Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Studenteraad 2018 vuur en vlam vir volgende jaar

Gepubliseer op: 24 November 2017

Nege van Akademia se studente is vuur en vlam om in 2018 as studenteraadslede hul medestudente by te staan en hul merk te maak.

Dié studente, wat by verskillende studiesentrums regoor die land klas draf – van Centurion en Vanderbijlpark tot Somerset-Wes en George – is daar om elke student se studentelewe te vergemaklik, te bevorder en as kommunikasiekanaal tussen Akademia en die studente te dien.

Pierre Danile Basson, Clarissa de Lange, Terrance Robin en Alicia Groenewald is almal vir die BCom Ondernemingsbestuur-graad ingeskryf, terwyl Runé James, Suné Samons, Carlissa Kuun en Veronica Stigling vir die BCom Bestuursrekeningkunde-graad swot. Danielle Kleyn studeer BCom Ekonomie en Regte.

Suné verduidelik dat sy Akademia gekies het omdat sy van die idee van ʼn Afrikaanse universiteit hou, waar sy in haar huistaal ʼn tersiêre kwalifikasie kan bekom. Sy het haarself as SR-lid beskikbaar gestel omdat sy ʼn steunpilaar vir studente wil wees en die studentelewe by Akademia wil bevorder.

ʼn Goeie vriend het vir Terrance van Akademia se uitnemende diens en struktuur vertel. “Toe ek verder gaan oplees het daaroor, het ek onmiddellik geweet dat ek en Akademia dieselfde waardes deel en dat dit ʼn voorreg sal wees om by só instansie betrokke te wees – ek was dadelik daarvan oortuig.”

As ‘n lid van die SR wil hy die instansie help om strategiese besluite te neem om sodoende groei te bewerkstellig en studente se lewens te verryk.

“Ek wil ‘n kultuur skep waar studente besef dat hulle deel is van iets groter as slegs ‘n graad – ek wil hê hulle moet besef dat die besluite wat hulle vandag neem, die vermoë het om Suid-Afrika se toekoms te verander. Laastens wil ek hê dat beide my medestudente en Akademia my as ʼn staatmaker sal beskou en iemand na wie hulle kan draai wanneer krisis ontstaan,” sê Terrance.

Danile het besluit om by Akademia te studeer omdat hy graag in Afrikaans wou swot en opsoek was na ʼn plek met ʼn studentelewe, maar waar hy ook klasse kan bywoon sodat hy hulp kan kry as hy dit nodig het.

As SR-lid wil hy graag sy medestudente help met hulle eerste tree in die studentelewe. “Om verlore en alleen te voel is onvermydelik aan die begin van jou studies en ek wil ʼn verskil probeer maak om daardie gevoel minder te maak en ʼn baie gemaklike en ondersteunende atmosfeer vir die studente te skep.”

Veronica het besluit om deur Akademia te studeer omdat sy kan werk én studeer, omdat die graadprogram van hoë gehalte is en omdat dit in haar moedertaal aangebied word.

Haar eerste prioriteit as SR-lid is om die studente saam te snoer deur sosiale aksies te reël en studiegroepe te vorm, om dit vir studente te vergemaklik om hul studies te voltooi. “As SR-Lid sal ek poog om elke student te help waar ek moontlik kan en sal ek ook Akademia wil help waar ek kan. Ek wil voornemende studente inspireer om by Akademia aan te sluit.”

Spesifieke portefeuljes sal met die afskop van die nuwe akademiese jaar aan die studenteraadslede toegeken word. Akademia wens die studenteraad sterkte toe en is opgewonde oor die verskil wat hulle vanjaar gaan maak.