Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

BCom (Ekonomie en Regte)

Die Baccalaureusgraad in Ekonomie en Regte bemagtig die student om die beginsels van Ekonomie en Regte te verstaan en om dié beginsels in die praktyk toe te pas. Dit rus studente toe met kennis en vaardighede in beginsels en praktyk van ekonomie, finansiële bestuur, finansiële rekeningkunde, verskillende aspekte van regswetenskap, die Suid-Afrikaanse regstelsel en toepassing in die praktyk. Die student word ook vir verdere studies in ekonomie of regte voorberei.

WAT KAN EK MET BCOM (EKONOMIE EN REGTE) DOEN?

Die Baccalaureusgraad in Ekonomie en Regte rus die student toe met basiese kennis en vaardighede in ’n verskeidenheid van velde binne die sake- en regsomgewing. Die student word met analitiese vaardighede, probleemoplossingsvaardighede, kritiese denke en ook regskennis toegerus. Hierdie verskeidenheid van kennis en vaardighede waarmee die student toegerus word, bemagtig die student om ’n suksesvolle loopbaan te betree en moontlike beroepe soos regsadviseur, navorser of konsultant te beoefen. Dit gee ook die student toegang tot verdere nagraadse studie in ekonomie of selfs ’n regskwalifikasie, soos ’n LLB-graad. Hierdie graad stel die student in staat om ʼn LLB in twee jaar te voltooi. Dit beteken dat indien die LLB voltooi is, het die student in vyf jaar twee grade verwerf. Met die LLB-graad kan die student as prokureur of advokaat toegelaat word.

Die BCom (Ekonomie en Regte)-graad kan in ’n minimum van drie jaar voltooi word en het ’n NKR 7-uitgangsvlak.

WAT BEHELS DIE PROGRAM?

NKR-vlak 7

420 krediete

SAKO-nommer: 112623

ONDERRIGLEERMODEL: Nauurse afstandsmodel en voltydse kampusmodel

KWALIFISEER EK OM BCOM (EKONOMIE EN REGTE) TE STUDEER?

MODULES

Hierdie module bied kennis oor die funksionering van die ekonomie as ’n geheel, asook insig oor hoe om basiese ekonomiese probleme in verskillende ekonomiese stelsels op te los, hoe gesinne en ondernemings besluite neem en hoe pryse onder goeie of ongewensde mededingende omstandighede vasgestel word.

Hierdie module bied ’n oorsig oor die bestuur van sakeondernemings in die Suid-Afrikaanse sakeomgewing. Dit voorsien beginsels vir die bestuur van hulpbronne en aktiwiteite vir optimale winsgewendheid. Die module bied ook ’n inleiding tot die verskeie gespesialiseerde bestuursareas, naamlik menslikehulpbronne, bemarking, openbare betrekkinge, finansies, prosesse, aankope en voorsieningskettingbestuur.

Hierdie module bied ’n oorsig van basiese bestuurswetenskaplike tegnieke wat in die praktyk toegepas kan word.

Hierdie module behandel die voorbereiding van finansiële verslae vir enkel entiteite. Die verslae word binne ’n konseptuele en regulatoriese raamwerk saamgestel, met ’n begrip vir die verskeie alternatiewe wat waardering betref, asook die rol van wetgewing en van rekeningkundige standaarde. Deur rekeningkundige tegnieke en stelsels toe te pas, kan rekeninge vir verskillende bedrywe en vir spesifieke transaksies voorberei word. Die meting van finansiële prestasie deur die berekening van basiese verhoudings word behandel, asook die noodsaaklikheid om die nodige beheermeganismes vir rekeningkundige stelsels te verstaan en toe te pas deur na interne beheer en die aard van foute en bedrog te kyk.

Eerstens bied hierdie module ʼn oorsig oor hoe die reg as ʼn stelsel funksioneer, wat onder meer die geskiedenis van die reg en indeling daarvan behels. Die verskillende velde van reg, insluitend privaatreg, siviele prosesreg, strafreg, strafprosesreg en bewysreg word behandel. Tweedens bied die module vaardigheidsopleiding, waar daar gefokus word om op lees-, skryf, navorsings- en betoogsvaardighede te ontwikkel.

Hierdie module vorm deel van die basis van regstudies en is daarom van kardinale belang. As deel van die nasionale reg vind ons die privaatreg, waarbinne Personereg ressorteer. Die raamwerk van hierdie module bestaan ondermeer uit die ontstaan en ontbinding van regsubjektiwiteit, sowel as die privaatregterlike status van die natuurlike persoon of regsubjek.

Familiereg is ʼn afdeling van die privaatreg en reguleer die regsverhouding tussen gades, sowel as tussen ouers en kinders. Hierdie module gee studente blootstelling aan verskeie aspekte van die familiereg, wat die regulering van die regsverhoudinge tussen gades, sowel as ouers en kinders beïnvloed.

Hierdie module het ten doel om die student se begrip van ekonomie te verdiep deur te demonstreer hoe en hoekom gebeurtenisse in die ekonomiese sisteem plaasvind. Hierdie module fokus op beide die intermediêre makro- en mikro-ekonomie.

Die module bied ʼn oorsig oor die basiese beginsels en sfere van rekeningkunde, finansiële rekeningkunde en verslaggewing.

Kontraktereg is ʼn belangrike gedeelte van die Suid-Afrikaanse privaatreg. In hierdie vakgebied word daar gefokus op die algemene beginsels van kontraktereg. Oorsigtelik is die belangrike gedeeltes van die kontraktereg die aard, grondslag, inhoud en werking van kontrakte. Dit fokus ook op die geldigheidsvereistes van ʼn kontrak om eers te bepaal of ʼn geldige kontrak tot stand gekom het. Hierna is daar verskeie ander aspekte, byvoorbeeld kontrakbreuk en remedies, wat aandag geniet. Die module is saamgestel om kennis te verbreed en kontrakte vir elke mens toeganklik te maak.

Wetgewing wat met testate en intestate erflatings verband hou, word in hierdie module behandel. Studente word ook aan die basiese beginsels van boedelbereddering blootgestel.

Die module is saamgestel om die student ʼn begrip te gee van hoe die veld van ekonomie ontwikkel het. Die student word blootgestel aan die ekonomiese filosofie in chronologiese volgorde tot en met hoe die moderne ekonomie ontwikkel het.

Die module bied ʼn diepliggende kennis van finansiële teorie en praktyk in die Suid-Afrikaanse konteks, asook ʼn omvattende oorsig oor persoonlike finansies.

Die module stel die student aan die algemene beginsels van deliktereg bloot. Sekere aspekte van die beginsels wat op spesifieke delikte van toepassing is, word ook gedek.

Ekonomie 3 bou voort op die beginsels van mikro-ekonomie en makro-ekonomie wat in Ekonomie 2 behandel is. Die module bespreek arbeidsekonomie met ’n fokus op mededingende verduidelikings van onlangse verwikkelinge in loon- en salarisverspreiding en in belangrike instellings en organisasies. Spesiale aandag word aan teorieë oor werkers se motivering en optrede gegee, asook die vasstelling van lone, tegnologie, maatskaplike stratifikasie en vakbondoptrede. Internasionale ekonomie word ook behandel, aangesien dit lig werp op fundamentele instellings en verhoudings wat lewenskwaliteit bepaal en ’n raamwerk bied waarbinne ’n begrip vir die besluitnemingsproses oor internasionale handel, beleggings en kapitaalvloei – veral in ontluikende markte – gevorm kan word. Die module analiseer ook huidige debatte oor die toepassing van ekonomiese teorie en probleme rondom ekonomiese ontwikkeling. Studente word bemagtig om teorie en beleid toe te pas en om ekonomiese uitdagings op te los sodat internasionale handel bevorder word, ekonomiese ontwikkeling versnel en arbeidsverhoudings verbeter.

Die module bied ’n oorsig oor korporatiewe burgerskap en korporatiewe innovasie en entrepreneurskap.

Die module behandel die algemene beginsels wat met sakereg verband hou. Dit dek konstitusionele aspekte van sakereg, eiendomsreg en ander regte in en verhoudings tot sake, soos beperkte saaklike regte, besit en houerskap.

Die module behandel die basiese beginsels van maatskappyreg, vennootskappe, besigheidstrusts en beslote korporasies.

Die module dien as inleiding tot die beginsels van individuele en kollektiewe arbeidsreg. Die beslegting van arbeidsgeskille en alternatiewe dispuutbeslegting, asook aspekte van die dienskontrak, diensverhouding en ontslag in die werkplek, word ontleed.

Die module behandel interessante ontwikkelings in die wêreld. Teorie van internasionale handel word ondersoek en daar word prakties gekyk na die redes waarom lande handel dryf. Verskillende wyses waarop beleid toegepas word, word ondersoek. Die module rus studente verder toe om enige land in die wêreld wetenskaplik te ontleed in terme van die wyse waarop die betrokke land funksioneer en handel dryf.

ANDER INLIGTING

Die program kan in ’n minimum tydsduur van drie jaar voltooi word. Die maksimum toelaatbare tyd vir voltooiing is sewe jaar.

Toelatingsvereistes

  • Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat graadstudies spesifiseer, asook:
    • Afrikaans 50%
    • Wiskunde 50%
    • Rekeningkunde 50%
  • Rekeningkunde in graad 12 word vereis, maar die onderstaande prestasie word ook oorweeg in gevalle waar studente nie Rekeningkunde as skoolvak geneem het nie:
    • ʼn Minimum van 60% vir Wiskunde sal oorweeg word, mits die voornemende student ʼn algehele goeie akademiese profiel het.
  • Sertifikaat van vrystelling uitgereik deur USAf indien ʼn ander skoolverlater kwalifikasie as NSS behaal is.
  • ʼn Hoër Sertifikaat in ʼn ooreenstemmende studieveld.

Programkoste vir 2024

Nauurs

Jaar een: Vanaf R53 500 | Jaar twee: Vanaf R58 000 | Jaar drie: Vanaf R58 620

Voltyds

Jaar een: Vanaf R61 750 | Jaar twee: Vanaf R71 630 | Jaar drie: Vanaf R74 100

Handboeklyste word na suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.

Nauurse afstandsmodel: Semester 1

Nauurse afstandsmodel: Semester 2

DOEN NOU AANSOEK OM VIR ‘N BCOM (EKONOMIE EN REGTE) TE STUDEER