Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia stig Alumnivereniging

Gepubliseer op: 26 Julie 2019

Die Akademia Alumnivereniging (AAV) is onlangs gestig. Die oogmerk van die AAV is om in samewerking met Akademia bande tussen oud en nuwe Akademia-studente te bevorder. Sodoende poog die AAV om die belange van Akademia, insluitende haar beeld, reputasie en vooruitgang op die hart te dra en ’n beter toekoms vir studente te skep.

Om hierdie doelwitte te bereik is die eerste AAV-bestuur onlangs verkies, wat sal verseker dat die bogenoemde oogmerk ten alle tye nagestreef sal word. Hierdie bestuursliggaam word saamgestel vanuit ʼn verkieste voorsitter, ondervoorsitter en tesourier, en word afgerond deur die byvoeging van twee Akademia-personeellede, naamlik die registrateur en die studentesakekoördineerder.

Die bestuurportefeuljes is soos volg toegeken:

  • Lindie de Beer: Voorsitter
  • Gideon Grobbelaar: Ondervoorsitter
  • Ziegfried van Huyssteen: Tesourier
  • Liana Venter: Registrateur
  • Sunel Combrinck: Studentesakekoördineerder

 

Die verkose voorsitter, Lindie de Beer, het aan die einde van 2017 die Gevorderde Diploma in Projekbestuur aan Akademia voltooi. De Beer sien met blydskap uit om haar skoene in die rol as voorsitter van die AAV vol te staan. Haar doelwit is om ʼn netwerk daar te stel wat alumni met mekaar en met Akademia verbind, asook om te help bou aan die nuwe kampus. Volgens De Beer gaan dit eendag vir haar die grootste oomblik wees wanneer sy haar voete op die residensiële kampus plaas. “Wat ʼn ongelooflike voorreg om te help bou aan iets vir ons nageslag.”

Gideon Grobbelaar, die ondervoorsitter, het in 2015 sy Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde verwerf, en daarna vir die BCom (Bestuursrekeningkunde)-graad ingeskryf wat hy tans aflê. Ziegfried van Huyssteen, die tesourier, het in 2012 die Hoër Sertifikaat in Gemeenskapsontwikkeling voltooi.

Sunel Combrinck, die studentesakekoördineerder, deel dat vanjaar se AAV gaan poog om die alumni gerat te kry om aktief by te dra tot die bevordering van Akademia-studente. “Ons gaan dit bewerkstellig deur die stigting van ʼn alumnigedrewe studiefonds, netwerkgeleenthede tussen alumni en studente, asook beroepsvoorligting vanaf gevestigde alumni aan studente.”