Oor die akademiese lewe

Akademia-personeelvergadering, 29 Januarie 2021
Deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof

Dit sou relatief maklik wees om vandag met allerlei planne vorendag te kom oor hoe ons vanjaar beslag aan die groot akademiese funksies (navorsing, onderrig en leer, asook gemeenskapsdiens) van die universiteitswese gaan gee.

In plaas daarvan wil ek eerder in die enkele minute op ʼn prinsipiële grondslag nadink oor wat hierdie funksies onderlê en ook moontlik maak. Ek verwys na ʼn saak waaroor ons reeds in die verlede dikwels gesels het, maar wat ek vandag opnuut onder ons aandag wil bring, naamlik ons begrip van die “akademiese lewe”. Sonder ʼn behoortlike greep op wat ons hiermee bedoel, kan ons nie ʼn duidelike beeld vorm van wat ons met navorsing, onderrig en leer, en Akademia se ander aktiwiteite wil bereik nie. Ons begrip van die akademiese lewe onderlê al hierdie dinge.

Wat is die akademiese lewe? Wat is dit wat ons navorsing, onderrig en leer, en dies meer onderlê? Oor hierdie vrae bestaan daar vandag nie enige konsensus nie. Nogtans kan ons sekere benaderings die afgelope eeu aan universiteite identifiseer.

1.) ʼn Politieke benadering

ʼn Eerste identifiseerbare benadering aan kampusse wêreldwyd is om ʼn politieke definisie aan die akademiese lewe te gee. Ingevolge hierdie benadering moet ons navorsing, onderrig en leer, ensovoorts die ideale van die nuwe politieke agendas weerspieël.

Die meeste van hierdie politieke benaderings, wat vandag met die sambreelterm, “wokeness”, beskryf kan word, berus op die gedagte dat die ganse geskiedenis in twee teenoorstaande kragte (die goeie versus die bose) uiteenval, en dat die universiteite dit tot taak het om die bose uit hulle navorsing en hul onderrig- en leerprogramme te verdryf. Universiteite en radikale studente dring daarom ook aan om ʼn steeds groeiende lys van eens geroemde figure soos Homeros, Aristoteles, Chaucer, Beethoven ensovoorts te “kanselleer”. Hulle is nou die versinnebeelding van boosheid.

2.) Die tegniese benadering

Dit bring ons by ʼn tweede omskrywing van die akademiese lewe waarna ook verwys moet word. Ons kan dit as die tegniese opvatting daarvan beskryf. Anders as die politieke opvatting is hierdie benadering moeiliker om te omskryf, omdat dit die suurstof geword het wat universiteite – ongeag wat hulle politieke standpunte ook mag wees – inasem. Die tegniese opvatting van die universiteitswese het oor die afgelope dekades die universiteitswese tot in die fynste detail binnegesypel. Hoe ons navorsing en onderrig en leer beskou, word ten diepste deur die tegniese benadering gestempel.

Wat is die tegniese benadering? Miskien kan dit die beste verduidelik word met behulp van Martin Heidegger se diepgaande nadenke oor die invloed van die tegniek en in die besonder sy beskrywing van ons era as een van die “tegniese bestel”. Hiermee verwys Heidegger nie in die eerste plek na die feit dat ons vandag van tegniese middele soos die rekenaar, die TV, sosiale media of die selfoon gebruikmaak nie. Nee, die tegniese bestel verwys eerder na die wyse waarop ons as hedendaagse mense die werklikheid self ervaar; tydens die era van die tegniese bestel word die werklikheid self as ʼn tegniese realiteit ervaar (en byvoorbeeld nie ʼn misterie wat ons met ontsag en verwondering vul nie). As tegniese aangeleentheid word die werklikheid ʼn saak wat ons in beginsel kan plooi, buig en manipuleer na gelang van ons eie behoeftes. Die hedendaagse plooibaarheid van die geslagte is ʼn funksie van die beskouing van die werklikheid as ʼn tegnies manipuleerbare werklikheid.

Vanuit hierdie gesigspunt beskou word ook die akademiese lewe (navorsing, onderrig en leer) as ʼn tegniese aangeleentheid beskou. Ons navorsing word gedefinieer vanuit die vraag of dit ons in staat stel om ʼn tegniese greep op die werklikheid te verwerf.

3.) Die produktiwistiese benadering

ʼn Derde beskouing ten opsigte van die akademiese lewe is die sogenaamde produktiwistiese benadering. In die praktyk kan dit kwalik van die tegniese benadering onderskei word.

Soos die tegniese benadering, is die produktiwistiese benadering ʼn aldeurdringende benadering in die hedendaagse wêreld. Dikwels is ons nie eers daarvan bewus nie. Ons aanvaar dit as ʼn soort verstekposisie. Nogtans plaas dit enorme druk op die hedendaagse mens. Dit steun op die gedagte dat die mens per definisie niks anders as ʼn werker is nie. Dit eis egter sy tol. Dit blyk uit die feit dat die gemiddelde ure wat aan werk bestee word die afgelope dekades aansienlik toegeneem het.

