Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Nuwe dekaan neem leisels oor by Akademia

Gepubliseer op: 18 Januarie 2018

Akademia kondig met opwinding die aanstelling van die nuwe dekaan, dr. Saretha Brüssow, aan. Brüssow, wat ʼn passievolle verbintenis tot studente se akademiese prestasie en sukses in hoër onderwys het, word met die taak toevertrou om die akademiese personeel verder uit te bou en te ondersteun. Hierdie aanstelling dra by tot Akademia se strategie om verder eersteklas hoër onderwys in Afrikaans te bied, deur gebruik te maak van ʼn hoë­tegnologiese onderrigmodel.

Brüssow het tot en met die einde van 2017 haar plek volgestaan as die Hoof: Akademiese Beplanning in die Direktoraat vir Institusionele Navorsing en Akademiese Beplanning aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy onder andere vir kwaliteitsversekering, programontwikkeling en akademiese akkreditasie verantwoordelik was. Haar strewe na gehalte onderrig het byval gevind in die aard en wese van Akademia, asook die instelling se vertrekpunte, oogmerke en doelwitte.

“Akademia is ʼn toekomsgerigte, privaat en selfstandige, hoër onderwysinstelling, gegrond op beproefde uitgangspunte, wat gekenmerk word deur nie nét ʼn eensydige klem op gespesialiseerde opleiding en vakkennis nie, maar op ʼn onderrigmodel wat ons ʼn unieke stem binne die Suid-Afrikaanse universiteitswese gee,” meen Brüssow.

Brüssow is vuur en vlam om dié hewige taak as Akademia-dekaan aan te pak. Haar doelwitte vir 2018 is geskoei op die handhawing en uitbouing van Akademia se reeds hoog aangeskrewe onderrig op drie onderling verwante vlakke. “Eerstens wil ek bydra op institusionele vlak wat beleid en interne gehalteversekeringstelsels insluit; tweedens op programvlak wat die ontwerp, inhoud en aflewering van programme insluit; en derdens op ʼn individuele vlak, insluitende inisiatiewe wat dosente help en aanmoedig om innoverend te wees in hulle onderrig- en leermetodes,” verduidelik Brüssow.

Haar droom vir Akademia is om selfstandige gegradueerdes te lewer wat krities kan dink, en hulle drome kan verwesenlik deur Akademia se Westers-Christelike, intellektuele tradisie en vakkennis van wêreldsklas.

“Ons is ingenome met die aanwins van Brüssow as dekaan by Akademia,” sê Marthinus Visser, bestuurshoof van die instelling. “Met die rykdom van kennis wat sy saambring, tesame met die akademiese fondasie wat reeds by Akademie gelê is, gaan ons die instelling verder uitbou en groei na die Afrikaanse hoër onderwysinstelling wat ons strewe om te wees.”

Die aansoeke om gedurende die 2018 akademiese jaar by Akademia te studeer, sluit hierdie Vrydag (19 Januarie).