Akademia neem studente se karaktervorming ten harte

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia

Universiteite is vandag by uitstek ‘waardegedrewe’ instellings. Enigeen wat die moeite doen om hul openbare standpunte te raadpleeg, sal dadelik opmerk dat universiteite wêreldwyd hulself bykans sonder uitsondering tot verskeie waardes verbind.

Waardes wat hoog op die lys by universiteite staan, is waardes soos uitnemendheid, innoverende en kritiese denke, inklusiwiteit, leierskap, respek, medelye, akademiese vryheid, waardigheid, toerekeningsvatbaarheid en akademiese burgerskap. Hierdie lys kan nog aansienlik uitgebrei word.

Akademia sluit in menige opsig by verskeie van hierdie waardes aan. Akademia verteenwoordig wat dit betref daarom ook nie noodwendig ʼn uitsondering binne die hedendaagse universitêre lewe nie. Ook Akademia heg groot betekenis aan waardes soos uitnemendheid, innoverende denke, leierskap, ensovoorts.

Maar dit bring ons by ʼn boeiende vraag: Indien dit so is dat Akademia ook ʼn hoë premie op die meeste van genoemde waardes plaas, wat onderskei haar met betrekking daartoe? Ter wille van bondigheid kan ons – naas die akademiese waardes waarop ons nie nou fokus nie – kortliks na ʼn praktiese waarde verwys wat deur Akademia omhels word. Dit onderstreep die unieke aard van Akademia.

Alvorens ons egter daarna verwys, moet vooraf slegs genoem word dat Akademia wat die betrokke waarde betref aansluit by die groot tradisie van die universiteitswese. Laasgenoemde is reeds vir eeue tot dié praktiese waarde verbind. Universiteite wat vandag nog by die groot universitêre tradisie aansluit, is eweneens daartoe verbind.

As ons dit tot ʼn enkele woord kan inperk, kan gesê word dat Akademia ook – te midde van die talle akademiese oogmerke – tot die vorming van hul studente se ‘karakter’ verbind is. Wat word daarmee bedoel?

Sonder om te uitgebreid daaroor te skryf, kan met reg beweer word dat ons karakter gevorm word wanneer ons bewus word van die rol wat ons binne die groter geheel van dinge kan en moet speel. In die besonder word ons karakter gevorm wanneer ons rol in die groter geheel van dinge deur waardes soos deelname, vriendskap, gemeenskap, ʼn sin vir grense, offervaardigheid, intellektuele en morele dapperheid, matigheid, die vermoë om te luister, die strewe na wysheid asook deur trou aan die hoogste en heilige dinge gekenmerk word.

Akademia is tot karaktervorming in genoemde sin van die woord verbind. En soos reeds gesê, Akademia sluit wat dit betref by verskeie universiteite aan wat eweneens ʼn hoë premie op karaktervorming plaas. Tegelyk onderskei Akademia haarself van heersende tendense aan universiteite om met karaktervorming as praktiese waarde weg te doen. Trouens, verskeie hedendaagse universiteite word eerder deur waardes gekenmerk wat in spanning staan met die idee van karaktervorming.

Ons verwys na die gedagte by talle universiteite dat alle grense opgehef en alles vloeibaar gemaak moet word; dat ‘vorming’ van welke aard ook al die vloeibaarheid van alles verhinder en ons so inperk, en dat studente tot ʼn lewe van ‘opwaartse mobiliteit’ aangemoedig moet word. (Met ‘opwaartese mobiliteit’ word bedoel dat studente hul gemeenskappe, tradisies en gevestigde oortuigings agterweë moet laat ter wille van ʼn lewe gedefinieer rondom hul eie individuele belange. ʼn Lewe van diens aan die eie gemeenskappe – ʼn oogmerk van die tradisionele universiteitswese – word as beperkend ervaar.)

Karaktervorming vooronderstel ʼn begrensing van wie en wat ons is, ook die begrensing van ons keusevryheid. In ʼn wêreld waarin alles egter vloeibaar is, kan daar nie plek vir grense wees nie. Vorming, word gesê, impliseer dat grense getrek word. So verhinder dit die vloeibaarheid van alles.

Die aansluiting by ons tema, die enigsins dramatiese gevolg van ʼn wêreld wat nie grense kan of wil trek nie, is egter dat karaktervorming as sodanig onmoontlik word. Tot die groot nadeel van onder meer die studente. Paul Kingsnorth, ʼn bekende Amerikaanse skrywer, verwoord die noodsaak van grense treffend:

I realized that a crisis of limits is a crisis of culture, and a crisis of culture is a crisis of spirit. Every living culture in history, from the smallest tribe to the largest civilization, has been built around a spiritual core: a central claim about the relationship between human culture, nonhuman nature, and divinity. Every culture that lasts, I suspect, understands that living within limits—limits set by natural law, by cultural tradition, by ecological boundaries—is a cultural necessity and a spiritual imperative. There seems to be only one culture in history that has held none of this to be true, and it happens to be the one we’re living in.

Waarteen Kingsnorth waarsku, is ʼn wêreld sonder grense. Alhoewel hy dit nie hier so beskryf nie, is so ʼn wêreld een wat nie tot karaktervorming verbind is nie. Inteendeel, dit is eerder ʼn wêreld waarin brute mag die deurslag in alle besluite gee, eerder as waardes wat die toets van die tye deurstaan het.

Met haar verbintenis tot karaktervorming as ʼn praktiese ideaal van die universiteitswese verteenwoordig Akademia ʼn helder alternatief in die gesprek oor waardes. Enigeen wat erns maak met die toekoms van ons studente, sal dit met ope arms verwelkom.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG