Is ons voorbereid op die ongeldigwording van Moore se wet?

Geskryf deur dr. Corné de Ridder, dosent in rekenaarwetenskap

Die Covid-19-pandemie het ons meer afhanklik van rekenaartegnologie gemaak as wat ons ooit was. Elektroniese rekenaars soos wat ons hul vandag ken is egter relatief nuut. Die eerste rekenaars dateer terug na die 1940’s. Vandag het sakrekenaars baie groter geheuekapasiteit en verwerkingsvermoë as die reusagtige rekenaars van die 1950’s en die 1960’s.

Dié toedrag van sake word soms deur die onderstaande analogie beskryf:

Indien die motorkar dieselfde ontwikkelingsiklus as die rekenaar gevolg het, sou ʼn Rolls Royce nou R1 500 gekos het en 425 000 kilometer op ʼn liter petrol kon ry.

Rofweg kan daar gesê word dat die kapasiteit van ʼn vlokkie elke twee jaar verdubbel. Dit staan bekend as Moore se wet. Gordon Moore, medestigter van Intel, het in 1965 voorspel dat die aantal komponente binne ʼn geïntegreerde stroombaan op ʼn vlokkie elke jaar sal verdubbel, en dat hierdie tendens sal voortgaan vir ten minste nog ʼn dekade tot en met 1975, wanneer die totale aantal komponente 65 000 sou wees. Moore het in sy oorspronklike formulering verwys na ʼn verdubbeling van komponente, waar komponente na transistors, weerstande, diodes en kapasitors binne ʼn geïntegreerde stroombaan verwys. Die mees gewilde formulering van Moore se wet verwys egter na ʼn verdubbeling van transistors binne ʼn geïntegreerde stroombaan.

Moore se wet word vandag gesien as een van die grootste tegnologiese voorspellings van die laaste halfeeu. Met die verwerkliking van Moore se eerste voorspelling het hy dit verder aangepas om ook op opkomende silikontegnologie van destyds (waarby geïntegreerde stroombane op silikonvlokkies ingeëts word) van toepassing te wees: die aantal komponente op ʼn vlokkie sal elke twee jaar verdubbel, wat eksponensiële vermeerdering in terme van die aantal komponente op ʼn vlokkie impliseer. Sedert 1975 het Moore se voorspelling die pas aangegee, nie net vir die ontwikkeling van rekenaartegnologie nie, maar van tegnologiese vooruitgang in die algemeen.

Moore het die winskopie raakgesien: die koste per komponent is ongeveer proporsioneel gelyk aan die inverse van die aantal komponente. Dit was teoreties ʼn uitstekende winskopie – hoe meer komponente ʼn mens byvoeg, hoe goedkoper word elke onderskeie komponent. Omtrent elke vorm van rekenaartegnologie wat saak maak, insluitende slimfone,
skoot­rekenaars, GPS’e, kunsmatige intelligensie, fabriekproduksielyne en genetiese medikasie, is ʼn direkte weerspieëling van Moore se wet.

Baie rekenaarwetenskaplikes is dit eens dat Moore se wet besig is om ongeldig te word. Daar is egter meer as ʼn honderd veranderlikes betrokke by die instandhouding van Moore se wet, insluitende 3D-argitekture en nuwe komponent-ontwerpe. Volgens ʼn Intel-bron is dié maatskappy steeds met Moore se wet in pas, en word 2 triljoen komponente op ʼn vlokkie teen 2030 as ʼn moontlikheid beskou. Dit is ʼn toename van 30 keer. Die nuutste ontwikkelinge is egter baie duur en toepassing spesifiek, met veral ʼn fokus op kunsmatige intelligensie.

Moore se wet het vir lank die pas aangegee. Ingenieurs en besighede soos Intel en AMD wou dit laat geld. Die laaste paar jaar word daar egter nie meer heeltemal bygehou met die eksponensiële opwaartse kurwe wat Moore se wet verteenwoordig nie. Die dae dat ons op vinniger, goedkoper vlokkies kan reken is vir my en jou hoogs waarskynlik verby. Gevolglik lyk dit nie of die ekonomie in die toekoms op dieselfde manier deur universeel vinniger en goedkoper vlokkies vir die man op straat aangevuur sal word nie.

Dr. Corné de Ridder, dosent in rekenaarwetenskap.

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG