ʼn Waardevolle lugdruk-skenking aan Akademia

ʼn Groot eer het Akademia te beurt geval toe Elsa de Jager op 24 November 2020 besluit het om twee oorspronklike kwikbarometers aan die instansie te skenk. Elsa het onlangs afgetree uit ʼn lewensloopbaan by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, waar sy diep spore getrap het as bekende weerkundige en klimatoloog. Kwikbarometers word gebruik om lugdruk te meet. Met die oorskakeling na elektroniese instrumente word kwikbarometers al hoe skaarser, wat beteken dat oorspronklike kwikbarometers as geskiedkundig waardevolle items beskou word.

Ons weet vandag almal dat die atmosfeer waarin ons lewe uit klein deeltjies bestaan, en dat die massa van hierdie deeltjies ʼn druk op alle voorwerpe uitoefen. Die konsep van lugdruk was egter nie altyd bekend nie. Dit was Galileo Galilei en sy student, Evangelista Torricelli, wat die kwikbarometer – die eerste instrument waarmee lugdruk gemeet kon word – in 1643 ontwikkel het.

Die kwikbarometer bestaan uit ʼn glasbuis wat met kwik gevul is. Wanneer die buis omgekeer word en die opening van die buis in ʼn afsonderlike bakkie kwik gesink word, ontstaan ʼn lugleegte in die geslote bokant van die buis. Dit gebeur omdat die gewig van die swaar kwik in die buis neig om afwaarts te druk. Die rede waarom die kwik nie totaal uit die buis uitloop nie, is omdat die gewig van die atmosfeer op die kwikoppervlak (lugdruk) in die bakkie die kwik in die buis weer opwaarts druk. Die balans tussen die afwaartse druk van die kwik en die opwaartse druk van die atmosfeer kon dus gebruik word as ʼn maatstaf om lugdruk te meet.

Deur lugdrukmetings noukeurig te dokumenteer het Torricelli ook agtergekom dat reënval normaalweg gepaard gaan met laer lugdrukwaardes, terwyl mooiweer gekenmerk word deur hoër lugdrukwaardes. In 1646 het die wetenskaplike Blaise Pascal die Torricelli-kwikbarometer gebruik om lugdruk te meet teen die helling van die berg Puy de Dome in Frankryk, waardeur hy kon aflei dat lugdruk met hoogte afneem. Die eenheid waarin lugdruk tot vandag toe nog gemeet word staan bekend as Pascal.

Akademia sal die kwikbarometers wat deur Elsa geskenk is in veilige bewaring hou, waarna dit in die toekoms gebruik sal word om aan studente te demonstreer hoe die ontwikkeling van instrumente en noukeurige waarneming gedurende die wetenskaplike revolusie in die sestiende en sewentiende eeu bygedra het tot ʼn periode van ongekende groei in die natuurwetenskappe.

Elsa de Jager (regs) oorhandig die twee uiters waardevolle kwikbarometers as skenking aan prof. Hannes Rautenbach (dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia).

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG