Grendelmaatreëls en die staatskas

Deur dr. Sandra Adendorff, dosent in Ekonomie en Internasionale Bestuur by Akademia.

Suid-Afrika is ʼn interessante land. Daar gebeur altyd iets wat almal aan die praat het. Selfs die pandemie word in Suid-Afrika uniek bestuur. As uitvloeisel van President Cyril Ramaphosa se staatsrede, is die nasionale begroting op 24 Februarie 2021 voorgelê met gevolge vir ieder en elk in die land.

Die Covid-pandemie en gepaardgaande grendelmaatreëls het almal onkant betrap en die ekonomiese situasie vererger. Daarom verkeer die staatskas onder druk en plaas gesondheid, mediese koste en politieke onsekerheid nog meer druk op almal. Benewens die staat se benarde finansiële posisie, het die druk vir sosiale besteding nog meer toegeneem.

Dit is belangrik om te verwys na die polities filosofiese lens waarna ons kyk indien ons die staatsfinansies ontleed. Uiteindelik is hierdie ideologie een wat gehuisves word in ʼn spektrum van aan die een kant die sosialistiese stelsel, waarvan die uiterste die kommunistiese bedeling was, en die ander een van die vrye mark wat heeltemal sonder staatsinmenging funksioneer. Alhoewel Suid-Afrika ʼn gemengde stelsel ondersteun, is dit belangrik om te besin waarna ons op pad is, want dit begrens die bepaalde lens waardeur amptenare na die wêreld kyk en beïnvloed uiteindelik ook die wyse waarop die staatsfinansies bestuur word.  Interessant is dat met die verval van kommunisme na 1989, meeste lande – veral in Oos Europa – die privaatsektor by staatsondernemings betrek het. Dit is ʼn uitstekende bron van inkomste en hul het dit sodanig benut dat die lande die Europese Unie kon betree. Ongelukkig is dit ʼn bron van inkomste wat in Suid-Afrika nie optimaal benut word nie en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en ander staatsentiteite soos Eskom word voortdurend deur beperkte staatsfondse uitgehelp. Daarbenewens is daar baie onsekerheid oor regulasies, en benadeel dit ook enige groei-inisiatiewe wat die staat moontlik wil implementeer.

In die begroting het mnr. Tito Mboweni as minister van finansies idealistiese doelwitte gestel wat moeilik bereikbaar is.

Staatsfinansies is uiteindelik die verskil tussen owerheidsuitgawes (G) wat meestal deur belasting (T) gefinansier word en ʼn tekort genereer wat op die een of ander manier gefinansier word. Hierdie tekort sal deel vorm van die staatskuld wat ons toekomstige generasie moet terugbetaal. In Suid-Afrika het ons fiskale konsolidasie nodig, oftewel verlaging van owerheidsuitgawes en verhoging van staatsinkomste.

Owerheidsuitgawes

Vanaf 2015 het Suid-Afrika se besteding verskuif vanaf investering en die bou van infrastruktuur na verbruik, wat ekonomiese onwikkeling kelder. Alhoewel beide Ramaphosa en Mboweni gereeld na ekonomiese ontwikkeling verwys, gebeur daar nie noodwendig veel op voetsoolvlak nie. Items soos die salarisrekening van die staat en die rente op staatskuld is van die grootste uitgawes wat oënskynlik nie onder beheer kom nie. Die staat bestee meer as 32% van die totale begroting aan salarisse, en indien alle waarborge van die staatsondernemings ook in ag geneem word, beloop rentebetalings meer as 20c in ʼn rand. Dit impliseer dat Suid-Afrika by die fiskale afgrond is, aangesien salarisse, toelae en rente op bestaande skuld die inkomste van die regering oorskry. Op hierdie stadium lyk dit hoogs onwaarskynlik dat die staat die vermoë het om bestedings in te perk.

Die Covid-19-pandemie het onvoorsiene besteding aan die gesondheidsektor genoodsaak. In die 2020/21-begroting het die regering addisioneel meer as R20 miljard in die begroting toegeken om addisionele entstof beskikbaar te stel. Daarby is fondse beskikbaar gestel vir ondernemings deur middel van die Werkloosheidsversekeringfonds, die belastingstelsel en leningswaarborgskema, sowel as die verskaffing van inkomstesteun aan laerinkomstehuishoudings. Alhoewel die staat hul telkemale verbind tot die bou van infrastruktuur vir ontwikkeling en groei, ontbreek die fondse en politieke wil om dit te doen, soos die tabel hieronder illustreer. Daarby is meer as 18 miljoen mense afhanklik van staatstoelae en oordragte.

Bron: Nasionale Tesourie. wwww.treasury.gov.za

Inkomste

Indien ons nou na die inkomstekant kyk, het Covid-19 en gepaardgaande inperking nadelige gevolge vir die ekonomie ingehou. Ongelukkig is Suid-Afrika se inkomste beperk, of soos sommige sê “die geld is op”. Suid-Afrika het tydens die inperking vanaf Maart 2020 negatiewe groei ervaar en die verwagting is dat die ekonomie in 2020 met ongeveer 8% ingekrimp het. Al het die ekonomie begin groei, is die ekonomie egter nou eers by ʼn vlak soortgelyk aan 2013, en word die ekonomiese koek al kleiner. Werkloosheid het ook toeneem, en beloop tans meer as 32%.

Firmas en huishoudings ervaar gevolglik ʼn verlies aan inkomste, wat beteken dat verbruiksbesteding afneem – met negatiewe gevolge vir die invordering van belasting. Die staat verkeer gevolglik onder druk om oordragte aan huishoudings toe te ken. Daarom moes die staat addisionele inkomste probeer kry soos die sogenaamde sondebelasting, oftewel aksynsbelasting op drank en sigarette wat gestyg het. Daarbenewens is die heffing op brandstof en ander bronne van inkomste ook verhoog. Dit is egter baie verblydend dat inkomstebelasting vir lae- en middelinkomstehuishoudings verlaag is, wat ʼn belangrike inspuiting vir hierdie huishoudings sal beteken.

Die narratief van die verbod op verkoop van drank en sigarette gedurende die grendeltydperk

Die verbod op verkope van drank is ʼn kenmerk van die sosialistiese bestel wat direkte voorskrifte vir die land instel. Daar word gereken dat SA ongeveer R215 miljard per maand aan potensiale aksynsbelasting verloor het – benewens die verlies aan maatskappybelasting en dies meer.

Die volgende statistieke rondom wat met sigarette gebeur het tydens die grendelperiode is skokkend:

  • Navorsing deur British American Tobacco Southern Africa (BATSA) dui aan dat daar ongeveer R5 miljard verlore aksynsbelasting was. Die regering het ongeveer R35 miljoen per dag aan aksynsbelasting verloor
  • Hierdie verlore fondse sou kon sorg vir die bou van drie hospitale of 5 000 ventileerders.
  • In ander terme kon 74 nuwe skole en 11 000 laekostehuise gebou word.
  • Onrusbarend was dat daar gedurende die periode sigarette onwettig bekom word teen astronomiese pryse en het die onwettige handel vermenigvuldig.

Alhoewel drank baie morele en maatskaplike probleme en misdrywe veroorsaak, maak dit ekonomies meer sin om dié markmeganisme te gebruik en vry van inmenging te hou. Ongelukkig het Suid-Afrika ʼn sosio-maatskaplike probleem wat deur opvoeding en ander intervensies aangespreek moet word en nie die ekonomie en staatsfinansies so negatief moet raak nie.

Fiskale Konsolidasie

Die begrotingstekort is histories hoog en maak die bestuur van die groeiende staatsskuld problematies.  Ongelukkig toon navorsing dat die stimuluseffek, oftewel die fiskale vermenigvuldiger soos ekonome daarna verwys, baie kleiner is as dit deur skuld gefinansier word. Strukturele probleme soos aanbodkantskokke weens gebrekkige elektrisiteitsvoorsiening en stakings, asook oneffektiewe staatsondernemings, is ook ʼn hindernis vir ekonomiese groei. Daarbenewens behoort daar meer beleidsekerheid toegepas te word en regulasies wat sin maak. Die staatskas behoort anders bestuur te word, met baie meer betrokkenheid vanuit die private sektor.

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG