Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia-studente kuier saam in Augustus

Gepubliseer op: 7 Augustus 2017

Akademia het in Julie en Augustus ʼn reeks studentekuiers gehou, waar studente en dosente gesellig saam verkeer en die akademiese bande ook op persoonlike vlak gesmee het.

Volgens Runé James en Suné Samons, studenteraadslede vir Centurion en Lynnwood se studiesentrum onderskeidelik, was die eerste geleentheid op 29 Julie ʼn groot sukses. Speletjies, pizza en wyn het gesorg vir ʼn vermaaklike aand waar meer as 50 studente van alle ouderdomme mekaar en ses van hul dosente beter kon leer ken.

Berrie Stoop, dosent in Rekeningkunde, het die studente verwelkom en vir hulle vertel watter belangrike rol hulle in die toekoms van die instelling speel. “Almal het ʼn naamplaatjie gedra met sy of haar studierigting daarby. Ons as dosente sien dikwels net name op ʼn klaslys en hoor nou en dan ʼn stem in die klas, so ek het dit geniet om ʼn gesig by die naam te sit en ook te gesels.”

Prettige foto’s met kostuums het vir groot vermaak gesorg, terwyl die eet- en drinkgoed en musiek ʼn ontspanne en gesellige atmosfeer geskep het.

Runé sê dat die beste deel van die geleentheid was om te sien hoe baie gees die studente het, en hoe gretig hulle is om mekaar en die dosente te leer ken. Stoop beaam dit: “Die studente se toewyding en betrokkenheid het my regtig beïndruk.”

Hy verduidelik dat dié studentekuiers goud werd is, aangesien klasse in die aand gedraf word en daar nie baie tyd vir interaksie tussen studente in klastyd is nie. “Dis die ideale geleentheid vir studente om mekaar te leer ken en vriendskappe te bou. Groepe is ook baie waardevol wanneer dit by studies kom.”

Runé het baie positiewe terugvoer ontvang van die studente wat die aand bygewoon het. Sy sê dat die studente wat nie daar was nie die kans gemis het om baie nuwe mense wat dieselfde belangstellings deel te ontmoet, en om deel te voel van die instansie waarby hul studeer.