Akademia en die hedendaagse universiteitswese

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof

 

Om oor Akademia se rol in die hedendaagse universiteitswese na te dink, is dit nodig om ter inleiding kortliks na die hoofoogmerke van die klassieke universiteitswese te verwys. Akademia sluit wat haar oogmerke aanbetref by die sentrale doelstellings van die klassieke universiteitswese aan.

1) Die klassieke universiteitswese

Die historiese oorsprong van die universiteit kan na die Klassieke tydperk, en in die besonder na die filosofiese skole van die destydse Athene, teruggevoer word. Histories gesproke kan die direkte oorspronge van die moderne universiteitswese egter na die Middeleeue van die twaalfde en dertiende eeue teruggevoer word. Vanweë ʼn ingewikkelde historiese verloop van sake is die Middeleeuse universiteit uiteindelik in die moderne universiteitswese omskep. Tydens die vroeë negentiende eeu het die moderne universiteitswese ʼn hoogtepunt bereik met die vestiging van die sogenaamde Von Humboldt-universiteit in Berlyn. Vandag kan na dié universiteit en die tradisie van die universiteitswese wat dit voorafgegaan het, as die klassieke universiteit (met ʼn kleinletter ‘k’ verwys word).

Alhoewel dit ʼn vereenvoudiging verteenwoordig, kan tog met reg gesê word dat die klassieke universiteit deur drie oorhoofse doelstellings gekenmerk word:

  1. Die opleiding van studente met die oog daarop om hulle vir die beroepslewe voor te berei. Histories gesproke het die klassieke universiteitswese vanweë sy opleidings­funksie ʼn onontbeerlike rol in die vestiging van die moderne staat en ekonomie gespeel.
  2. Die opvoeding van die student. Terwyl opleiding gefokus het op die student se verwerwing van kennis binne ʼn bepaalde dissipline (ekonomie, chemie, wiskunde, ensovoorts), het opvoeding ten doel gehad om die student insig te gee in die geheel (die samehang tussen die onderskeie dissiplines).

Onlosmaaklik deel van die opvoedingsgedagte is om studente in te lei in die bronne van die Westerse kultuurerfenis. Universiteite doen dit onder meer deur studente aan die sogenaamde groot boeke uit die tradisie bloot te stel. Die verwysingsraamwerke van studente word so verbreed en verdiep.

  1. Vanaf die vroegste oorspronge het die universiteitswese ook bepaalde historiese gemeenskappe gedien (hetsy die Middeleeuse kerk, die moderne staat en – vanaf die laaste dekades van die twintigste eeu – die globale ekonomiese orde). Ondanks die universele fokus van universiteite het dit altyd vanuit en vir spesifieke historiese gemeenskappe gehandel.

2) Die hedendaagse globale universiteitswese

Kenmerkend van universiteite in die globale ekonomiese orde is die toenemende fokus op opleiding ten koste van ʼn balans met opvoeding. Gespesialiseerde kennis met die oog op ʼn loopbaan word eensydig ten koste van algemene vorming beklemtoon.

Die eensydige beklemtoning van opleiding gaan egter, as plekhouer vir die verlies aan opvoeding, gepaard met toenemende vorme van ideologiese voorskriftelikheid op kampusse dwarsoor die Westerse wêreld. Andersdenkendes word toenemend aan verskeie vorme van sensuur onderwerp, terwyl konserwatiewe akademici selfs as ʼn bedreigde spesie aan toonaangewende universiteite soos Harvard en Yale beskou word. As die klassieke universiteitswese ʼn hoë premie op die sogenaamde oop gesprek geplaas het, word dit nou steeds verder onder druk geplaas.

Verskeie ideologiese uitgangspunte kenmerk die hedendaagse universiteitswese. Ter wille van ruimte word slegs die volgende sake genoem.

a) Progressiewe opvatting van tyd

ʼn Progressiewe blik op die geskiedenis word by talle globale universiteite as normatief aanvaar. Hiervolgens word die verlede (in besonder die Westerse erfenis) as gewelddadig, rassisties en kolonialisties gekriminaliseer. John Gray, ʼn vooraanstaande liberale intellektueel, bevestig die punt as hy in The New Statesman van 16 Oktober 2017 skryf: “In a pervasive modern view, which seems to most people so obviously true that they can think in no other way, the past is a burden that must be shed in order that a new kind of life can come into being.”

ʼn Belangrike gevolg van die progressiewe tydsopvatting is dat ʼn integrale oogmerk van die klassieke universiteite, naamlik om ʼn gebalanseerde blik op die geskiedenis te bied, verlore gaan.

b) Relativisme, konstruktivisme en instrumentalisme

Volgens die heersende ideologiese opvattinge is daar nie iets soos ewige, vasstaande of onveranderlike waarhede nie. Die werklikheid word eerder uitsluitlik as veranderlik, buigbaar, toevallig en ʼn blote konstruk beskou.

ʼn Wesensfunksie van die klassieke universiteitswese, naamlik die soeke na die waarheid – maar ook na die goeie en die skone – gaan daarmee verlore.

c) Oordrewe individualistiese mensbeskouing

Ten grondslag van die globale universiteitswese lê ʼn bepaalde opvatting van wie en wat die mens is. Dit gaan uit van die gedagte dat die mens ʼn suiwer individu is wat slegs eie belange najaag. Ingevolge hierdie opvatting van die mens staan hy of sy per definisie los van enige gemeenskapsverbintenis (gesin, kultuur, taal, godsdiens, ensovoorts).

Ingevolge die individualistiese mensbeskouing word enige aanspraak wat die veelheid van gemeenskappe op die mens maak, ervaar as ʼn hindernis wat die keusevryheid van die individu aan bande lê. Teen hierdie agtergrond is dit ook nie vreemd nie dat talle hedendaagse universiteite in die globale wêreld hulleself eerder daarop toespits om die belange van die alleenstaande en verbruikende individu te dien as om ʼn gemeenskaplike kultuur en taal op ʼn kritiese en steeds hervormende wyse aan volgende geslagte oor te dra.

d) Verbrokkeling en die multiversiteit

Die eensydige klem op opleiding gaan met ʼn verbrokkeling van die ou dissiplines (sowel binne as tussen die veelheid van dissiplines) gepaard. Vanweë hul fokus op opvoeding is die klassieke universiteite deur ʼn sin vir die universele (die universitas) gekenmerk.

Hedendaagse universiteite neig daartoe om hulself as multiversiteite te verstaan. Laasgenoemde is universiteite waarin die gedagte van die universitas prysgegee en met ʼn losstaande, en self gefragmenteerde, veelheid van dissiplines vervang te word.

e) Sekularisme

Histories gesproke is die moderne klassieke universiteitswese deur die Christelike kerk moontlik gemaak. Europese universiteite het hulself dan ook oor eeue vanuit die waarhede van die Christelike geloof verstaan. As gevolg daarvan het ou universiteite nie ʼn onoorbrugbare kloof tussen geloof en rede gehandhaaf nie. Geloof en rede het mekaar eerder onderling aangevul.

Die hedendaagse universiteitswese word daarenteen gekenmerk deur ʼn afskeid van die godsdienstige grondslae van die ou universiteitswese en die gepaardgaande verbintenis tot sekulêre uitgangspunte. Kenmerkend daarvan is dat dit ʼn onoorbrugbare kloof tussen geloof en redehandhaaf. Vanuit die gesigspunt van die klassieke universiteit gaan dit met ʼn verskraling van sowel die denke as die geloof gepaard.

f) Burokratisering van die universiteitswese

Geen universiteit kan sonder ʼn goeie bestuur bestaan nie. Nogtans het sodanige bestuur in die era van die klassieke universiteitswese altyd weer die akademiese lewe aan universiteite gedien.

Vanweë verskeie historiese redes het besture aan universiteite die afgelope dekades hulself egter van die tradisionele oogmerke geïsoleer en ʼn doel opsigself geword. Laasgenoemde vind nie net uitdrukking in die steeds groterwordende burokrasieë aan universiteite nie, maar ook in die kenteoretiese grondslae van universiteite: kennis self word met instrumentele, funksionele en burokratiese prosesse verwar.

3) Akademia

Bogenoemde opmerkings bring ons ten slotte by die antwoord van Akademia. In aansluiting by die voorbeeld van die klassieke universiteitswese is Akademia verbind tot sowel voortreflike opleiding as opvoeding.

Akademia se leuse is ad futurum per fontes, oftewel “na die toekoms deur middel van die bronne”. Hieronder word kortliks verwys na die sentrale bronne van Akademia. Haar antwoord op die uitdaginge van die hedendaagse universiteitswese lê in die volgende opgesluit:

a) Akademia is ʼn Christelike universiteit wat op ʼn oop, onbevange en kritiese wyse ʼn rigtinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

b) Akademia is in aansluiting by die klassieke universiteitswese verbind tot sowel uit­nemende opleiding as ʼn begronding van haar opvoedingsideaal in die groot vormende tekste uit die geskiedenis van die Westerse kultuur en universiteitswese.

c) Akademia is daartoe verbind om op ʼn uitnemende wyse aan die behoefte van professionele opleiding te voorsien. Akademia sien toe dat Afrikaanse studente die arbeidsmark in haar veelheid van geledinge suksesvol betree.

Akademia is eweneens verbind tot die klassieke ideaal van opvoeding soos wat dit in tradisionele universiteitswese na vore getree het. In die hart van dié ideaal staan die gedagte dat studente nie net spesialiste binne ʼn bepaalde dissipline sal wees nie, maar dat hulle tegelyk insig in die geheel van dinge sal hê. Ingevolge die klassieke opvoedingsideaal word dié insig met die strewe na wysheid geïdentifiseer.

Ten grondslag van Akademia se verbintenis tot sowel uitnemende opleiding as begronde opvoeding, staan haar roepingsbesef – en in die besonder die ideaal dat studente ook in en deur die beroepslewe geroepe sal wees om ʼn lig vir die wêreld te wees.

c) Akademia is ʼn hoëronderwysinstelling vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuur­gemeenskap. Akademia gaan uit van die standpunt dat ʼn voorkeur vir Afrikaans as doseer- en navorsingstaal nie in spanning met die ander tale staan nie. Inteendeel, in en deur die eie moedertaal word studente in staat gestel om ander tale te bemeester en daarin te presteer.

d) Akademia gaan uit van die standpunt dat gemeenskap en individu nie in spanning met mekaar staan nie, maar dat hulle mekaar wedersyds nodig het. Terwyl die skeppende, verbeeldingryke en denkende individu deur gesonde gemeenskappe moontlik gemaak word, kan gemeenskappe ook nie sonder sodanige individue in eie geledere floreer nie.

e) Akademia is ʼn private hoëronderwysinstelling. As sodanig is dit nie van die staat, of sy veelheid van semi-staatlike filiale en heersende politieke neigings tot die sentralisering van mag afhanklik nie. As private instelling is dit eerder van die steun van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap afhanklik. Sonder dié steun Akademia se bestaande en toenemende suksesse nie moontlik gewees het nie.

f) Akademia is nie net verbind tot uitnemende navorsing en dosering nie, maar ook tot die noodsaak om beide in hul intrinsieke samehang uit te bou en te ontwikkel. By Akademia ondersteun die belangrike werk van navorsing die ewe belangrike werk van dosering.

g) Die oop gesprek: Ondanks die aansprake van bestaande universiteite dat hulle forums van openheid, verdraagsaamheid en kritiese gesprek is, word hulle ironies genoeg toenemend deur polities korrekte voorskrifte en ideologies gedrewe programme gekenmerk.

Akademia verstaan haarself daarenteen as ʼn instelling wat ʼn onbevange en kritiese gesprek bemiddel en moontlik maak. Haar begronding in die Christelike geloof en die klassieke denktradisie staan nie in spanning met die oop gesprek nie, maar maak dit juis moontlik.

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG