Sosiale media: Kan jy aanspreeklik gehou word?

Geskryf deur Lichel Helmchen, dosent in Regsgeleerdheid by Akademia.

Die uitbraak van die Covid-19-koronavirus het ʼn beduidende toename in aanlyn aktiwiteite veroorsaak. Nie alleen werk meer mense aanlyn nie, maar wend ook meer mense hulle ook tot digitale vermaak en sosiale media tydens verskillende inperkingsmaatreëls. Kan aanspreeklikheid egter volg vir die onbehoorlike gebruik van sosiale media?

Afgesien van strafregtelike aanspreeklikheid wat kan voortspruit uit ʼn persoon se onbehoorlike gebruik van sosiale media, kan ʼn persoon ook gedagvaar word vir skade indien sy of haar plasing inbreuk maak op ʼn ander se menswaardigheid, privaatheid of goeie naam. In die Suid-Afrikaanse reg insake onregmatige daad kan toerekeningsvatbaarheid as voorvereiste vir skuld so vroeg as sewe jaar bewys word. ʼn Kind so jonk as sewe jaar kan dus reeds deliktuele aanspreeklikheid opdoen of gedagvaar word vir hul onbehoorlike gebruik van sosiale media.

Die reg beskou enige plasing wat onder die aandag van minstens een ander persoon gekom het as gepubliseerde inligting. Die skepper of verspreider van hierdie inligting is net so verantwoordbaar as ʼn joernalis wat ʼn artikel sou publiseer. Die verskil is egter dat die inhoud van ʼn joernalis se artikel behoorlik nagegaan word, terwyl die persoon wat ʼn inskrywing op sosiale media maak gewoonlik die inskrywing op die ingewing van die oomblik plaas en dikwels nie die aard of gevolge van die boodskap oordink het nie.

Enige een wat deel is van die publikasieketting kan aanspreeklik gehou word vir die inhoud. Elkeen wat dus inligting deel of aanstuur is verantwoordbaar. Daarbenewens kan aanspreeklikheid ook ter sprake wees waar ʼn persoon die vermoë het om hulself van onbehoorlike inhoud te distansieer en versuim om dit te doen; dit wil sê, waar onbehoorlike opmerkings nie uitgevee word nie of waar ʼn persoon in ʼn onvanpaste plasing gemerk is en hulself nie daarvan distansieer nie

Die reg op vryheid van uitdrukking soos vervat in artikel 16 van die Suid-Afrikaanse Grondwet is selde ʼn geldige verweer teen die onbehoorlike gebruik van sosiale media. Artikel 16 plaas spesifieke beperkings op die reg op vryheid van uitdrukking, byvoorbeeld dat haat, geweld of oorlog nie bevorder mag word nie. Van groter belang is egter dat die reg op vryheid van uitdrukking nie ʼn absolute reg is nie en altyd afgeweeg word teen ander se reg op menswaardigheid, privaatheid, gelykheid of goeie naam, en ook in lig hiervan beperk kan word.

Die mees algemene gronde vir aanspreeklikheid vir onbehoorlike aanlyn gebruik sluit onder andere haatspraak, laster en die skending van ʼn ander se privaatheid in. Haatspraak verwys na spraak of teks wat daarop gemik is om intimidasie, geweld of vooroordeel teen ʼn individu of groep op grond van ras, etnisiteit, afkoms, geloof, seksuele oriëntasie, of gestremdheid te bewerkstellig. Dit maak inbreuk op ʼn ander se reg op menswaardigheid en gelykheid en kan daartoe lei dat ʼn persoon voor die Menseregtekommissie gedaag word.

Laster is die onregmatige en opsetlike publikasie van woorde of gedrag aangaande ʼn ander wat hulle aansien, goeie naam of reputasie kan ondermyn. Om te slaag met ʼn lastereis moet daar bewys word dat lasterlike woorde of gedrag onder die aandag van minstens een ander persoon gekom het en dat só ʼn plasing opsetlik gerig was teen ʼn ander se goeie naam. Nie alleen is die persoon by wie die lasterlike bewerings ontstaan het aanspreeklik nie, maar ook enige ander persoon wat die bewerings herhaal, beaam of aandag daarop vestig. Om ʼn lastereis te verdedig moet ʼn persoon óf aantoon dat daar ʼn regs-, morele of sosiale plig bestaan om die betrokke bewerings aan ʼn ander te maak, welke persoon ʼn ooreenstemmende plig of belang het om van die bewerings te verneem, óf dat die bewerings die waarheid en in openbare belang is.

Die aanwesigheid van ʼn sosiale of morele plig word objektief deur middel van die redelike persoon-toets deur die hof bepaal. Die bewerings moet ook redelikerwys verband hou met die nakoming van die verpligting. ʼn Onbehoorlike motief kan egter daartoe lei dat die perke van hierdie verweer oorskry word. Om met waarheid en openbare belang as verweer te slaag moet daar aangedui word dat die kern van die lasterlike bewerings waar is en volgens die gemeenskapsopvattings in die openbare belang is. ʼn Plasing van persoonlike aard dien nie die openbare inligtingsbelang nie en daar sal eerder bevind word dat sodanige plasing daarop gerig is om ʼn ander aan publieke geskinder, smaad en veroordeling bloot te stel.

Die aanlyn bekendmaking van private feite strydig met die bestaan van ʼn vertrouens­verhouding kan ook lei tot deliktuele aanspreeklikheid. ʼn Prokureur kan behulpsaam wees met die bewys van skending van die reg op menswaardigheid, privaatheid of goeie naam, sowel as die keuse van ʼn toepaslike remedie en/of verweer.

Lichel Helmchen is ʼn dosent in Regsgeleerdheid by Akademia.

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG