So bou ons aan die skeppingslegkaart in ons strewe na ʼn betekenisvolle toekoms

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe

Die module Fisika word as deel van Akademia se eerste graad uit die Fakulteit Natuurwetenskappe, die BSc (Wiskundige Wetenskappe)-kwalifikasie, in die eerste studiejaar aangebied. Die woord “fisika”, wat uit Grieks vertaal kan word as “kennis van die natuur”, beskryf die studie van nielewende verskynsels in die natuur. Onder hierdie verskynsels sorteer die beweging en gedrag van materiële voorwerpe, sowel as die energie en kragte wat daarmee gepaardgaan.

In hierdie verband omsluit die natuur nie net dit wat ons op aarde waarneem nie, maar ook die kosmiese skepping in geheel. In samehang van “kennis van die natuur” kan Fisika dus ook beskryf word as die studieveld wat gemoeid is met “kennis van die skepping”. Vanuit Akademia se oogpunt is laasgenoemde juis daarop gerig om die skoonheid, goedheid en waarheid van die Skepper beter te leer verstaan. Dit gee weer aanleiding tot ʼn eerbied vir die Skepper as die bron – of fontein – van skeppingskennis. ʼn Groter kennis van die skepping gee ook meer betekenis aan die mens se opdrag om te “heers oor die natuur of skepping” (Genesis 1:26). Dit is vanuit hierdie agtergrond dat Akademia in haar visie na ʼn betekenisvolle toekoms verwys.

Omdat die mens, ook ten opsigte van skeppingskennis, “net gedeeltelik ken” (1 Korintiërs 13:12), word dit as noodsaaklik geag om objektiewe kennis oor die materiële skepping te bekom. Dit impliseer dat daar aanvaar word dat die mens nie daartoe in staat is om slegs deur logika en rede die skepping in sy totaliteit te kan verstaan nie. Hierdie aanslag het veral posgevat gedurende wetenskaplike revolusie van die 16de tot 17de eeue, en die daarop­volgende ontwikkeling van die sistematiese wetenskaplike metode. Meetinstrumente, waarmee eksperimente uitgevoer kan word, vorm ʼn integrale deel van die laasgenoemde metode.

Daar word oor die algemeen aanvaar dat die Italiaanse fisikus Galileo Galilei (1564-1642) ʼn pioniersrol gespeel het in die ontwikkeling en die gebruik van meetinstrumente waarmee fisika-verskynsels ondersoek en bevestig kan word. Hierdie ontwikkeling het aanleiding gegee tot die dissipline van klassieke meganika, of die wiskundige studie van bewegende voorwerpe, wat dan ook die tydperk van die klassieke fisika ingelei het – ʼn tydperk van uitstaande groei in die fisika en wiskunde gedurende die 16e tot 17e eeu, wat gevolg het op ʼn ontwikkelingsstilstand van bykans 1 500 jaar.

As deel van opvoeding het die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia dit goedgedink om fisika-studente praktiese blootstelling te gee aan meetinstrumente uit die klassieke fisika. Dit bevorder nie net wetenskaplike denke nie, maar skep ook ʼn waardering vir die historiese ontwikkeling van die fisika. Vir hierdie doel is ʼn reeks meetinstrumente gebou en in gebruik geneem. In die toekoms sal nog meer van hierdie instrumente gebou word en daar word beoog om ook van die meetinstrumente nog meer sigbaar op die Akademia-kampus aan alle studente ten toon te stel.

Op hierdie manier bou Akademia se studente en navorsers aan die skeppingslegkaart om sodoende ʼn beter begrip van die skepping te verwesenlik op ons roete na ʼn meer betekenisvolle toekoms.

Prof. Hannes Rautenbach is die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe.

ʼn Driehoekplaat wat in verskillende posisies gehang kan word om die massa-middelpunt te bepaal.

ʼn Maatstaf vir swaartekragverwante eksperimente deur ʼn voorwerp (in hierdie geval ʼn bal) teen ʼn helling te laat afrol. Dit is oorspronklik deur Galileo Galilei ontwikkel en gebruik.

ʼn Platform waarmee botsings en momentum-oordrag tussen twee voorwerpe ondersoek kan word.

ʼn Raamwerk waarmee die gedrag van ʼn swaaiende pendulum gemeet kan word.

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG