Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Studiesentrums in PE en Namibië open deure in 2018

Gepubliseer op: 25 Augustus 2017

Akademia brei in 2018 na die Oos-Kaap en Namibië uit, wanneer studiesentrums in Port Elizabeth en Windhoek hul deure vir voornemende studente oopgooi. Dít bring Akademia se voetspoor op 13 studiesentrums te staan.

Port Elizabeth se studiesentrum is op die terrein van Akademia se vennoot, die Voortrekkers, geleë, terwyl Windhoek se sentrum in die pragtige fasiliteite van die Kultuurgemeenskapsentrum by die monument geleë is. Aansoeke vir studies in 2018 by dié twee sentrums kan nou gedoen word.

Paul Vogel, Akademia se operasionele bestuurder, verduidelik dat daar versoeke vanuit Namibië se Afrikaanssprekende geledere gekom het om ’n studiesentrum in die buurland te open. “Die Namibiese Afrikaanse Privaatskole Organisasie (Napso) het Akademia besoek om die voorstel te bespreek, waarna ons goedkeuring van die Namibiese regering gekry het. Nou het voornemende studente in Namibië die geleentheid om hul kwalifikasies teen ʼn bekostigbare prys plaaslik te verwerf, in plaas daarvan om die groot onkoste van studies in Suid-Afrika aan te gaan.”

Dié twee nuwe studiesentrums sal op presies dieselfde wyse as hul Suid-Afrikaanse eweknieë funksioneer, met studente wat verpligte nauurse klasse by die interaktiewe studiesentrum bywoon. Die sentrums is met moderne videokonferensie-tegnologie toegerus en gratis internettoegang is beskikbaar om studente toegang tot die Spens, Akademia se unieke aanlyn ondersteuningstelsel en biblioteek, te gee.