Ook universiteite volg die produktiwistiese benadering. Akademiese werksure het die afgelope dekade drasties toegeneem in der mate dat universiteite doelbewus poog om oorwerkte dosente te vergoed deur hul kantoorpligtigheid af te skaal.

Ook wat hierdie benadering betref, het ons nie tyd om die volle omvang daarvan te beskryf nie. In wese handel die produktiwistiese benadering oor ʼn herdefiniëring van wat dit beteken om mens te wees. Verskeie vooraanstaande denkers van die vorige eeu het breedvoerig hieraan aandag gegee. Een van hulle is Ernst Jünger, wat in sy Der Arbeiter (Die Werker) aangedui het hoe die moderne mens sigself toenemend slegs as werker verstaan. Alles staan binne dié mensbeskouing ten dienste van die hoogste moontlike produksie.

Universiteite volg na my oordeel vanaf die begin van die tagtigerjare by uitstek die produktiwistiese benadering. Voortaan word die akademiese lewe volledig ten dienste van die hoogste moontlike produksie gestel. Die akademikus word by uitstek as werker, arbeider of die produsent van die hoogste hoeveelheid akademiese “produkte” gedefinieer. Die graderingstelsel vir navorsers rus op produktiwistiese uitgangspunte: Hoe meer artikels ek produseer, des te meer word ek beloon. Dat navorsing iets meer kan wees as die produksie van akademiese goedere word nie noodwendig deur dié benadering in ag geneem nie. Ook oor onderrig en leer kan gevra word of dit – miskien dikwels onbewus – vanuit die produktiwistiese raamwerk beoefen word. Word studente in ons onderrig en leer aangemoedig om hulself eerstens as produsente te ervaar?

4.) Die klassieke benadering

Akademia word uitgedaag om te midde van die oorheersing van bogenoemde opvattinge anders oor die akademiese lewe na te dink. Kan ons oor ons navorsing en onderrig en leer anders as in bogenoemde politieke, tegniese en produktiwistiese terme dink? Dit bring ons by die laaste benadering ten opsigte van die akademiese lewe, naamlik die klassieke universitêre benadering.

Daar is gewis waarheidsmomente in elkeen van bogenoemde benaderings opgesluit. Die probleem lê by wat hulle in hul eensydige klem op politiek, tegniek en produksie vergeet. ʼn Gemeenskaplike kenmerk van bogenoemde benaderings is dat hulle sonder uitsondering klem plaas op die aktiewe kante van menswees, terwyl die besinnende, nadenkende of oordenkende kante van menswees vergeet word. In die proses vergeet hulle ook die werklikheid self. Hoe so? Hulle rus op die vooronderstelling dat die mens by uitstek ʼn aktiewe agent is wat ingryp op die werklikheid, eerder as iemand wat terugstaan en tydsaam nadink oor die werklikheid. Ons kan sê die werklikheid is hier slegs die speelveld vir ons eie handeling, terwyl die werklikheid self as iets wat ons tot nadenke uitnooi buite die gesigsveld val.

Die klassieke benadering ontken nie die belangrikheid van die aktiewe nie, maar dit begin by die werklikheid en in die besonder ons (ja, miskien verwonderde of verbaasde) nadenke daaroor. Alvorens ek politiek beoefen, tegnies beheer of produktief handel is daar die werklikheid wat my tot stilstand dwing, wat my aandag opeis en my uitnooi om oor haar na te dink. En met werklikheid kan onder meer verwys word na die ekonomiese werklikheid, die politieke werklikheid, die natuurlike werklikheid, die juridiese werklikheid, of net gewoon die werklikheid as sodanig – alles dinge wat ons verwondering kan ontlok en ons uitnooi om vrae oor die aard en wese daarvan te vra.

Die klassieke benadering ten opsigte van die akademiese lewe word deur ʼn balans tussen die beskoulike en die aktiewe, tussen die nadenkende en die produktiewe, tussen tydsame nabetragting en spoedeisende produksie gekenmerk.

Om af te sluit, bogenoemde opmerkings het enorme implikasies vir hoe ons oor dinge soos navorsing, asook oor onderrig en leer, dink. Akademia is in die unieke posisie om anders hieroor te dink. Byvoorbeeld, in ons navorsing moet tyd gegun word vir nabetragting, nadenke, oordenking. Trouens, ons navorsing behoort ten diepste in ʼn verwonderde oopstaan voor die wonder van die werklikheid geanker te wees. Heeltemal te veel navorsing fokus slegs op die spoedeisende produksie van die grootste aantal publikasies. Die wonder wat die werklikheid is, word so ter wille van die hoogste moontlike produksie verdring. Akademia kan weer die sinvolheid van navorsing ontdek deur dit in die ervaring van verwondering te anker.

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG