Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Plato in Afrikaans

Gepubliseer op: 19 Maart 2019

Akademia het onlangs haar eerste boek, ʼn Afrikaanse vertaling van Plato se verdediging van Sokrates, uitgegee. Die Verdediging van Sokrates is een van die vroegste brondokumente van die Westerse filosofie en is deur Piet Boshoff uit die Grieks vertaal. Die boek is by Akademia se aanlyn winkel beskikbaar, en sal eersdaags in geselekteerde Protea-takke verskyn.

Professor Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe aan Akademia, brei uit oor die verskyning van hierdie publikasie. “Eerstens, heel prakties, is die teks van Plato ʼn voorgeskrewe bron vir die eerstejaarfilosofiemodule in BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)-kwalifikasie. Tweedens is Plato se werk van kardinale belang vir ons beskawingsgeskiedenis, nie bloot vanweë die filosofiese betekenis daarvan nie, maar ook vir die invloed wat dit op die Christelike Middeleeue en ons moderne tydsgewrig uitoefen.”

Duvenage sê verder dat hierdie boek betekenisvolle leesstof is omdat Sokrates op ʼn dialogiese wyse aan die woord kom met die mense van sy stad (Athene) oor ʼn belangrike tema, naamlik geregtigheid, en omdat Plato se ideëleer ook hier ter sprake kom. “Die boek is ʼn verpligte leesstof vir enige weetgierige mens wat een van die oudste bronne van ons beskawing wil raadpleeg met die oog op die hede én die toekoms.”

Akademia beoog om in die nabye toekoms verdere akademiese publikasies die lig te laat sien. “Vooraanstaande navorsers van buite die organisasie het Akademia ook al genader met die oog op die publikasie van hulle akademiese uitsette. Daar is juis ʼn toonaangewende werk oor die Middeleeuse filosofie wat in volgende jaar sal verskyn,” voeg hy by.