Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia bied ‘n kwaliteit leerervaring vir jonk én oud

Gepubliseer op: 17 Maart 2017

‘n Mens is nooit te oud of te jonk om te studeer nie. Dít is wat Akademia se oudste en jongste studente – met 54 jaar ouderdomsverskil tussen hulle – vas glo en ook uitleef.

Oom Coenie Groenewald is nou 72 jaar oud en het vanjaar vir die Gevorderde Diploma in Projekbestuur ingeskryf. Hy loop klas by Akademia se Centurion-studiesentrum. John-Martin O’Connell is 18 jaar oud en het verlede jaar by Hoërskool Montana gematrikuleer. Omdat hy baie geïnteresseerd is in die bedrywighede van ‘n besigheid, het hy vir die BCom Ondernemingsbestuur-graad ingeskryf en loop hy klas by die studiesentrum in Pretoria se Moot.

Oom Coenie is in Pietermaritzburg gebore en het in 1961 by die tegniese hoërskool op die dorp gematrikuleer. Hy het in 1979 ‘n Nasionale Tegniese Diploma (NTD) verwerf en as tekenaar gewerk. Oor vyf dekades heen het hy die beroep van sinjalering beoefen, eers as tekenaar van sinjaleringstelsels vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë en later in die ingenieursafdeling.

Ná sy vrou se afsterwe in 1999, het hy hom daaraan gewy om stelsels te ontwerp wat botsings by treinaansluitingspunte te vermy. In 2001 het hierdie kundigheid hom ‘n pos in Engeland besorg, waar hy tot 2008 gewerk het. Sedert sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as senior sinjaalingenieur vir ‘n Britse maatskappy.

Wat het hom laat besluit om nou vir die Gevorderde Diploma in Projekbestuur in te skryf? Volgens oom Coenie het hy vir baie jare ‘n droom om satellietstelsels aan te wend om treine te beheer. Hy het die moontlikheid reeds ondersoek en in 2005 prinsipe wêreldwyd daarvoor gepatenteer.

Dís ook waarom hy vir Akademia se Gevorderde Diploma in Projekbestuur ingeskryf het: “My droom is nou om befondsing te kry om byvoorbeeld Kaapstad se verkeersprobleme op te los, deur ‘n kringroete daar tot stand te bring wat die treine met hierdie metode kan beheer. Ek het reeds ‘n paar baie kundiges hier in Suid-Afrika wat sal meewerk om dit ‘n realiteit te maak. Ek hoop om dan self die projekbestuur te onderneem.”

Oom Coenie vind hom tuis in Akademia omdat hy in Afrikaans kan studeer en saam met eendersdenkendes kan werk. “Ek geniet die leerervaring baie. My familie en vriende dink natuurlik dat ek sweerlik nie meer al my varkies op hok het nie, maar ek voel dat jy nooit, tot jy doodgaan, jou talente wat ons Vader ons gegee het, moet begrawe nie.”[pullquote]“Jy leef jou lewe, nie hulle joune nie.” – John-Martin[/pullquote]

John-Martin het Akademia gekies omdat die instelling hom in Afrikaans bemagtig en ook omdat hy nauurs kan studeer terwyl hy voltyds werk. Sy plan met die kwalifikasie is om ‘n onderneming te bestuur of ‘n entrepreneur te word. Sy raad aan voornemende studente is om te studeer wat jý wil studeer, nie wat ander mense sê jy moet studeer nie. “Jy leef jou lewe, nie hulle joune nie.”

Oom Coenie se raad aan voornemende studente, oud of jong, is “go for it”. “Onthou, spiere wat nie werk nie, vergaan, of word ten minste baie, baie swak. Net so is ons brein ook maar net ‘n spier wat oefening moet kry.”