Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Wenke om vir jou kind se toekoms te spaar

Gepubliseer op: 4 Februarie 2019

Ouers het dikwels baie vrae oor hoe om te begin met finansiële beplanning vir ʼn kind se toekoms. Nicolene Steenkamp, programkoördineerder van BCom (Finansiële Beplanning) deel ʼn paar wenke.

Vandag bepaal jou inkomste ʼn groot deel van jou lewe, selfs iets so persoonlik soos gesinsbeplanning. Ek ken mense wat sê: “Ek kom net-net uit met my geld – hoe gaan ek nog kinders ook groot maak?” of “Hoe gaan ek ordentlike opvoeding vir my kinders kan bekostig?”. Die eintlike vraag is: “Hoe voorsien ek finansieel vir my kinders en hulle toekoms?”. Die antwoord is: spaar. Die HAT definieer “spaar” as die “hou/bêre, opsy sit vir die toekoms” van veral geld. Om vir jou kinders se toekoms te spaar is egter makliker gesê as gedaan.

Hiermee dan ʼn paar wenke om jou te help spaar vir jou kind se toekoms:

1. Skep duidelike finansiële doelwitte
Om ʼn doelwit voor oë te hê sal jou gemotiveer hou om elke maand effektief te spaar. As die doelwit vir jou belangrik genoeg is, sal dit vir jou makliker wees om elke maand die teikenbedrag te spaar.

2. Kry die regte finansiële advies
Daar is ʼn verskeidenheid finansiële adviseurs daarbuite. Kry iemand wat jy vertrou en wat daartoe in staat is om vir jou objektiewe finansiële advies te gee. Hulle moet ook oor die nodige kennis beskik om te verseker dat jou geld in die regte produk belê word om jou doelwitte te bereik. Só ʼn finansiële adviseur sal vir jou ʼn doeltreffende plan kan opstel om die beste resultate vir jou spesifieke fokus, of fokusse, te kry. Waarskynlik is die beste manier om ʼn goeie finansiële adviseur op te spoor deur vriende, familie of kollegas te vra om jou na iemand te verwys wat hulself al as betroubaar en kundig bewys het.

3. Begin so vroeg as moontlik spaar
Bepaal hoeveel tyd het jy om jou finansiële doelwitte te bereik. As jy vroeg begin spaar is dit nie nodig om groot hoeveelhede weg te sit nie. As tyd aan jou kant is, kan jy met ʼn klein maandelikse bedrag op die ou einde groot opbrengste verdien.

4. Bepaal wat jy kan bekostig
Stel vas wat jy realisties kan bekostig om per maand te spaar. Dit help nie jy spaar baie geld, maar kan nie op ʼn daaglikse basis jou ander finansiële verpligtinge nakom nie. Stel ʼn begroting op en bepaal hoeveel jy nodig het om die maand te oorleef; dit wat oorbly kan jy spaar.

5. Hou by jou plan
As jy ʼn plan uiteengesit het om jou finansiële doelwit te bereik, hou daarby. Moet nie impulsiewe besluite neem of aankope maak wat jou plan in gedrang kan bring nie. Onthou om altyd sulke oorwegings teen die onskatbare waarde van jou kind se toekoms op te weeg.

6. Betrek jou kind
Dit is belangrik dat jy jou kinders deel maak van die spaarproses. Daardeur dra jy by tot hulle finansiële geletterdheid, en leer jy hulle belangrike vaardighede om eendag verantwoordelik met hulle eie geld te werk.

Nicolene Steenkamp, programkoördineerder van BCom (Finansiële Beplanning).