Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia betree die geesteswetenskappe

Gepubliseer op: 3 September 2018

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het op Vrydag, 31 Augustus 2018, ʼn eerste kwalifikasie in geesteswetenskappe bekendgestel tydens ʼn eksklusiewe byeenkoms in Centurion. Hierdie kwalifikasie – BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) – sal vanaf 2019 by Akademia se dertien studiesentrums aangebied word.

Die toetrede tot ʼn geesteswetenskaplike rigting is ʼn besonderse prestasie vir Akademia, aangesien dit deel vorm van die instelling se toekomsplanne om na meer studierigtings uit te brei wat beide die toegepaste- en die geesteswetenskappe insluit. “Akademia as relatiewe jong hoëronderwysinstelling poog om aan die voorpunt van bedryfsrelevante kwalifikasie-ontwikkeling te wees, om studente vir ʼn snel veranderende en komplekse werksplek voor te berei,” verduidelik dr. Saretha Brüssow, dekaan van die instelling.

Die samesnoering van vakdissiplines soos politiek, filosofie en ekonomie het reeds oor die afgelope honderd jaar op internasionale vlak gewild geraak. “Waar ons programaanbod voorheen net op die ekonomiese wetenskappe gefokus het, dui die toetrede tot die geesteswetenskaplike veld op ʼn begrip van die sosiale aspekte van die werklikheid,” sê Brüssow. Die uniekheid van die BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie), is dat dit ʼn kombinasie van drie selfstandige studierigtings in een kwalifikasie daarstel.

In die voltooiing van hierdie kwalifikasie leer studente dat politiek, filosofie en ekonomie met mekaar vervleg is. Hierdie geïntegreerde benadering skep ʼn breër basis en ʼn hoër plafon betreffende professionele aanpasbaarheid en werksmoontlikhede. “Alhoewel ekonomie as dissipline bedryfsrelevant is en besigheidspersone vir die werksplek voorberei, is daar ʼn tendens om werknemers in diens te stel met ’n filosofiese en politiese agtergrond, aangesien die multidissiplinêre benadering kritiese denke ontsluit,” meen Brüssow. Die veelsydigheid van hierdie graad skep geleentheid vir die afgestudeerde student om ʼn keuse van beroepswêrelde oor verskeie velde te betree, insluitende politiek, joernalistiek, en die bankwese.

Studente wat hierdie kwalifikasie voltooi stap weg met ʼn breë begrip van die wêreld waarin hulle leef, en sal oor die nodige kennis en vaardighede beskik om uitdagings van die moderne besigheidswêreld vierkantig in die oë te staar.

Dr. Saretha Brüssow, dekaan, en Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia klink ʼn glasie op die instelling se splinternuwe kwalifikasie, BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie). Foto: Lizán Maree