Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Wil jy ’n student se leerervaring met jou kundigheid verryk?

Gepubliseer op: 14 Maart 2019

“Elke uitstekende presteerder is beïnvloed deur ’n uitstekende mentor.”
– Lailah Gifty Akita

Akademia bied vanjaar weer aan voornemende mentors die geleentheid om ʼn pad saam met ʼn student te stap. Sedert 2017 bied Akademia ʼn mentorskapprogram aan en is reeds agtien mentors opgelewer. Vanjaar poog Akademia om ʼn verdere dertig mentors op te lei en sodoende ʼn daadwerklike verskil in ʼn gementorde se lewe te maak. Die mentorskapprogram word weer hierdie jaar in samewerking met LifeXchange aangebied. Nadat aansoeke sorgvuldig gekeur is om te verseker dat die potensiële mentor ʼn verrykende verskil in ʼn student se lewe sal maak, voltooi mentors ʼn interaktiewe aanlyn kursus, waarna hy/sy ’n geakkrediteurde sertifikaat ontvang.

Felicia Snyman, een van Akademia se eerste mentors, beskryf die mentorskapprogram as ʼn goed gestruktureerde en betekenisvolle program. Sy voeg by dat sy tydens die duur van die kursus waardevolle vaardighede as individu aangeleer het. “Die waarde agter mentorskap is om die mentor en mentee toe te laat om in hulle menswees en in hul uniekheid te groei. Die grootste geskenk is ʼn lewenslange vriendskap wat uit die mentor-mentee-verhouding gegroei het.”

Monique Visser, ook ʼn mentor, deel dat LifeXchange se kursus vir haar nuwe maniere van dink en doen geleer het. Sy noem dat die program haar insig gegee het in hoe individue aanmekaar gesit is en hoekom mense van mekaar verskil. Sy verduidelik verder dat dit verrykend is om ʼn mentee te hê met wie sy haar ondervinding kan deel. “Ek en my mentee kom gereeld bymekaar om te klankbord oor ons daaglikse lewens, oor dinge wat ons opgewonde maak, en struikelblokke wat ons ervaar.”

Studente wat as mentees in die program deelneem het ook hulle ervaring as positief beskryf. Mariaan Booysen, ʼn derdejaarstudent, het Akademia bedank vir die uitstekende geleentheid en beveel die kursus vir elke student aan. Sy beskryf die program as een wat volhoubare ondersteuning en motivering in elke area van menswees bied. “Dit het my gemotiveer het om nie net ʼn beter mens te wil wees nie, maar ook om akademies beter te presteer.”

Danielle Kleyn, ook ʼn derdejaarstudent, vertel dat die mentorskapprogram tot dusver baie vir haar beteken het. “Dit is lekker om iemand te ken met wie jy heeltemal eerlik kan gesels. Iemand wat jou soms ʼn ander siening, waaraan jy nooit self sou gedink het nie, oor sake gee. Die mentorskap laat mens meer oor jouself leer.”

Indien jy weet dat jy ’n sinvolle impak in iemand se lewe sal kan maak, volg hierdie skakel en voltooi die aanlyn aansoekvorm in. Aansoeke is oop tot 22 Maart 2019. Stuur ʼn e-pos na sunel@akademia.ac.za vir meer inligting.