,’ was die bevel. Selfs kerklike byeenkomste, klaskamers, sportvelde en die sterfbed van geliefdes moes vermy word. So asof jou gemeenskapsgenote melaats is.

Dit sal egter ʼn fout wees om te dink dat hedendaagse tendense tot individualisering (en bygesê, tot ‘vereensaming’) met die beëindiging van die pandemie ook tot ʼn einde gekom het.

Genoemde tendense is reeds lankal met ons. Die historiese oorspronge daarvan kan selfs na die sewentiende eeu teruggevoer het. Toe reeds het denkers soos Thomas Hobbes en John Locke aangevoer dat die mens ‘van nature’ ʼn blote individu is. (Uit ervaring weet ons dat die mens inderwaarheid van nature ʼn gemeenskapswese is).

Die insigte van Hobbes en Locke het egter nie net by teorie gebly nie. Reeds voor hulle tyd het die opkomende territoriale state gepoog om mense van hul gemeenskappe te isoleer en slegs as individue te hanteer. Met gemeenskappe uit die prentjie kon hulle veel beter sentrale beheer oor hulle gebiede uitoefen.

Een van die talle gevolge van die moderne prosesse van individualisering was die vorming tydens die negentiende en twintigste eeue van vaal, irrasionele en manipuleerbare massas. Ons kan dit as ʼn wet formuleer: Hoe meer mense geïndividualiseer word, des te meer word hulle in massas opgeslurp. Gemeenskapsvorming is ʼn belangrike alternatief op massavorming (en nie, soos wat dikwels aangevoer word, ʼn uitdrukking daarvan nie).

Met die Covid-pandemie is die reeds eeueoue neiging tot individualisering en gevolglike massavorming op ʼn dramatiese wyse bevestig.

Maar wat is die antwoord? Om mense vanuit hul gemeenskapsbande te haal en van mekaar te isoleer is kunsmatig en onnatuurlik. ʼn Sinvolle antwoord daarop is om uit die kunsmatigheid te breek. Daarvoor is die herontdekking van ons natuurlike gemeenskapsbande (soos ons gesinne, vriendskappe, kulture) noodsaaklik. Uit ervaring weet ons dat ons as mense van nature tuis is tussen gemeenskapsgenote. Ons kom in gemeenskap met genote tot ons reg.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die studentelewe vandag – in die era van kunsmatigheid en afsondering – so belangrik is. In en deur ʼn lewendige studentelewe is elke student méér as slegs ʼn losstaande individu.

Vanweë die studentelewe word aan gemeenskaplike sake deelgeneem; word gemeenskapsbande gestig; word vorm aan ons ideale en drome gegee; word saam feesgevier. Kwalik enige ander geskenk laat ʼn blywender indruk op ons as so ʼn studentelewe.

Akademia se reeds bruisende studentelewe het jou hulp nodig. Jou studentestories kan ʼn bousteen vir Akademia se groeiende studentekultuur wees. Om meer hieroor uit te vind besoek www.studentelewe.co.za en raak betrokke by die #Studentelewe-veldtog.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia en ʼn kenner op die gebied van filosofie.

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE