Depressie? Daar is hoop

Deur Sunel Combrinck

Ek lees weer ʼn artikel oor ʼn kind wat sy eie lewe geneem het en wonder hoekom hierdie dinge gebeur. Dan kry ons ʼn oproep dat iemand wat ons ken sy eie lewe geneem het. Een van die groot redes is die ekonomiese impak wat Covid-19 en die grendeltydperk op hom gehad het. Ek dink 2020 het ʼn onverwagse impak op mense se psige gehad het, en die gevolg? Depressie.

Vir meeste mense is depressie iets wat hulle vinnig en onverwags tref. Die beste manier om dit te beskryf is ʼn film wat terugflits in die verlede — alles op die skerm is dof en uitgewas. Ek was self daar, maar ek het dit oorwin en dit is seker die rede agter hierdie artikel. Iemand moet opstaan en vir die wêreld sê “Dis oukei. Daar ís hoop.”

Om die gevolge en redes agter selfdood te verstaan het ek met dr. Elmo Pienaar, hoof van Coram Deo se pastorale narratiewe beradingsdienste, gesels. Die eerste ding wat hy vir my verduidelik het, is dat depressie, as ons nou na die kliniese beskrywing kyk, gedefinieer kan word as ʼn gemoedsversteuring gekenmerk deur ʼn volgehoue gevoel van hartseer en apatie. Die gevolg kan ʼn verskeidenheid emosionele en fisiese probleme wees.

Ek kan myself vervies wanneer iemand sal uitbasuin dat iemand wat sy eie lewe neem “selfsugtig” is. In ʼn mate verstaan ek die redenasie daaragter. Die WAT definieer selfsug as ʼn individu se drang om sy of haar eie behoeftes so te bevrede dat dit niemand anders in ag neem nie. As ek moet dink aan my ervaring met depressie kan ek getuig dat jy in jou eie situasie vassit. Die verskil is presies dit: Jy is ʼn gevangene in jou eie gedagtes en menswees. Jy dink beslis nie aan jou eie behoeftes en om dit te bevredig nie, want daar is niks. Die enigste behoefte wat jy het, is vryheid van jouself.

Dan kry jy diegene wat dit as ʼn teken van swakheid sien, of vir depressielyers sê “Ag, jy voel net bietjie af vandag”. Ander glo weer dat jy gestraf word, en dat dit dus iets is om oor sleg te voel. Of die ergste: “Dis iets wat sommer gou sal weggaan sodra jy bietjie meer positief begin dink!”

  • Sandra Adendorff, Akademia se Coram Deo-verteenwoordiger, het in ons gesprek aangedui dat dit angswekkend is om die Wêreldgesondheidsorganisasie se statistiek rondom selfdood na te gaan. Volgens hulle webtuiste word byna 1 miljoen lewensverliese elke jaar aan depressie toegeskryf. Om hierdie syfer in perspektief te sit, kyk ons na ongeveer 3 000 selfdoodgevalle per dag wêreldwyd. Nog erger – vir elke persoon wat selfdood suksesvol doen, is daar twintig of meer gevalle wat gepoog het om selfdood te pleeg.

Die belangrikste ding is om gevaartekens hiervan raak te sien. In my gesprek met dr. Pienaar het hy uitgelig dat kenmerke van depressie en tekens van iemand wat dalk aan selfdood dink in geheel gesien moet word, maar enige van hierdie vyf tekens moet jou bekommer:

  • ʼn Persoon wat onttrek, vriende en sosiale geleenthede vermy (as die persoon gewoonlik sosiaal is), en belangstelling verloor in dinge wat gewoonlik vir hulle lekker is.
  • Iemand wat hulself skade aandoen of op ʼn manier reageer wat hulself in gevaar stel (soos roekelose bestuur of om skielik te veel alkohol in te neem).
  • Iemand wat dreig om hulle eie lewe te neem sal nie noodwendig voortgaan daarmee nie, maar daar is uitsonderings op die reël. Enige taal of dreigement (soos “Ek weet tog nie of die lewe die moeite werd is nie”), moet ernstig opgeneem word.
  • Diegene wat stilbly maar ernstig is sal moontlik voorbereiding tref deur om besittings weg te gee, ʼn testament te laat nagaan, of uit die bloute vriende of familie te besoek.
  • Skielike veranderinge in voorkoms of gedrag (gewoonlik is die persoon dalk netjies, maar deesdae is dit asof hulle nie omgee hoe hulle voorkom nie).

Ek voel dit is tog uiters belangrik om ook oor diegene te gesels wat agterbly nadat iemand selfdood gepleeg het. Dié wat meer vrae het oor wat plaasgevind het en net doodeenvoudig voel of hulle die vraestel dop.

Dertien jaar gelede het ons ʼn vriendin aan selfdood verloor. Ek kom van ʼn klein dorp af en haar dood het baie mense diep geraak. Heelwat van my vriende was jare later nog deur haar besluit geteister; meestal, glo ek, omdat sy nie enige antwoorde agtergelaat het nie. Dis seker ook die rede agter my depressie wat ek destyds gehad het. Jy blameer jouself. Wonder of daar nie iets is wat jy kon doen nie. Dan verwyt jy diegene wat ʼn werklike nabye verhouding met die slagoffer gehad het – familie, kêrels, meisies, die skool, die kerk … die lys gaan aan.

Die probleem met selfdood is die rimpeleffek daarvan. Dink aan ʼn klippie wat in water gegooi word en golwe rondom dit uitstuur. Selfdood is dieselfde, en as een van daardie golwe jou tref ervaar jy sommer ook depressie en soms selfdoodneigings. In ons gesprek het dr. Pienaar aangedui dat niemand beheer oor die persoon het wat wil selfdood pleeg nie. Daardie persoon sit vas in hulle eie gedagtes en sien net doodeenvoudig geen hoop nie.

So, wat kan ons doen om hoop te skep? Ek dink die beste ding is om nie te ontken dat depressie ʼn werklike probleem in ons gemeenskap is nie. Verder moet ons daar wees vir mekaar, mekaar ondersteun en ook bewus wees van ons gemeenskap wat bereid is om ons te ondersteun.

Indien jy self ʼn depressielyer is, of as jy onlangs iemand aan selfdood verloor het en met iemand wil gesels, kontak Coram Deo gerus deur http://coramdeo.co.za/appointments/

Vorige

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG