Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)

Die BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)-graad stel ʼn student in staat om eietydse kwessies deur ’n interdissiplinêre benadering te beskou. Die politieke fokus in hierdie graad spreek beide plaaslike en internasionale aspekte aan, wat verseker dat die student ’n breë begrip van die onderwerp het; die filosofie-komponent bevorder kennis en insig vanuit ’n begronding van klassieke Griekse filosofie tot die hedendaagse beoefening van dié dissipline; terwyl die ekonomiese fokus verseker dat studente verstaan hoe die ekonomie in die breë werk en dit binne ’n spesifieke filosofiese konteks van toepassing kan maak.

WAT KAN EK MET BSOCSCI (POLITIEK, FILOSOFIE EN EKONOMIE) DOEN?

Die beroepswêreld wat die kwalifiserende student kan betree is veelsydig en sluit die volgende moontlikhede in: ’n beroep in die politieke arena, joernalistiek, bankwese en finansies, asook die rol van ekonomiese en politieke ontleders in beide akademiese en korporatiewe instellings.

WAT BEHELS DIE PROGRAM?

NKR-vlak 7

380 krediete

SAKO-nommer: 116400

ONDERRIGLEERMODEL: Nauurse afstandsmodel en voltydse kampusmodel

KWALIFISEER EK OM BSOCSCI (POLITIEK, FILOSOFIE EN EKONOMIE) TE STUDEER?

MODULES

Hierdie module bied studente ʼn breë bekendstelling aan die ekonomiese dissipline. Na voltooiing van hierdie module sal studente in staat wees om die fundamentele elemente van ekonomie in teorie en praktyk te begryp, en vorm die basis vir verdiepende studies in ekonomie.

Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met ʼn oorsig van statistiek en die tegnieke vir die aanwending daarvan.

Hierdie inleiding kursus in filosofie – met beide ʼn historiese en sistemiese fokus – gaan in op hoe antieke samelewings en klassieke bronne van filosofie steeds van toepassing is op hedendaagse denkwyses en optrede. Daar word in hierdie module gekyk na van die mees prominente filosofiese vraagstukke, deur eerstens te kyk na vooraanstaande filosowe uit die Antieke, Grieks-Romeinse en Middeleeuse tydperke. Hierdeur word die dinamiese aard van filosofie as dissipline geïllustreer, en word die studente voorsien van die kennis om hulself verder in die studie van filosofie te verdiep.

Hierdie inleidende module in internasionale verhoudinge en internasionale politieke ekonomie gee ʼn breë oorsig van die verskeie komponente en akteurs in internasionale verhoudinge (wat ook as internasionale of globale politiek bekendstaan). Die module stel studente in staat om sin te maak van die verweefde aard van verhoudinge in die internasionale gemeenskap. Temas in die module sluit in die staat en buitelandse beleid, mag en die globale orde in die 21ste eeu, menseregte, humanitêre intervensie, internasionale reg, internasionale organisasies, regionalisme, globale regering, die Bretton-Woods-stelsel, en China se rol in die globale ekonomie.

Hierdie module bied ʼn inleidende kursus in kritiese denke, die kuns van argumentering en die belang van retoriek. Die volgende aspekte kom in hierdie module aan bod:

  • Stiplees
  • Die begryp en oordeel van (veral filosofiese) tekste
  • Die ontleding en evaluasie van argumente
  • Die identifisering van dwaalbegrippe en denkfoute
  • Die skryf van filosofiese essays
  • Inleiding tot retoriek

Studente word deur die loop van die module getoets deur praktiese toepassing van teorie op relevante hedendaagse gevallestudies uit beide die plaaslike en internasionale openbare sfere.

Hierdie inleidende module in politiek fokus op die basis van politieke wetenskap deur studente te lei om konsepte, teorie, modelle, ideologieë en breë politieke strukture te verstaan en te begin toepas om sin te maak van spesifieke politieke gevalle. Konsepte en teorie – wat definisies van politiek, die staat, politieke stelsels en owerheidsvorme, partystelsels, kiesstelsels, die verdeling van magte en staatsvorme insluit – word ook toegepas op voorbeelde vanuit die Suid-Afrikaanse politiek.

Hierdie module het ten doel om studente se begrip van ekonomie te verdiep deur te demonstreer waarom bepaalde gebeurtenisse in die ekonomiese stelsel plaasvind. Ten einde hiervan word daar op intermediêre makro- en mikro-ekonomie gefokus.

In hierdie module word daar gefokus op hoe die dissipline van ekonomie ontwikkel het. Hiervoor waar daar veral op prominente ekonomiese denkers gefokus, waardeur die student se vermoë om te besin ook verbreed word deur blootstelling aan verskillende – en soms uiteenlopende – ekonomiese denkskole.

In hierdie module word daar voortgebou op die voorgaande inleiding tot filosofie. Daar word steeds histories en sistemies te werk gegaan, maar met ʼn fokus op die begrip van moderne en politiese filosofie. Die moderne been sluit in Machiavelli, Descartes, en figure uit die Britse, Franse en Duitse Verligting. Met betrekking tot politieke filosofie word studente blootgestel aan verskeie politiese denkers.

Hierdie module verdiep studente se kennis van internasionale betrekkinge deur toespitsing op twee belangrike onderwerpe, naamlik internasionale organisasies en die ontleding van buitelandse beleide. By die bestudering van internasionale organisasies word daar veral gefokus op die netwerk van interregeringsorganisasies wat transaksies tussen lande reguleer, asook die veranderende gesig van internasionale betrekkinge in die lig van die Brexit-referendum en die verkiesing van Donald Trump. Met betrekking tot die ontleding van buitelandse beleid word studente blootgestel aan die plaaslike en internasionale kragte wat hierdie beleide beïnvloed.

In hierdie voortsetting van Politiek 1 word daar in die besonder gekyk na politieke teorie en vergelykende politiek. Die studie van politieke teorie verbreed studente se bestaande kennis van politiese teorieë, konsepte en modelle vanuit ʼn verskeidenheid perspektiewe, terwyl vergelykende politiek die student in staat stel om ʼn breër benadering tot politiese gebeure te neem en dit nie bloot in isolasie te ontleed nie. Hierdie module bemagtig studente om politiek as ʼn wetenskap te benader wat sistematies op politieke probleme toegepas kan word.

In die module oor die politieke filosofie word gefokus op ’n sentrale polities-filosofiese verdelingslyn van die moderne era, naamlik die verskil tussen die klassieke liberale en klassieke konserwatiewe denke. In die besonder word gefokus op die ontstaan van die polities-filosofiese verdeling tussen ‘regs’ en ‘links’ by monde van twee vooraanstaande politieke denkers van die moderne era, naamlik Edmund Burke en Thomas Paine. In die hart van die module staan die Franse Rewolusie uit die agtiende eeu en die uiteenlopende wyse waarop Burke en Paine daarop antwoord.

Die module in politieke filosofie rus op die vooronderstelling dat genoemde polities-filosofiese verdelingslyne steeds ten grondslag van toonaangewende debatte in die hedendaagse politieke filosofie lê. ’n Begrip van dié hedendaagse debatte is onmoontlik sonder om Burke en Paine se uiteenlopende antwoorde te verreken.

Hierdie module verbreed studente se ekonomiese kennis deur dieper in twee subdissiplines te delf. Eerstens word daar op monetêre ekonomie gefokus, wat studente se begrip verdiep van die instellings, beleide en ander oorsake wat monetêre beleid beïnvloed. Tweedens word daar ondersoek gedoen na hoe hedendaagse monetêre beleide deur prominente ekonomiese denkers beïnvloed is. Uiteindelik integreer hierdie module ekonomiese teorie met werklike beleid.

In hierdie module word hedendaagse filosofie verken. Belangrike ontwikkelings in hierdie veld word ondersoek, en daar word onder andere gekyk na die debat rondom die konsep van dekolonialisasie, asook evaluering van die dialoog tussen Afrika en die Weste.

Hierdie module het ten doel om die voorafgaande jare van politiek en internasionale betrekkinge te integreer, sodat studente die vermoë het om omvattende ontledings van politieke gebeure te ontwikkel. Dié module sluit in die bestudering van demokratiese teorie en praktyk, openbarebeleidontleding, en Afrika se internasionale betrekkinge. Daar word van studente vereis om aktuele internasionale kwessies krities te beskou.

Die kernintegrasieprojek dien as ʼn samevatting van die PFE-graad, wat ontwerp is om te verseker dat studente die verskillende teorieë uit hulle kerndissiplines – dit wil sê politiek, filosofie en ekonomie – integreer. Die module is uiteraard selfbesinnend, en stel studente in staat om toevallige of teenstrydige teorieë binne die verskillende vakgebiede wat in Akademia se PFE-graad aangebied word te identifiseer. Hierdeur word daar aanspraak gemaak op een van die groot sterkpunte van hierdie kwalifikasie, naamlik die interafhanklikheid van die drie kerndissiplines, deur studente in staat te stel om hulle toe te spits op kwessies wat beide teoreties en prakties van aard is.

ANDER INLIGTING

Die program kan in ’n minimum tydsduur van drie jaar voltooi word. Die maksimum toelaatbare tyd vir voltooiing is sewe jaar.

Toelatingsvereistes

  • Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat graadstudies spesifiseer, asook:
    • Afrikaans 50%
    • Wiskunde 50% / Wiskundige Geletterdheid 60%
  • Sertifikaat van vrystelling uitgereik deur USAf indien ʼn ander skoolverlater kwalifikasie as NSS behaal is.
  • ʼn Hoër Sertifikaat in ʼn ooreenstemmende studieveld.

*Voornemende studente wat tussen 40% en 49% vir Wiskunde behaal het, sal voorwaardelik toegelaat word tot die program en moet addisioneel inskryf vir Sakeberekeninge voordat hulle toegelaat sal word om vir Statistiek te registreer.

**Voornemende studente wat 60% of meer in Wiskundige Geletterdheid behaal het, sal voorwaardelik toegelaat word tot die program en moet addisioneel inskryf vir Sakeberekeninge voordat hulle toegelaat sal word om vir Statistiek te registreer.

Programkoste vir 2024

Nauurs

Jaar een: Vanaf R51 360 | Jaar twee: Vanaf R48 000 | Jaar drie: Vanaf R56 000

Voltyds

Jaar een: Vanaf R59 280 | Jaar twee: Vanaf R59 280 | Jaar drie: Vanaf R69 160

Handboeklyste word na suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.

Nauurse afstandsmodel: Semester 1

Nauurse afstandsmodel: Semester 2

DOEN NOU AANSOEK OM ‘N BSOCSCI (POLITIEK, FILOSOFIE EN EKONOMIE)-GRAAD TE STUDEER